“Huiskerk en die nuwe boot” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Huiskerk en die nuwe boot
Nou uit die omgewing waar ek woonagtig is, word huiskerk nog sterk beoefen. Elke kerk is in wyke ingedeel. Die idee is dan dat elke wyk op sy eie by ’n private huis bymekaarkom vir ’n aand van boeke vat. Elke wyk het dan ook sy eie ouderling wat gewoonlik die diens lei. Nou hierdie gebeurtenis het regtig plaasgevind in die Worcester-omgewing.
Die ouderling oom Andries het sy wyk se lidmate laat weet dat daar die betrokke Woensdagaand ’n huiskerkdiens by sy huis gehou sal word. Oom Andries, of soos hy bekend gestaan het in sy wyk, broer Andries, was ’n statige man. Kort van postuur. Op die plaas of in die dorp kon jy hom altyd deur ’n ring trek. Sy kortmou safaripakke het veral aandag getrek met die lang kouse wat bo omgedop was. En daardie kouse het nog kousbande ook ingehad. Broer Andries het ’n groot, kaal voorkop gehad. Spierwit van elke dag ’n netjiese hoed dra, met so klein rooi veertjie teen die kant.
Die ouderlingsvrou, tannie Dorie, was ’n regte moedertjie. Almal van raad bedien, bobaas bakster en het die mooiste blomtuin in die buurt gehad.
Die aand van die huiskerk daag daar net drie ander gesinne op. Twee ouer pare en ’n jong getroude paar. Geen kinders was die aand by die diens nie. Die eetkamertafel is gelaai met die heerlikste eetgoedjies. Klein pasteie, hertzoggies, southappies, te veel om op te noem. Die beste teekoppies is uitgehaal. Die Royal Albert-stel staan statig op die hoek van die tafel, met die klein bordjies daarby. Broer Andries oortref hom met ’n kort kragtige boodskap en sluit af met ’n treffende gebed. Die vrouens staan nou op en help suster Dorie om die fyn wit gaasdoekie van die eetgoed af te haal. Die geluid van klinkende koppies vul die lug.
Die manne gaan sit eenkant bymekaar en gesels oor die gewone mandinge. Die wynprys, die weer en die nuwe parapleeg wat nou die WP-losskakel is. Soos wat dit goeie vroue betaam, word daar eerste vir hulle mans tee en broodjies aangebied. Die mans gaan sit by die eetkamertafel, terwyl die vrouens op die sitkamerstoele plaasneem en hulle bordjies op hulle skote balanseer. Voorwaar ’n tipiese, statige huiskerktoneel. Ná ’n ruk is die koppies leeg en suster Dorie staan op en vra of sy nog ’n bietjie tee vir die mans kan aanbied.
Nou die jongman se naam is Gielie. Ondeund is sy middelnaam. “Lewendige jongman” sou my oorlede ouma gesê het. Gielie was altyd reg met ’n plan en by danspartytjies die eerste en die laaste gas. Daar is eenkeer ’n klagte by die kerkraad ingedien oor Gielie se diakenpligte. Een van die lidmate het by die dominee gaan kla oor Gielie se huisbesoeke as hy kom kollekteer vir die maandelikse dankoffer. Die klaer het gevra of hy nie maar sy dankoffer persoonlik by die kerkkantoor kan afgee nie, want volgens hom gaan sy KWV brandewyn-kwota dit nie hou so lank Gielie kom kollekteer nie.
Dit was dan nou ook die einste Gielie wat ’n klip in die bos gooi toe suster Dorie vra of hulle nie nog tee wil hê nie. “Broer Andries, hoe lyk dit met ietsie sterkers?” vra hy so saggies onderdeur. “Ja,” sê die ander twee ooms, “dit sal darem nou aangenaam wees.” “Ag, moeder,” sê oom Andries, “los maar die tee vir ons, ek gaan sommer vir die manne ietsie ligs skink.” Die groot Imbuia-jonkmanskas se deure word nou oopgemaak. Sonder om te vra, skink oom Andries vir elkeen ’n stewige vyfjaar-brandewyn. Gou kombuis toe vir ys. Die ouer manne vat water by en Gielie kry ’n bietjie Coke by. Dit is kompleet of die atmosfeer nou verander het in die sitkamer. Dit is altyd moeilik om so ’n atmosfeer te beskryf.
