Hulde aan 'n komplekse mens

  • 1

Op pad terug van die jaarberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde op Gordonsbaai het ek en Charles Malan by die Lord Milner-hotel op Matjiesfontein in die Karoo oorgebly en geëet. Die hotel is ryk aan geskiedenis. En dis hier waar NP Van Wyk Louw die eerste prikkel vir die skryf van Raka gekry het toe hy as kind na die trofeë van wilde diere teen die mure gekyk het.

Daar is dié aand baie rooiwyn bestel en ons het gesels oor die afgelope beraad, waar ek vir die eerste keer met belangrike figure in die Afrikaanse literatuur kennis gemaak het. Dalene Matthee het toe pas Kringe in ’n bos (1984) voltooi, André P Brink het uit die vuis ’n indrukwekkende toespraak oor die vertaling van sy werk gelewer, Hein Willemse het die konsep “swart Afrikaanse skrywer” aan ’n geskokte groep skrywers voorgehou en Etienne Leroux was iewers met sy sonbril, buidelsakkkie en pakkie sigarette. Ek het vir die RGN se Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) opnames van al die toesprake gemaak en Charles sien funksioneer.

Tydens die reis van Pretoria af Gordonsbaai toe, en veral tydens die gesprek dié aand op Matjiesfontein, het ek Charles nader leer ken. Hy het die heeltyd standpunte oor kwessies in die literatuur en figure in die literêre wêreld ingeneem. Heelparty skrywers en akademici het ook standpunt teen hom ingeneem en duidelik te kenne gegee dat hulle nie erg het aan sy en SENSAL se rol as “koördineerder van die Suid-Afrikaanse literatuur” nie. Dié aand het ek die intensiteit van Charles se voorkeur en afkeer ervaar; en dit geniet wanneer hy uitbundig lag. Daar was ook sy passie vir die literatuur. Charles se jovialiteit sou ek meermale daarna ervaar wanneer die atmosfeer reg was (heel dikwels was dit tydens skrywersbyeenkomste).

Gedurende die reis het Charles baie oor Leroux vertel. Hy was immers sedert die tweede helfte van die 1970’s een van die voorste kenners van Leroux se werk. Hy het tydens die reis verby Bloemfontein, Beaufort-Wes en Laingsburg vertel hoe hy en Leroux by geleentheid saam met die smous gery het oor wie in Onse Hymie geskryf word. Tien kilometer buite Matjiesfontein het Charles my ook die graf van generaal-majoor Andy Wauchape gaan wys wat ’n groot rol in Leroux se Magersfontein, o Magersfontein speel. Charles was ’n gereelde besoeker op Leroux se plaas Ja-Nee buite Koffiefontein en hy het sy gesprekke met talle staaltjies oor Leroux aangevul.

Tydens daardie reis is ek pas as ’n navorser by SENSAL aangestel en Charles was reeds ’n bekende figuur in die Afrikaanse literêre wêreld. Hy was SENSAL se eerste hoof en het met groot entoesiasme en ambisie navorsers aangestel en medewerkers van buite gebrei om oor die Suid-Afrikaanse letterkunde navorsing te doen.

Charles was goed belese en ingestel op literatuurteorie en het die Suid-Afrikaanse literatuur as’t ware oornag op die spoor van die sogenaamde “nuwe paradigma” probeer herrangeer. Dit het tot heelwat weerstand gelei by letterkundiges wat nog grootliks op ’n teksgerigte benadering ingestel was. Charles het nie net ter ondersteuning van sy missie self in hierdie jare talle publikasies die lig laat sien nie, maar ook aktief meegewerk aan die stimulering van letterkundenavorsing, die stigting van onder meer die Afrikaanse Letterkundevereniging en die totstandkoming van vaktydskrifte soos Tydskrif vir Literatuurwetenskap en Stilet, wat albei daartoe bygedra het om die literêre landskap in Suid-Afrika te verander en nuwe rigting te gee.

As stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde het Charles aktief standpunt ingeneem teen sensuur en ook navorsingsprojekte (onder meer oor John Miles se verbode Donderdag of Woensdag) onderneem waarin hy ’n ingeligte standpunt teen sensuur ingeneem het. Deur gedugte navorsers soos Martjie Bosman, Francis Galloway, HC Groenewald en JC Kannemeyer aan te stel, het hy ’n formidabele span om hom saamgetrek. Een van die winste van spannavorsing was die reeks literêre jaaroorsigte onder Francis Galloway wat die eerste helfte van die tagtigerjare op ’n onvergelyklike wyse gedokumenteer en toegelig het. Nog nooit vantevore en daarna is daar op so ’n gerigte wyse oor die Suid-Afrikaanse literatuur navorsing gedoen nie. In hierdie selfde tyd skryf Galloway haar Breyten Breytenbach as openbare figuur, met Charles as haar medepromotor.

Charles het sy navorsers help bewus maak van die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing en hoe belangrik dit is om die sosiale werklikheid in aanmerking te neem. As koördineerder van die projek oor tussengroepverhoudinge in die literatuur en samesteller van Ras en literatuur het hy ongetwyfeld daartoe bygedra om ’n Berlynse muur in die Suid-Afrikaanse samelewing af te breek en ’n aktiewe bydrae tot ’n sosiaal sensitiewe RGN te lewer. Om in daardie jare by SENSAL te kon werk was opwindend en vir ’n jong navorser die geleentheid om vinnig nuwe vaardighede te leer.

Uiteindelik het ek Charles as ’n uitmuntende strateeg, inisieerder van nuwe projekte en skrywer van rigtinggewende akademiese artikels en verslae ervaar. Dit het hom weliswaar ook die literatuur grootliks vaarwel laat toeroep ten guste van kultuurstudie, waarmee hy wisselende sukses behaal het. Hierdie koersaanpassing het ongelukkig ook tot die einde van SENSAL bygedra en groot konflik onder sy personeel veroorsaak. Vir bykans twee dekades daarna het Charles hom skaars gehou in die Afrikaanse literêre wêreld en selfs uitnodings van die hand gewys om verder enige bydrae oor Leroux te lewer.

Ek en Charles was nog tot in 2000 verbonde aan die RGN, maar het in verskillende dissiplines tereg gekom. Hoewel ons op dieselfde verdieping van die RGN-gebou gewerk het, het daar maande verbygegaan sonder dat ek hom in die gange raakgeloop het. Die joviale Charles wat ek tydens SENSAL se bestaan, en veral tydens skrywersgeleenthede, leer ken het, was immers ook iemand wat hom (dikwels met sy pyp) in sy kantoor kon terugtrek: daar waar hy nuwe strategieë bedink het om medewerkers by nuwe projekte te betrek. Die enkele kere wat my pad syne in daardie laaste jare gekruis het, het ons egter spontaan gesels en was die strydbyle van die verlede vergete.

Charles Malan is ongetwyfeld die kompleksste mens wat ek ooit geken het. Vandag eer ek hom daarvoor dat hy my (soos heelparty ander) die geleentheid gegee het om as navorser te ontwikkel. Ek is ook trots daarop om deel te gewees het van ’n SENSAL wat onder sy leiding veral die Afrikaanse literêre landskap onherroeplik verander het. Met sy Vrye Woord-inisiatief van die onlangse verlede het hy voortgegaan om tot die openbare gesprekvoering by te dra, en enkele weke voor sy dood het hy my naam by die ledelys gevoeg. In sy laaste verklaring aan die media het hy dit oor ’n omgewingskwessie gehad.

In die geheel gesien was dit ’n voorreg om Charles se pad te gekruis het en hy het ongetwyfeld tot my vorming as ’n navorser bygedra. Vir my is dit nie ’n geringe bydrae nie.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    estelle marais

    Pragtig gebalanseerde waardering vir Charles Malan as mens, kollega en literatuur -akademikus.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top