Ek het drie maande gelede na Muizenberg getrek. Net oorkant die see. Ek kan die strand vanaf my slaapkamervenster sien. Dit voel lekker om “my slaapkamer” te sê, want dis die eerste keer dat ek my eie slaapkamer het. By my ouma en oupa se huis was daar altyd ander wat saam my ‘n kamer moes deel. Daardie huis was soos die salvation army. Die familie wie nie rigting gehad het nie of wat te rebels vir hul eie ouers se huise was het hulself knus kom maak daar. Nie dat ek nou daaroor wil kla nie. Dit bring goeie en slegte herinneringe terug.
Dit was nog altyd my droom om naby die see te woon. Ek was van kleins af behep met see toe gaan en Desembermaand met al sy see-uitstappies was my gunsteling. Veral toe my oupa nog gelewe het en hy ons sommer so deur die dag see toe kon vat en ons met bubble panties en onnies and all die water geniet het. Want swemkostuums was ‘n mors van geld.
Vanaand het ek en my hondjie, Rio, gaan stap na ‘n baie lange merksessie. My kop het muf gevoel na al die power opstelle wat gekriewel het van spel- en sinskonstruksiefoute. Rio was maar alte bly toe ek en hy straataf see se kant toe stap. Die wind het verskriklik gewaai, soveel so dat ek die fyn korreltjies seesand onder my tande kon kners. Ek was min gepla met die wind, en Rio ook. Sy swaaiende stert en huppelstappie het dit bewys. Ons twee was alleen op die strand. Wel, ek en hy en die seemeeus wat plek-plek maar nes Rio gelyk het, swart vlerke en wit lywe. Jin en Jang. Reg en verkeerd. Arm en Ryk. Elsies en Muizenberg.
Dit het my laat terugdink aan en hoe en waar ek grootgeword het: Eureka Estate in Elsiesrivier. En ek hoor hoe my destydse vriende my uitlag oor ek my hond op die see stap op ‘n sondig agtermiddag, soos ‘n wit mens. Hoe dikwels het ons dan nie juis gepraat oor witmensgoed nie. En om ‘n hond vir ‘n stappie op die see te vat was beslis op daardie lysie. Ons honde was “jaart”-honde. Jy hou hulle aan, voer hulle en was hulle so een keer elke ses maande. As hulle wil stap, kan hulle buite in die strate sonder leiband loop dwaal. Nie hier nie. Hier bel mense die DBV as jy jou honde verwaarloos of as hulle op hul gras mors. Dalk oordryf ek, maar ek kry daardie gevoel dis hoe dit hier werk. Ek stap aan en kyk elke nou en dan oor my skouer. Dis redelik veilig hier, neem ek aan, maar met die wind en die skemer wat op ons sak – jong, ‘n mens weet nooit.
Ons stap aan en toe ons by Surfers Corner kom, begroet die reuk van daggawalms en vyf jongerige wit gesigte my. Die een meisie, redelik lank op die been maar jonk, wurg aan die walm en haar vriendinne, wat maar nes haar lyk, giggel onderlangs. “Hello. Hello. Hello.” Domino-effek groet die span my. Ek kry ‘n “Good evening” uit en stap aan. Ek kon nooit die reuk van dagga vat nie. Dit laat my terugdink aan die aande wat ons in die voorhuis sit en eet het en die reuk van my oom se button-pyp so deur die venster vanaf sy “hok” gekom het. Die ergste was seker maar die kere toe dit gebeur het en daar gaste was. Nietemin. Ek glo darem nie die span sal agter in hul ouerhuise dagga rook nie. Dis waarom hulle dit hier, op die strand op ‘n Sondagagtermiddag kom doen.
Toe ek en Rio ons finale draai vat en weer verby die meisies stap, sê een meisie: “Hi, I think your dog is cute. And so are you. See, we’re good people. Not bad. Good people.” Asof ek drie jaar oud is en sy my ‘n verduideliking skuld. Sy dink seker maar ek’s veel jonger as wat ek lyk en dat ek hulle nou oordeel omdat hulle dagga op die strand kom rook het.