Opgewonde en sommer lus vir die lewe, sou ek sê, is van die veranderinge. Die teekoppies word nou weggeskuif, terwyl koue “tee” met ys nou bedien word. Ná ’n tyd, toe die glase al so rukkie leeg staan, vra broer Andries of iemand nog iets wil gebruik. Soos die voorste linie in ’n drilpeloton, word al drie glase vorentoe gedruk. Daar word weer geskink, terwyl die vrouens so onderdeur loer. Die manne se gesels raak nou al harder en kort-kort lag iemand vir ’n sêding van Gielie. Nou ouderdomsgewys is al drie ooms karperde met die ouderdom van oom Andries. Almal het seuns op die plaas en is nog net gedeeltelik betrokke. Behalwe Gielie.
Toe broer Andries weer mik na die jonkmanskas, staan die vrouens op met hulle handsakke. ’n Teken dat dit nou tyd is om huiswaarts te keer. Gielie wat nie op sy bek geval is nie, staan ook op. “Ag, tannies, kan ek nie maar die ooms ’n bietjie later bring nie?” vra hy met sy soetste stemmetjie. Die twee ouer vroue kyk na mekaar met groot oë, terwyl Gielie se vrou net haar kop skud. Sy bied aan om die anties te vergesel mits hulle haar gaan aflaai. Teensinnig met hulle oë gerig op hulle mans, groet hulle en vertrek. Suster Dorie kom ook groet en sê sy gaan inkruip. Broer Andries kry net ’n kyk en nie soos gewoonlik ’n nagsoen op sy wang nie. Nou is die vier manne alleen. Broer Andries maak nog ’n rondte vol.
Ná nog ’n rondte is die gemoed baie stemmig. Gielie het nou ’n pak sigarette uit sy hempsak gehaal en een aangesteek. Oom Klaas sê hy sal ook een vat, terwyl hy sy hande koorsagtig vryf. Hy het nou al vyftien jaar terug opgehou rook. Oom Joep is so uitgelate, hy het tot ’n onder-die-belt grappie uit sy universiteitsdae vertel. Oom Klaas sit nou met ’n oopgeknoopte wit hemp soos ’n wafferse cowboy op die eetkamerstoel, wydsbeen bo-oor met sy arms op die rugleuning. Broer Andries se boonste knoop van die safaripak het ook losgekom en vertoon ’n bruingebrande V onder sy keel, terwyl ’n bos grys hare ook uitpeul.
Gielie vra om hom gou te verskoon, hy moet ’n draai loop. “Wag,” sê oom Andries, “kom ons gaan sommer by die garagedeur uit en gaan staan buite op die gras.” Al drie tou nou agter broer Andries aan tot in die motorhuis. Al drie steek vas. Hulle kyk verstom op na die groot wit boeg van die pragtigste skiboot. “En dié?” vra Gielie, terwyl al vier in gelid op die grasperk staan. Nee, verduidelik oom Andries, die boot staan nou al drie maande hier. Splinternuut. Elke naweek is daar net een of ander ding aan en hy kom net nie weg see toe nie. Die viermanskap het nou omgedraai en besigtig die boot van agter. Die motorhuis se ligte blink op die twee swart buiteboordmotors. Alles aan die boot blink. “Nee, hel, maar broer Andries sal ’n plan moet maak,” laat Gielie kopskuddend van hom hoor.
