Een
ons is een, my mens
vir die res van ons dae
asems saam gehaal
ritmes en lirieke van binne
ons is een, my man
my wese, en joune
elke oomblik vasgevang
op die skryfblok in ons oë
ons is een, my hart
voor God, Seun en Heil’ge gees
stadig, sag, skoon, soms seer, maar so mooi
ek treur nie oor ek berou nie
maar huil saggies oor dit onvoorwaardelik is
hart van my hart
asem in my diepste
voel diep my warm hartklop
ons is tuis,
ons is een, nooit weer twee
My mens ... Kom terug
my engel
my een
my hart, asem
mens vir my geskape
dis vreemd sonder jou
leeg en koud agter my rug
my kop rus hard op die nuwe verekussing,
daar waar jou skouers sou lê
dis stil hier alleen
die kamer is netjies en wasgoed skoon
heeltyd
altyd
die verlange is seer vanaand
mooi mens net vir my geskape
kom terug …
Ons
hierdie effens bekende liggaam skryf stories, boeke nog
ons wieg op die ritme van die water wat drup-drup stadig kouer
gedagtes, herinneringe, jou snak, my liefde, ons mooi
dit verf teen die druppel glas
ons silhoeëtte smelt en dans in kersvlam
en elke kyk in jou oë tik-tik briewe dankies
wasem, asems
joune, myne, ek jy, ons … ons
ons hier. ons stort. ons huis. ons ons
jy myne, ek joune, ons. net ons. onse ons
dis warm, water, warm water, water spoel weg, water spoel
... en ek wonder
soek jou hande na ’n ander lyf se voue, ander dye
of is jy hier, stil en bevredigd saam my,
voel jou vat, voel jou hart tog tuis,
stil my sweer, my oor en weer,
stil my my-wees jou smoor-lief stuipe
dis stil. dis ons. daar’s asem, wasem, water, water warm
en ek wonder …
toe-tot-nou
die holte van jou hand, my skudding
en die voue van jou lyf my sag-slaap
ons fluister het geen woorde nodig
want ons stilte sê genoeg
jou onbeheersde alles-gee liefde
en ons sonop-soen onder lakens
sus sag my sielsdrome
en deurweek my met jou samesyn
jou styf-vashou in die winter
en soete liefdesongs
is my stilraak-avonture
my toevlug, tuiste, my toevou
jy’s my toe-tot-nou, my trou
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


