Huisvroue en die feminisme

  • 2

Bron: genieinablog.com (teks en illustrasie deur Richard Scarry)

Sonja Loots se Huisvroue gee my krampe en naarheid het op 19 Oktober 2014 in Rapport verskyn. Marike van der Watt lewer kommentaar.

’n Jaar gelede roep my man my en lees vir my voor uit Die Burger (2013) se insetsel oor wat 50 jaar gelede in die koerant verskyn het. Op 16 Mei 1963 skryf ene mev B van der Merwe uit Stellenbosch:

Ek besef daar is baie vroue wat alleen die broodwinners van hulle gesinne is, waar die mans bedlêend is, maar daar is ook baie wat buite werk net omdat hulle te lui is om hul huiswerk te doen en liewer heeldag agter ‘n lessenaar wil sit. Vir eersgenoemde groep haal ek my hoed af en sê: Hou moed! Daar is egter ander vroue wat as hulle saans tuis kom, net gaan aansit, klaar eet en dan terug sit en ‘n boek lees of bioskoop toe gaan. Sowat 90 persent van ons moordenaars, rowers, eendsterte en die langbroek-nooientjies kom uit goeie huise, maar hulle het nie van kleins af die toesig van ‘n moeder gehad nie. ‘n Harde dag se werk by die huis het nog niemand siek gemaak nie, maar die vroue wat nie hul huiswerk doen nie, kla altyd van oorgewig of moegheid.

My reaksie hierop was een van dankbaarheid dat dinge intussen baie verander het, want self wil ek ook liefs agter die lessenaar sit – ek floreer glad nie onder die sleurwerk van ’n huishouding nie. Hoe lief ek my man en kinders ook het, neem dit nie die behoefte weg om ook ’n ruimte te hê waarin ek myself kan uitleef nie. En, het ek gedink, omdat ek nie vyftig jaar gelede kinders moes grootmaak nie, is daar niemand wat oor my lewenskeuses gaan frons en briewe aan die koerant skryf nie. Met ons jongste vanjaar in graad 1, was ek besonder bly toe ek ook hierdie jaar die gelukkige okkupeerder van ’n kantoor by die universiteit kon word (al is dit deeltyds en kan ek skaars my huishulp se salaris daaruit dek). Dankbaar vir die emansipasie van die vrou …

Voor hierdie deeltydse pos was dit soms moeilik om mense te antwoord wat wou weet watter werk ek doen. Ja, tegnies was ek seker ’n “huisvrou”, maar ek het beslis nie ledige uurtjies by die huis verwyl of eers tyd gehad om saans die sepies te kyk wat Sonja Loots as skrywer vir my “tipe” opgedis het nie. Die stereotipering van huisvroue is, net soos bostaande stereotipering van werkende vroue van ’n halfeeu gelede, problematies en ewe lagwekkend.

Of Loots haar net swak uitgedruk het, ’n appeltjie wou skil met iemand wat haar te na gekom het, besig is met een of ander duistere sosiale eksperiment, of haar eie beroepsgerigtheid wou rasionaliseer, is ’n ope vraag. Dit is vreemd dat dieselfde persoon wat die afgelope naweek so oor huisvroue kon gal braak, die volgende te sê gehad het oor George Eliot se werk (Terblanche 2014):

George Elliot (bron: Wikipedia)

En dan is daar George Eliot se Middlemarch, wat my altyd troos as ek my ontstel oor die onbelangrikheid van my lewe en dié van die mense om my. Sy skryf oor die karakter Dorothea: “But the effect of her being on those around her was incalculably diffusive: for the growing good of the world is partly dependent on unhistoric acts; and that things are not so ill with you and me as they might have been, is half owing to the number who lived faithfully a hidden life, and rest in unvisited tombs.”

Dalk moes Loots eers weer hierdie aanhaling gaan lees het voor sy ’n vet swart kruis oor die bestaan van duisende vroue gaan trek het – vroue wat baie opgeoffer het vir ’n stil lewe sonder finansiële gewin of kwantifiseerbare prestasies. Vroue wat nié leef soos die handjievol Susantjie-Antjies of die Zumas of die desperate huisvroue met hulle kiste vol skoene nie.

Wat ek van feminisme verstaan, is dat dit aan ’n vrou die vryheid bied om self oor haar lewe te besluit – of sy kinders wil hê of nie, of sy ’n loopbaan wil volg of nie, of sy eers huisvrou wil wees en daarná ’n loopbaan wil bou of omgekeerd. Maar Sonja Loots se gewraakte skrywe het my met verbasing laat besef dat sekere vroue wat vandag uit die feministe se stryd voordeel trek, hulle vryheid as wapen gebruik téén vroue wat kies om die tradisionele rol te vervul.    

 


 

Die Burger. 2013. Party vroue sit liefs agter lessenaar. [Intyds]. Beskikbaar: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2013/05/16/SK/17/16-05_50JAAR.html. (2014, 20 Oktober)
Loots, S. 2014. Huisvroue gee my krampe en naarheid. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.netwerk24.com/stemme/2014-10-19-sonja-loots-huisvroue-gee-my-krampe-en-naarheid. (2014, 20 Oktober)
Terblanche, E. 2014. ATKV-Skrywersalbum: Sonja Loots (1972–). [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/Article/sonja-loots-1972. (2014, 20 Oktober)

  • 2

Kommentaar

  • Sonja Loots se kwetsende woorde het my ook laat wonder of sy net 'n reaksie wou uitlok. Sy kon nog veel verder gegaan het, opmerkings soos - sy lê op haar man se nek, of erger, sy's 'n "kept woman", geen ambisie behalwe om in die winkels te boer nie. Mens verwag egter 'n meer genuanseerde siening van 'n  knap skrywer en joernalis soos Sonja Loots. Dankie, Marike, vir jou weldeurdagte kommentaar.
  • Johannes Comestor

    Sonja Loots is onredbaar 'n los kanon. Moet nooit 'n ewewigtige, goed deurdinkte mening van haar verwag nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top