Terug aan tafel, met ’n nuwe rondte vol glase, praat die span nou net boot. Gielie was al eenkeer Robbeneiland toe met ’n boot, toe hulle daardie tyd teen die bewaarders ’n rugbywedstryd gaan speel het. Hy vertel dit was die wedstryd wat die meeste spelers wou speel. Gewoonlik het hulle gesukkel om vyftien spelers bymekaar te skraap. Maar voor daardie wedstryd daag daar maklik dertig spelers op. Die rede was die groot partytjie daarna. Drank was op die huis. Die kos was kreef, perlemoen en galjoen, soveel jy kan eet. Met komplimente van Robbeneiland se ryk seelewe. Wat natuurlik vir die gewone man op straat nie beskore was nie.
Die ander twee ooms was nog nooit op die see nie. Nog net op ’n kano bleshoenders gejag op Draaivlei. Broer Andries is egter ’n bekwame visserman en skipper. Gielie bly ’n paar tellings doodstil en staar veraf na die muur. “Broer Andries gaan mos gewoonlik Witsand toe, nè?” sê-vra hy. Die broer beaam dit, vir jare al. “En hoe lank ry ’n mens soontoe as jy ’n boot sleep?” “Ag, so twee en ’n half uur as die verkeer nie te erg is nie.” “Hoe laat is dit nou?” wil hy weet. Oom Joep kyk op sy armhorlosie en spring op. “Genade, manne, dis amper tweeuur in die oggend.” Almal is nou op hulle voete, behalwe Gielie. “Wag nou, wag nou,” paai hy. Ek het ’n plan.
Almal gaan sit en Gielie lê sy plan voor. Gielie sê hy dink hulle moet die boot nou gaan toets. Dis ’n sonde dat so ’n pragtige boot nog nie op die water was nie. “Ek het nog ’n doos sardyn en tjokka in die vrieskas,” sê broer Andries. “Ons laai net ’n kis met visgereedskap, vier stokke, die aas, daar gaan ons, man. As ons nou ry, is ons net voor vyf daar as die dag breek.” Daar is nou ’n vonkel in die ouer mans se oë. Sjoe, dit gaan lekker opwinding in hulle saai lewe wees.
Maar wat van die vrouens? Hulle sal ons nooit laat gaan nie. Dis weer Gielie met ’n bobaas plan. ’n Servet word nou nader getrek en voor broer Andries neergesit met ’n pen uit sy bosak. “Skryf broer nou vir die antie net ’n kort briefie. As sy later vanoggend wakker word, sal sy die brief sien en dan sommer ook die ander vrouens laat weet. Geen rede om nou slapende honde wakker te maak nie.”
Ná die brief geskryf is vorder dinge vinnig. Broer Andries se groot bakkie word uitgetrek en tot teenaan die boot gestoot. Nou dié van julle wat al met mense gewerk het wat niks van bote af weet nie, weet watter onbeholpe klomp dit kan wees. En dan nog senior burgers ook. Laat die boot se sleepwa nie bo-oor iemand gery het in die proses om die boot gehaak te kry nie, was net ’n bestiering. Soos stout kinders, sit oom Joep en Klaas agter in die bakkie. Die pakkie sigarette nou al in oom Klaas se wit hemp se bosak. Gielie bestuur en broer Andries wys rigting aan. Net voor hulle vertrek het Gielie darem kopgehou en ’n bottel Brandvlei-hanepootsoetwyn uit die kas gevat. Die bottel word nou in die bakkie omgestuur. “Dis sommer nou vir volgende maand se nagmaal ook,” giggel die broer.
Die pad vlieg vinnig verby. Robertson, Ashton en Swellendam. Die hanepootbottel rol nou soos ’n nuttelose kruik uit die Bybel agter in die bakkie rond. Daar is gelag en stories vertel. Al het ou Gielie ’n paar keer draai-draai oor die witstreep gery, kom hulle veilig Witsand binne.
