HULLE by die Boer Restaurant Teater

  • 0

HULLE
By DIE BOER RESTAURANT TEATER- DURBANVILLE
23 JAN OM 20:30
KOSTE: R90-00
BESPREEK: 021 979 1911/ 083 406 0111

Wie is HULLE?

Die plaaslike musieklandskap is op die randjie van ’n revolusie, te danke aan Johan Oberholzer and Wilmaré Rautenbach, twee ongelooflike sanger/liedjieskrywers. Saam is hulle HULLE, die nuwe gesig van oorspronklike Afrikaanse pop, wat met net een enkelspeler al klaar nuwe lewe in trefferlyste regoor die land geblaas het.

Die betrokke liedjie is ‘Laaste Asem’ – en sedert dit vroeg in Julie 2011 op radio bekendgestel is, is die duo, wat hulself tans in Kaapstad vestig, druk aan die werk aan die afronding van ’n albumvol briljante snitte wat daardie eerste uitreiking se liriese krag en uitstekende produksiekwaliteit sal bevestig en ondersteun.

Elke groep of kunstenaar het ’n storie om te vertel oor hulle reis na die punt waar ons hulle die eerste keer ontmoet. HULLE is geen uitsondering nie. Neem twee nuuskierge, ontsettend ambisieuse en duidelik begaafde jong individue wie se paadjies die eerste keer op laerskool kruis – en die vonke spat. Fast-forward na 2003 in Walvisbaai, waar hulle wedersydse passie vir mekaar se kreatiewe talent lei tot ’n reeks gesamentlike lewendige optredes wat blitsig op ‘n weeklike basis uitverkoop.

Die skeppende aantrekkingskrag tussen die twee kunstenaars moes daarna eers ’n bietjie eenkant staan en filtreer terwyl albei hulle solo-ambisies navolg. In Johan se geval was dit die opneem van ’n debuut-solo-album in Johannesburg met Just Music. Aan die ander kant het Wilmaré haar as ’n produksiebestuurder in Kaapstad toegewy aan haar liefde vir filmwerk. Maar een ding wat sy nie kon ignoreer nie was dat haar sangtalent van die ouderdom van 13 af ’n wyer gehoor ver verby haar Namibiese wortels verdien het. Of sy nou by ’n skoonheidskompetisie opgetree het of standards met oorgawe in nagklubs vertolk het, dit was net ’n kwessie van tyd voor sy op ’n verskeidenheid groter verhoë verskyn. ’n Jaar op die pad met van die grootste name in popmusiek het vir Wilmaré bevestig dat musiek haar eerste liefde was. Die verlore stuk van die legkaart, egter, was die perfekte sangmaat om haar ware potensiaal te ontsluit.

As ’n musiekregisseur het Johan sy tande geslyp het deur aanvanklik met behulp van Google-soektogte aan die gang te kom, maar hy het gou die meng-eenheid [mixing desk] bemeester en weldra die een na die ander wêreld-klas trefferproduksie vir die room van plaaslike kunstenaars die lig laat sien. Toe hy sy roeping begin verwesenlik om plaaslike kwaliteitstandaarde tot nuwe hoogtes te skuif, het groter vennootskappe gelok – soos die lopie treffer-enkelspelers wat Johan, in samewerking met Select Music, vir ikone soos Kurt Darren en Laurika Rauch geskryf het. Volgende kom die geleentheid om ’n deurslaggewende band met SONY Music onder die naam Nostalgie Musiek te smee. Die doelwit: om musiek te vind – of te maak – wat Afrikaanse popmusiek soos ons dit ken op sy kop te keer.

Dan, in April 2011, bel Johan vir Wilmaré, sy Walvisbaai sangmaat van die ou dae. Dit was die spreekwoordelike ‘Eureka!’ oomblik toe hulle albei besef die tyd is uiteindelik ryp om hulle wedersydse bewondering en respek vir mekaar op band te verewig. ‘Ek was nog altyd versot op haar, van die eerste oogopslag toe ek 13 was,’ bieg Johan. ‘Ek het Wilmaré destyds aanbid en nou kry ek haar ware bekwaamheid selfs nog meer lief. Die feit dat dit ons meer as ’n dekade geneem het om regtig ons gesamentlike stem te vind is niks meer as merkwaardig nie.’