Ek stap maar stadig aan huis toe, padlangs, want nou het dit beslis te donker geword om weer strand af te stap. Ek dink aan hoe van my familie en vriende reageer het op die nuus dat ek nader aan my werk sal trek, Muizenberg toe. Hulle hoef dit nie te sê nie. Dis in hulle “Hallo, hoe ganit?” en “OK bye”. Dis in hulle sit en hulle staan. En alhoewel ek na hulle verlang, voel ek tuis en gelukkig hier. Ek onthou iemand het eenkeer vir my gesê kleurlingmense is soos ‘n klomp krappe in ‘n emmer: almal kla oor hulle nie kan uitkom nie, maar sodra een probeer uitklim, trek hulle hom weer af. Die anderkant van dit is natuurlik wat ek sommer maar die Kanna-syndrome doop. Hier verwys ek of course na Kanna in Kanna hy kô huis toe deur Adam Small. Hierdie is mense wat soos ‘n Kanna, sodra hulle uit die emmer is, hulle rûe draai en die stof van hul voete afskud. Gee net vir ‘n kleurlingpersoon ‘n magsposisie en jy sal dit sien. Dis nie almal nie, maar te veel het al aan Kanna-syndrome gely. En dis ook seker hoekom baie soos krappe in ‘n emmer perform.
Ek wil nie heeldag beskuldig word dat ek my nou beter hou as ander mense nie, maar ek wil sekerlik ook nie hê dit moet lyk asof ek nou neerkyk op my eie mense net omdat ek ‘n inkomste en blyplek van my eie het nie. En dit is wat my anders maak vanaf daardie meisies wat vroeër op die strand kom dagga rook het. Eendag as hulle suksesvol in die lewe is, sal hulle tien teen een niemand ‘n verduideliking skuld nie. Hulle ouers en familie en vriende is seker almal in hul eie emmers.
Al wat ek weet, is: die lewe is regtig wat jy daarvan maak. Dit was die een reël wat my aan die gang gehou het toe ek eintlik tou moes opgooi. God, hierdie reël en my ouma se biddende knieë. Vir hoe lank ek ook al hier gaan woon, gaan ek hiér woon. Sonder skuldgevoel. Sonder angs. Sonder vrees oor wie wat van my gaan sê. Wat regtig saak maak is my hart. En Elsiesrivier sal altyd deel van my bly. Al vat die lewe my ook hoe ver daarvandaan. Ek sal terug gaan en doen wat ek kan. So dikwels as wat ek kan. Maar vir nou sal ek op die balkon van my slaapkamer staan en die vars seelug geniet.
Shirmoney Rhode
Kommentaar
Sal graag met jou will deel wat se rigting The Salvation Army wel het in die land Shirmoney.
Carin Holmes
Majoor
Ek gebruik dit slegs metafories hier Carin maar ek's heel bereid om te luister.
Dankie dat jy jou storie so pragtig met ons kon deel. En ek love die feit dat jy dit in Afrikaans gedoen het. Sterkte op jou pad vorentoe en geniet die see!
Groetnis
Angelo
Yooooor jy gee my nou hoendervleis 🙂 en stof tot nadenke. Jy het jou roeping gemis dink ek ... skrywer is jy!
Groente
Nouks
Shimmy ek is so trots op jou en ek het jou storie vreeslik geniet. Die "krappe in die emmer" vergelyking is so gepas want ek het dieselfde ondervind toe ek Johannesburg toe trek waar ek g'n kind of kraai geken het nie, maar ek was nog nooit so gelukkig nie. Soos die Engelsman se "Do you", jy klink baie gelukkig.
WOW! I don`t think you could've put it any better. Can definitely relate to some of the things you mentioned. Well done on being one of the "Krappe" wat wel uitgeklim het.
Ek stem 100% saam met jou Shimoney. Dit is wat jy van jou lewe maak en anders as ander het jy die geleentheid aangegryp en ’n sukses daarvan gemaak. So ja, geniet jou vrugte wat jy nou pluk en vergeet wat mense van jou gaan of sal sê. Ek is verskriklik trots op jou nig en hoop alles van die beste nog vorentoe vir jou.
Uitstekend en met hart en siel geskryf - ek hoop jy bly lank en baie gelukkig daar. xx
Dankie vir hierdie beeldryke skrywe, Shirmoney. Ek kan my vereenselwig met massas merkwerk, die een meer power as die ander. Eendag het ek dalk ook 'n huisie by die see.