Die dorpie is doodstil kwart voor vyf op ’n Donderdagoggend. Broer Andries beduie Gielie moet sommer heelbo by Skuitbaai stop. Hulle sit sommer die boot daar op die sand in. So gesê, so gedaan. Die bakkie word omgedraai en die boot tot op die rand van die water gestoot. Almal klim nou uit. Die oggendluggie is yskoud, maar niemand voel dit eintlik nie. Almal het mos nog ’n “binnebaadjie” aan. Niemand weet wat om te doen nie, behalwe broer Andries. “Kom help dat ek in die boot kom,” sê hy. Dis nou ’n geskarrel om die skipper te help.
Oom Joep loop in die donker teen die sleepwa se disselboom vas en gryp sy maermerrie vas. Die skipper staan nou hoog in die boot en kyk in die donkerte op sy bemanning af. Soos ’n hoenderhaan wat hoog op ’n mishoop staan en kraai, gee hy nou bevele uit die hoogte uit. Almal skarrel in die donker rond met net die bakkie se agterligte se lig. Soos drie spoke met hulle wit hemde, sweef hulle rondom die bakkie. Al die orders het die bemanning, wat niks van bootbesigheid weet nie, nou lelik deurmekaar. Die twee ooms vroetel nog gebukkend agter die bakkie om iets los te maak, toe begin Gielie al terugstoot. Met die genade van bo en ’n moerse wind van agter, spring die twee senior burgers net-net uit die pad. Die boot gly by hulle verby en begin dryf.
Gielie klim nou selfvoldaan uit die bakkie. “Dit was nou nie so moeilik nie,” sê hy, terwyl die boot in die skemerdonkerte dryf. Allerhande alarmpies lui nou op die boot soos broer Andries alles aanskakel. Nou vir die eerste keer sien die bemanning hulle is nie juis reg aangetrek vir die uitstappie nie. Die kerkskoene word nou uitgetrek en die sokkies binne-in geprop. Ná die broekspype opgerol is, lyk hulle maar komieklik. Dun wit beentjies steek onder uit. Ná ’n gesukkel is almal darem veilig op die boot. Gielie tot onder sy blaaie nat soos hy moes help.
Die dag breek helder rooi in die ooste. Breërivier lê soos ’n spieël voor die boot. Al twee motors loop nou. So sag, jy hoor hulle skaars. Die skipper is baie in sy noppies en kyk trots na sy ietwat verskrikte bemanning. Almal het nou helder oranje reddingsbaadjies aan. Tot bo toegeknoop. Die Bar is ’n sandbank tussen die rivier en die see. Vreeslike gevaarlike deurgang waar al menigte bote en skippers hulle moses teëgekom het. Maar vanoggend is dit plat met net ’n paar ligte deinings. Die skipper stuur die boot behendig deur tot in die groot see.
Broer Andries moet nou eers bieg. “Manne, ek kan nie juis lekker vêr sien nie, ek het net my leesbril hier by my.” Gielie stel die skipper gerus dat hy die vêr kyk sal behartig en dat broer Andries net op die boot moet fokus. Oom Andries kyk sy bemanning vir oulaas deur. “Almal moet vashou, ons gaan nou full speed ry,” blaf hy die order uit. Die windjie vat-vat so aan sy enigste klossies hare teen die kant van sy kop. Hy voel vars en vry.
“Manne,” sê hy, “’n mens moet lewe, jy moet elke dag aangryp en voluit lewe!” Met dit gesê, druk hy al twee versnellers vorentoe en gryp die stuurwiel behoorlik vas, dat die wit in sy kneukels wys. Maar in plaas van vorentoe skiet en bo-oor die deinings spring soos ’n hekkie-atleet, begin die hele boot net te bewe. Soos ’n hond wat op ’n koue wintersoggend in ’n yskoue dam geval het, so bewe die boot. Alles vibreer. Alles wat los lê, skuif of val af. Die bemanning moet klou vir alles wat werd is.
