HULLE – Kyk ’n Biekie

  • 0

Mei 2011 vertrek Johan Oberholzer en Wilmaré Rautenbach op reis om Afrikaanse popmusiek verewig te verander. Veertien maande later stel dié duo, genaamd Hulle, ’n suksesvolle debuut album deur SONYMUSIC vry – nou staan hulle op die punt om hul musiekvisie op televisie te ontplooi met ’n realiteid en leefstyl reeks op KykNET bestaande uit 13 episodes getiteld, ‘Kyk ’n Biekie’.

Vanaf 7 August om 10pm word kykNET kykers vir 13 weke genooi om saam met HULLE agter die skerms te gaan kuier; van ’n beskeie begin regdeur tot die hoogtes wat hierdie twee talentvolle kunsteraars onlangs bereik het met hul debuutalbum - HULLE. “Dit gaan oor die pret van twee vriende,” verduidelik Wilmare. “Toe ons in Mei 2011 hierdie album begin opneem het, het ons besluit om die proses te verfilm met die voorneme, om eenvoudig grepe op YouTube te plaas vir aanhangers om te geniet.” Sedertdien het die aanvanklike idee gegroei tot ’n volslae televisieproduksie wat so vermaaklik en innemend is soos Hulle se 14-snit album.

Hul eerste radio ‘single’ “Laaste Asem”, het tot oombliklike bekendheid gelei vir die Kaapse tweestuk – en daarmee saam, sterk radio-ondersteuning vir die aansteeklike koel versameling van oorspronklike materiaal.

Hierdie twee vriende en medemusikante deel ’n lang en kleurvolle verlede, en wat Kyk ’n Biekie regkry is om die wederkeurige liefde en respek vir mekaar se talent uit te beeld. “HULLE’ is liefdeswerk,” sê Rautenbach. “Kyk ’n Biekie’ maak dit duidelik dat die chemiese reaksie tussen ons twee ‘HULLE’ laat werk. Die program maak ons wêreld vir aanhangers oop en help om die kreatiewe siklus te voltooi.”

Kyk ’n Biekie is opgeneem op ’n streng begroting en onder streng produksiebestuur van Rautenbach. Oberholzer het elke aflewering (vernoem na ’n snit van die album) geneem en bykomende lae daarom gebou met ’n komplementêre klankbaan. “Ons het ook met redakteurs gewerk wat wonderlike resultate uit ons medewerkende pogings vervaardig het,” verduidelik Rautenbach. “Jy sal regtig agterkom wat my en  Johan laat ‘tiek’. Dis moeilik om nie bevooroordeeld te wees nie want ons verskyn self daarin, maar die reeks komplementeer werklik die algehele proses van wat ons geskep het en maak dit lewendig.”

Voor produksie in volle swang was, het Johan & Wilmare gevind dat sonder werklike beplanning daar reeds genoeg materiaal was vir nege volle episodes. “As ’n nuwe groep het ons geweet ons sal nog groei, en om dit wat ons agter die skerms doen te dokumenteer het na ’n goeie geleentheid gelyk om interessante kykgenot aan die publiek te bring . Johan en Wilmare het weer ’n konneksie gemaak na ’n lang breek, so om te kan herleef hoe Hulle gebore is en gegroei het is kosbaar.”

Met ’n kombinasie van tuisgemaakte en professionele beeldmateriaal speel Kyk ’n Biekie af soos dit alle goeie televisie betaam. Lekker leefstyl, hoogte- en laagtepunte, beproewings, laat nagte en wonderlik vervullende oomblikke – alles soomloos saamgeknoop om ’n sy van beide begaafdes te onthul wat nog nooit vantevore gesien of gehoor is soos in hierdie reeks nie.

“Die feit dat ons ons hele skryf- en opneemproses dokumenteer, het ons gedwing om nou en dan ook buite die studio te moes beweeg. “Ons het ons terugkeer na Namibië verfilm, na die plekke waar Johan en Wilmare ontmoet en die eerste keer saam opgetree het. Jy sal ook grepe sien waar ons in areas soos Barrydale in die Weskaap bekende plekke soos Ronnie se Sex Shop en ander fassinerende klein plekkes besoek. Baie oomblikke soos hierdie het ’n integrale rol in die maak van ons debuutalbum gespeel.”

Rautenbach en Oberholzer is albei nuuskierig om te sien hoe Kyk ’n Biekie ontvang sal word as byvoeging tot hulle musikale reis. “Toe ons begin het, het ons niks gehad om te verloor nie,” merk Rautenbach op. “Nou dat ons meer gevestig is, is dit nogal senutergend om toe te kyk terwyl hierdie deel van die proses hopelik ook sy merk maak.”

As dit kom by wat Hulle volgende in die mou voer, is Rautenbach vinnig om uit te wys dat sy en Oberholzer alreeds daaroor praat om hulle musiek op ’n toer na ‘klein dorpies’ reg deur die land te neem. “Ons sal graag ’n reeks klein streekstoere vir die volgende ruk wil doen,” sluit sy af. “Die gedagte om ons pad deur Suid-Afrika oop te speel tot ons soveel klein dorpies as moontlik gedek het, is opwindend!” Met nog ’n hoofstuk alreeds in wording, sal HULLE verseker ’n videokamera of twee inpak..
https://www.dropbox.com/sh/s6wwzyneaibdqzr/IqT-BobUre


Sony Music Entertainment Africa (PTY) Ltd (Media Navrae): 011 274 5000
liza.kleynhans@sonymusic.com / albertus.kotze@sonymusic.com

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top