Huisie in die bos

  • 0

My huisie in die bos
is in Joburg.
Sneeuwitjie en die
dwergies woon
elders
en geen prins
kom ooit kuier.

Maar in die lente
swerm tarentale
kier-kierr-kierrr
by my hek
verby.

’n Gemmer-
kat van waar
maak hom
rek-stre-e-e-k
tuis
op my wit
tuinmuur.

’n Skilpadjie
swem een
somerse
stormdag
by my
sitkamervenster
verby.

’n Reënspinnekop
met sebrabene
hang skeef
aan my blou
slaapkamer
se wit gordyn.

’n Rot
wat pruime
en piesangs vreet,
trek in 
agter die pype
van my knus kombuis.

’n Akkedis
lê ougat
in die winterson
op my sitkamermat.

Hier bly ek, heks,
jaar in, jaar uit
alleen saam met my hele
dieretuin
wyl ek met woorde
bak en brou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top