Broer Andries maak nou dadelik die enjins dood en lig hulle vêr bo die water uit. Gielie moet nou kyk of daar nie dalk iets in die skroewe beland het nie. Op sy maag, vêr uitgerek, rapporteer hy alles is skoon, geen fout by die skroewe nie. Weer moet almal hulle plekke inneem. Weer word die enjins oopgedruk en weer dieselfde resultaat. Die hele boot het die bewerasies. Die skipper het nou nie meer raad nie. Êrens met die motors se opsit het daar ’n fout gekom.
Net môre gaan die boot terug Kaap toe. So ploeter hulle nou maar aan. By ’n geskikte plek word nou anker gegooi. Die visgereedskap word nadergetrek. Broer Andries, met sy leesbril, en Gielie is al twee wat ordentlik kan naby sien om hoeke aan te sit en knope te maak. Oom Joep sny byna sy hele duim af toe hy ’n bevrore stuk sardyn probeer oopsny. Die hele wêreld is onder die bloed. Nêrens is ’n lap of verband nie. Gielie pluk sy wit hemp uit en draai die mou om die hand. Dit lyk of die bloeding darem onder beheer is. Oom Joep lyk nou soos ’n spietkop wat die verkeer reël met die een groot wit hemp gedraai oor sy hand.
’n Half-uitgebrande sigaret hang uit die hoek van oom Klaas se mond, terwyl hy vêr oor die see kyk. En toe brul hy soos ’n Kalaharileeu. Nie net een waarskubrul nie, maar ’n aanhoudende gerammel. Souttertjies en worsrolletjies dryf nou vrylik rondom die boot. Om te dink gisteraand was hulle nog veilig in ’n groot bak saam met hulle maats en vanoggend dryf hulle die hele Indiese Oseaan vol. Die son skyn nou met mening. Die gemoed op die boot is nou baie sleg. Niemand praat nie. Gisteraand se gif is nou besig om uit te trek. Almal is ook vreeslik dors. Maar op die nuwe boot is niks, net die reuk van glasvesel en petrol. En die reuke raak al sterker namate die dag vorder en hoe warmer dit word. Die sardyn is nou ontvries en ruik ook nou al meer visserig.
Rondom twaalfuur besluit die skipper genoeg is genoeg. Die boot se bemanning lyk nou meer na drenkelinge van ’n skip wat in ’n storm vergaan het. Nie eers een byt gekry die hele oggend nie. Die boot luier nou weer die rivier binne. Die seewater het broer Andries se klossies hare teen die kant van sy kop nou stokstyf gemaak. Die groot bles is nou helderrooi gebrand. Sy oë lyk reusagtig groot agter die vuil lense van sy leesbril. Oom Joep sit verwese agter tussen die enjins, sy groot wit hand op sy bors. Sy lippe is spierwit van die salpeter. ’n Groot stuk sardynderm hang oor sy bevlekte hemp. Oom Klaas lyk of sy Skepper hom nou enige oomblik kan kom haal. Ook sy mond is spierwit van dors en hy ruik asynsuur. Gielie se bolyf is nou so rooi gebrand, hy kan ’n trein stop. Sy wilde bos hare staan in alle windrigtings. Hy sit vooroor gebuk en hou sy kop vas.
Stadig kom hulle al nader waar die bakkie staan. Gielie staan nou voor op die boot se neus. Hy moet afspring om die sleepwa weer in te stoot. Stadig kom hulle nader. “Lyk my die gety het ingekom,” sê broer Andries. “Jy het te na aan die water gestop, man! Ons is vrek gelukkig net die sleepwa is onder water.” Stadig dryf hulle nader. Gielie is nou op sy knieë. Hy kyk verskrik om. “Broer Andries, daar is dan nie ’n sleepwa agter die bakkie nie!” Die skipper los nou die stuur en loer oor die kant. Wragtag, daar sit die sleepwa nog vasgeklou aan die boot soos ’n klein bobbejaantjie aan sy ma.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie