Rooi en wit baniere, pamflette, T-hemde. Die vergaderplek is ’n stampvol ou boekwinkel skuins agter die parlement. Onder die teenwoordiges is ’n minister, ’n oudminister wie se afdanking in polemiek gehul is, ’n professor in grondwetreg, ’n imam, ’n verteenwoordiger van Cosatu en een van die Menseregtekommissie, asook ’n spotprent-tekenaar wat tans met twee aanklagte deur die President te kampe het. Soos wat die eerste spreker agter die podium inskuif, volg ’n geskarrel om die SABC, e-TV en ander uitsaaiers se mikrofone te skuif. En nog joernaliste met opgerolde notaboekies, bandopnemers en swaar kameras peul om die pilare en by die deure uit. Dit ruik soos revolusie.
Die geleentheid is die Right2Know-protesbyeenkoms teen die regering se voorgestelde Beskerming van Inligting-wetsontwerp wat binnekort, op 24 Junie, goedgekeur kan word.
Judith February, hoof van die afdeling politiese monitering van die Onafhanklike Demokratiese Vereniging van Suid-Afrika (IDASA ) lei die gesprek: “Ons wil beklemtoon dat hierdie wetsontwerp nie net ’n impak op die media sal hê nie, maar dat dit inligting van gewone burgers gaan weerhou, inligting oor korrupsie in hul eie land en inligting oor hul eie sosio-ekonomiese regte.”
*
Hier lê die probleem en die rede waarom die sogenaamde Secrecy Bill dit sover reggekry het om glibberig deur die hekke van die goedkeuringsprosedures te gly.
Die media skryf al die afgelope jaar aggressief oor die voorgestelde Beskerming van Inligting-wetsontwerp, maar dit kom voor asof die publiek anderkant toe kyk. Want die algemene leser is moeg om die frases “op die lappe gekom”, “ontbloot” of “aan die lig gekom” in inleidings te lees. Die algemene leser kan nie die sensasionele geheimverklapping waarop verkoopsyfers floreer, goedkeur nie. Die gemiddelde persoon voel ongemaklik oor die bloeddorstigheid waarmee “eksklusiewe” stories oopgevlek word. En wanneer hulle lees dat die regering ’n wetsontwerp voorstel wat op privaatheid in die media toegespits is, klink dit glad nie soos die smorende snoer soos wat dit deur die media beskryf word nie. In die land met die beste menseregte-stelsel ter wêreld sal die publieke stem as geheel tog nooit stilgemaak word nie? Sal dit?
Ons eie president skilder ’n prentjie van die media wat soos laerskoolkinders stories aandra wanneer hulle verslaggee oor hierdie wetsontwerp. En soms voel die publiek dat dit dalk nie so ‘n slegte ding sal wees as die kinders nou en dan oor die vingers geraps word vir hul verlustiging in ander se weemoed nie.
Dis dalk waarop die regering reken, want skielik is 24 Junie op ons voorstoep met ’n slot.
*
Hoekom beweer imam Rashied Omar dan dan by die Right2Know-geleentheid: “Die wetsontwerp bedreig nie die lewering van spraak nie maar die lewering van dienste”?
Prakashnee Govender van Cosatu sê ook: “Die Beskerming van Inligting-wetsontwerp het ’n invloed op alle ander regte. Dis nie ’n wetsontwerp vir die media nie.”
“Mense wil sien en wil weet wat gebeur, wie vind baat, hoekom die pryse van kos styg, wanneer kinders in die hospitale sterf, hoekom begrotingsaanpassings in die onderwys- en gesondheidsorg nie reflekteer nie, watter beleid in plek is wat veroorsaak dat hulle hulle werke verloor,” sê Pregs Govender van die Menseregtekommissie. “Suid-Afrikaanse mense wil antwoorde hê wat nie met die simptome verband hou nie, maar met die oorsaak.”
En dit is juis hierdie inligting wat mense wil weet wat staatsgeheime gaan word sodra die wetsontwerp toegepas word.
“Het ons nuwe demokrasie nie juis die verskuiwing gemaak vanaf ’n kultuur van geheimhouding na ’n kultuur van deursigtigheid en toerekenbaarheid nie?” vra Pregs Govender. “Die fundamentele skuif waarvoor Albertina Sisulu en ander geveg het, was weg van die tyd van staatsgeheime en die blatante disrespek van burgers. Ons kan nie ’n terugskuif duld in die demokratiese Suid-Afrika nie.”
Volgens Pierre de Vos, professor in grondwetreg aan die Universiteit van Kaapstad, is die wetsontwerp heeltemal ongrondwetlik: “Ek het die Staatsregsadviseur ’n jaar van sy salaris gewed dat die wetsontwerp ongrondwetlik is en ek bly daarby. Die grondwet stel dat elkeen ’n reg het op uitdrukking en toegang tot inligting. Hierdie regte lê in die hart van ’n demokrasie. Dis onmoontlik om besluite te neem oor mens se politieke oortuiging of vir wie mens wil stem sonder die vrye vloei van inligting.
“Dit rig nie net skade aan mens se demokratiese of politiese regte nie, dis ook nie goed vir menswaardigheid nie. Wie wil nou hê die minister van staatsveiligheid moet vir mens besluit watter dinge jy mag weet en watter dinge nie? Dit vat aan mens se waardigheid.”
Die sogenaamde toilet-verslag wat vir die publiek noodsaaklik belangrik en relevant was in terme van die afgelope verkiesing, sou byvoorbeeld onder die wetsontwerp maklik geklassifiseer kon word as “nie in die belang van staatsveiligheid nie”. Is die bekendmaking van sulke inligting dan nie in die openbare belang nie?
*
Waaroor is die sprekers bekommerd?
February, namens IDASA, spel dit uit: “Ons is bekommerd oor die tekort aan ’n onafhanklike moderator, die konsentrasie van mag. Ons dink die breë definisie van die term nasionale belang sal ministers en ander in magsposisies toelaat om dit aan te pas vir misbruik. Waardevolle inligting gaan deur die uitgerekte goedkeuringsproses moet gaan voordat dit beskikbaar gestel kan word. Die staat sal toegang hê tot bronne wat aan almal beskikbaar moet wees; sake waar die interne struktuur gefaal het, sal nie deur die publiek bespreek mag word nie. Die verwysings na die Nasionale Sleutelpuntwet van 1982 is vir ons ’n groot probleem.”
Die fondasie waarop die wetsontwerp gebaseer is, dat geheimhouding bestaan om die demokrasie te beskerm, is heeltemal foutief.
“Dit wat my spesifiek pla daarvan,” sê prof De Vos, “is wie gaan besluit of inligting geheim gehou behoort te word of nie?”
“Inligting sal deur enige staatsorgaan as geheim geklassifiseer kan word – hiermee impliseer dit duisende organe, onder andere ook die Natalse Haaieraad en alle universiteite. Verbeel jou as ’n universiteit besluit dat inligting oor akademiese prestasie, of watter kriteria universiteitstoelating bepaal, geheim gehou moet word? Moet hierdie organe nou besluit wat is in die belang van staatsveiligheid? ”
Watter inligting kan dan geheim gehou word?
“Geheime dokumente kan as sodanig geklassifiseer word indien een van bogenoemde organe dit in die belang van staatsveiligheid ag,” verduidelik De Vos. “Maar die definisie van staatsveiligheid is in terme van hierdie wetsontwerp so breed dat enige verskoning sal deug.”
Hoe sal inligting wat as geheim geklassifiseer is, bekom word?
De Vos noem dat die wetsontwerp wel ruimte laat daarvoor dat inligting nie oorgeklassifiseer moet word om korrupsie of onbevoegdheid weg te steek nie.
“Maar wie besluit wanneer inligting korrupsie wegsteek of dalk net in die belang van landsveiligheid lê? As mens die besluit om ’n sekere dokument as geheim te verklaar wil uitdaag, moet jy dit in die hof doen en daarna kan jy dit by die minister van staatsveiligheid appelleer. Maar as daar bevind word dat jy in besit is van so ‘n dokument is, kan jy vir drie jaar tronk toe gaan. Dit laat mens met die dilemma: Hoe bevraagteken jy die geheimhouding van ’n dokument waarvan die bestaan ’n geheim is? Hoe beweer jy dat iets bestaan sonder om te erken dat jy toegang daartoe het?”
Govender voer aan: “Die klem in die wetsontwerp, na aanleiding van onlangse besprekings, verskuif van nasionale belang na nasionale veiligheid. Maar die gebrek aan bespreking van die definisies in die wetsontwerp maak nog steeds die omvang van die wetsontwerp te groot en los.”
Maar vir haar en Cosatu is die bedreiging van fluitjieblasers se regte die grootste bekommernis.
“Die wetsontwerp muilband fluitjieblasers. Unies soos Cosatu moedig fluitjieblasers aan in die breër belang van die publiek omdat onreëlmatighede en korrupsie dikwels net opgetel kan word deur werkers wat dit in hul eie werkplek bespeur. Hulle word aangemoedig om op te staan en dit te sê, maar nou kan hulle daarvoor gestraf word.”
Wanneer daar gehaas word om ’n wet van geheimhouding toe te pas, moet mens vermoed dat die regering iets het wat hulle bitter graag wil wegsteek. Prof De Vos: “Die redes waarom hierdie wetsontwerp, volgens die regering, voorgestel word, strook nie in verhouding met die impak wat dit sal hê nie. Iets klop nie.”
Dan kom die vraag: Is daardie iets – dalk die waarheid agter die ANC se wapentransaksie-skandaal – wat later vanjaar ondersoek gaan word?
• Teken die petisie hier.