‘Toe Johan my uit die bloute bel en my vertel van sy planne vir ’n duo, wat my sou insluit, was ek uit die staanspoor oortuig,’ onthou Wilmaré. ‘Ek hoef nie twee keer daaroor te gedink het nie, veral omdat ek weet presies hoe goed ons in die verlede saamgewerk het. Johan verstaan musiek anders as enigiemand wat ek nog ooit ontmoet het so as hy my saamnooi, sê ek oukei!’

...Vervolg.

Met ’n nuwe ooreenkoms met SONY Music in die sak en nie veel meer nie, afgesien van geloof in mekaar se vermoë om ’n volgepakte saal se asems weg te slaan, het Johan and Wilmaré die grondslag gelê van die projek wat vandag bekendstaan as HULLE.
‘Ek het geweet daar was ’n vakuum wat gevul moet word,’ vertel Johan. ‘Ek was vasberade om twee sangers te vind wat mekaar perfek komplementeer – ’n rare vonds.’ Ironies genoeg was dit waarna hy so verbete gesoek het al die tyd reg onder sy neus. ‘Toe ek en Wilmaré weer bymekaar aansluit, het ek geweet ons gaan gatskop.’

Wilmaré stem saam. ‘Ons het ’n geskiedenis gedeel maar wat die knoop vir my deurgehaak het was die feit dat ons musikaal saam grootgeword het – en ons gedeelde voorliefde vir sang is die fondament van waarop alles wat HULLE skep, gebou word.’ Hulle gemeenskaplike begrip van wat nou nodig is, is wat hierdie twee individue saambring. ‘Ons wil hê popmusiek moet die beste wees wat dit ooit kan wees,’ dring Johan aan. ‘HULLE gaan absoluut oor lewendige instrumentasie en kwaliteitproduksie – wat tot nou toe pynlik skaars was.’
Wat lirieke betref, is HULLE as’t ware ’n viering van die regte lewe. ‘So baie van die liedjies op hierdie album is gebasseer op geskrifte oor gedeelde ondervindings,’ verduidelik Wilmaré. ‘Elke snit is ’n storie en sommige kan as kontroversieel beskou word, miskien omdat die kwessies waaroor ons sing aktuele sake is wat vir baie mense die werklikheid is. Die sagte plekkie wat aanhangers mag hê vir “Laaste Asem” vloei uit die feit dat dit gaan oor dinge wat saakmaak – dis nie net ’n melodie saamgeflans bloot om pop se onthalwe nie. Dit het waarlik iets te sê wat in mense aanklank vind.’

Met ’n beoogde 12 snitte, inleidings en vullers uitgesluit, is HULLE se debuut-album, wat in September 2011 op die rakke verwag word, tans op pad Swede toe vir finale meng en beheer [mastering]. ‘The Panic Room, ’n beroemde Sweedse maatskappy, sal die album “fine-tune”,’ vertel Johan. ‘HULLE se musiek word beïnvloed deur ’n ongewone huwelik tussen Ierse en Sweedse tradisie; saam is die twee ’n wenresep om mense op hulle voete te kry. Daar is eenvoudig nie ’n soortgelyke klank daarbuite nie – en dis vir ons opwindend op ’n verskeidenheid vlakke.’

Omdat HULLE gretig is om gehore se aptyt aan te wakker, het die tweestuk besluit om die vervaardiging van hul debuut-album in ’n dokumentêr vas te lê – iets wat TV-kykers voor die einde van die jaar oor 12 episodes sal kan ‘verteer’. ‘HULLE is so vol persoonlikheid,’ sê Wilmaré. “Met my filmproduksie-agtergrond was dit voordiehandliggend dat ons ineengestrengelde samekoms gedokumenteer moet word om die storie van HULLE se begin beter te kan vertel.’

‘Ons geniet ons gate uit,’ sluit Johan af. ‘Ons is vriende en mekaar se grootste aanhangers, en ons is vasbeslote om nuwe musiek te bied wat elkeen wat dit hoor sal verras en vermaak.’ Met jare se lewenservaring en ondervinding in die industrie, skep hierdie twee nou ’n klank wat beloof om een van die mees fenominale uitreikings van die jaar te wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top