"Al wat ek weet, is: die lewe is regtig wat jy daarvan maak. Dit was die een reël wat my aan die gang gehou het toe ek eintlik tou moes opgooi. God, hierdie reël en my ouma se biddende knieë. Vir hoe lank ek ook al hier gaan woon, gaan ek hiér woon. Sonder skuldgevoel."
En dan word mense verwyt oor "white privilege" [of moet dit nou "coloured privilege' wees?].
Moet mens dan skaam wees oor jou "ouma se biddende knieë"? Oor gebede wat verhoor is en die voordele daarvan wat jy het?
Mooi geskryf. Uit die hart uit. En nie ek óf jy skuld die samelewing 'n verskoning of 'n verduideliking nie. Om te wil leef en goed (finansieel, emosioneel ens) het niemand se toestemming nodig nie. Geniet jou tyd in Muizenberg. Die see is so 'n groot gawe en genade.
Shimoney mag die lewe jou altyd sonskyn gee. Ek het arm grootgeword as ’n wit padwerker se kind. Ons was in die oë van mense onder dieselfde kam as jy geskeer. Maar dit het my net meer aangemoedig om my eie mens te word. Maar ek het nooit my herkoms vergeet of versaak nie, en toe ek Christine Barkhuizen le Roux se boek Padmaker lees het ek weereens besef dat jou ouers nie jou toekoms bepaal nie, jou eie "attitude" maak van jou watter mens jy word. Jy is pragtig, leef jou lewe met oorgawe!
Regtigwaar... Jy is 'n inspirasie vir baie van ons. Maak nie saak waarvandaan jy kom nie. Jy het bokant jou omstandighede gevaar.
Wow! Trots op jou! Ook trots om te sê jy was my tutor paar jaar gelede! Enjoy!
Wow! trots op jou! Ook trots om te sê jy was my tutor paar jaar gelede! Enjoy!
Al was ek Afrikaans groot gemaak is my Afrikaans deesdae maar pover so ek sal maar in Engels reply ...
Reading this has spoken directly to my heart and current journey. Today I am choosing to let go of the guilt feeling knowing that I have resolved to give back too, therefore the underlying assumption of " Jy wil vir jou beter hou / wit hou" is not a guilt feeling I have to bare (because it's simply not the truth about me). I now choose to enjoy my journey guilt free.
Thank you for writing this Shirmoney.
Ek is dankbaar.
Jy is wie jy is! Bly getrou aan jouself. Ek vind jou toepassing doeltreffend. Seker ondat ek jou mense en jou onstandighede ken. Het dit ook aan my eie bas gevoel. Hou jou kop hoog en wees ʼn inspirasie vir talle. Ons jeug het rolmodelle nodig. Mooi loop.
So mooi geskryf, Shirmoney. Doen so voort. Elke groep & familie het maar sy dinge, nè?
Na slegs 'n jaar in die Wes-Kaap (vanuit Gauteng) het ek veral geglimlag vir die Kannas & Krappe waarna jy verwys!
Mooi verwoord , skryf nog.
Ontstaan van ’n lineêre verwysingsverband tussen ontroerende visioen van menslike gemeensaamheid in die beeld van die verteller in haar agtergrond en in 'n wêreld waarin sy woon ... positiewe beeld van ons kultuur ... goed gedaan Simmy.
Wel gedaan, ek kon dit self nie beter skryf nie.
Nee wat jy moet meer gaan stap met Rio. En jou oë moet vir ons op hoogte hou van hoe jy bly en hoe jy vaar " met jou huisie by die see". Jy gaan my nou laat wonder “Krappie” wat is die einde en jou ervaringe? Mooi loop en geniet wat jou sukses jou bied.
Baie dankie aan almal vir die mooi woorde. Ek waardeer dit opreg.
Jy is amptelik my gunsteling skrywer... ek wag nog net vir jou boek!
Shirmoney, uitstekend. Waardeer jou eerlikheid! Die lewe is wat jy daarvan maak en jy doen def dit.
Ek so bevoorreg om Shirmoney die afgelope paar maande te kon leer ken hier by die skool waar ek aflos en sy Afrikaans-onderwyseres is.
Jou hart en pragtige krullebol-kop op die regte plek! Doe zo voort!
Vertel jou stories Shimmy! Baie trots op jou.