voëlhok
(vir die voëls – ’n ode aan die inwoners van ’n aftreeoord)
nes mossies
al hoe mossieriger
rondborstig
donsig, sag en broos
en tingerig tinktinkierig
al kwelend
twietend
trietserig tinktinkieriger
kyk die oues van dae:
knokkige kraanvoëls
vaal flaminke;
pankop kuifkophoutkapper
pik verward
berggans pluk sy vere uit
geelvinke kwetter-skinner
rooibekkies snawel die ander se ogies uit;
honger hadedas veg om ’n vlieg
verdwaalde windswaels
maal die kamer rond
papegaai slaat stom
agteroor
van sy dwarslat af
die bosduif dans dringender
bo-op die dak
en vaalvalk draai en draai soos hy draai …
en die kraaie …?
gaap
Here, aanskou die afstootlikes:
die hinkepink bedelaar
pikswart spreeu
maar paradysvoël pronk in pers en pienk
tarentaal, arend, seemeeu en blinde uil
droom
sáám teen skemer in die blinkblaarboom …
sekretarisvoël se oë rek:
die rooiborsduif is raakgeskiet
die wildeganse maak dat hulle wegkom
“En die voëls sit soos ballinge
eensaam
na die weegroep
van die wind en luister”
Ja, ten slotte is ons almal voëls:
afvlerk plons ons teen die grond
disnis gedodo
voëlvry
(met erkenning aan: CM van den Heever, Totius, DF Malherbe, C Louis Leipoldt, S Ignatius Mocke, Breyten Breytenbach, Wilhelm Knobel en al die ander digters wat onuitwisbare voëlgedagtes tot ons onthouskat bygedra het)
moederstad I en II
(vanuit die klein balkon)
dankie tog here vir hierdie plek
so beeldskoon
skoon en
groots en
vry
dat ek my arms wyd oopsprei
om haar glorie te ontvang
omhels
diep lief te hê
en ook vir
U
OF
sal die plek
my aborteer –
’n vreemdeling in Jerusalem –
misgeboorte
uitgebaar
teësinnig spartel
in vrugwater modder en skuim
uitstoot
deur hexrivier se kloof
oor aronskelk en koekmakranka
vygie en vergeet-my-nie
en moordenaarskaroo
uitspoel
teen die stam
van ’n versteende olien
aan die voet van naval hill?
sprokie in die mis
(tribute aan tafelberg)
verwonderd
staan ek
nuweling
afwagtend
op die ontmoeting
staar deur die glasdeur
van my klein balkon
want ek weet:
agter die swaar gordyn
van wolk en mis
hurk
die Groot Vriendelike Reus
sy ruwe hande
rus
op sy knieë
en hy kýk vir my!
as dit nie was
(aan ’n Londense vriend)
as dit nie was
vir jou en Häagen Dazs
het ek reeds koud op Piccadilly
in my nat voetspore
omgedraai
my blou brollie windverflenter
net daar op die sypaadjie
gelos
vlugvoetiger as Eros
Big Ben se laaste slag verby
gesnel
(kougom aan my voetsole)
hoog gevlerk
oor Trafalgar Square en Leicester Square
(waai piksoen Jeremy Irons op die rooi tapyt
Nelson en Charlie gesalueer:
wish me luck as you wave me goodbye ...)
wip
wydsbeen oor die draaihek op Piccadilly Station
(“Whôt?!”)
stroom-op
roltrap af
(my tas se wieletjies knetter WW2)
serp
vir die musikant se viool:
“crazy little thing called love”
jaspant
vir die trein se deur
dan sou ek reeds warm
skommel
op die Piccadillylyn
die laaste blaai van Harry Potter
vluglees
Heathrow
uitval
Emirates
hardloop
hyg …
strompel …
sit … plek …
net betyds
nét
’n nagreis
huis toe –
as dit darem nie was vir jou en Häagen Dazs ...
kolmanskop
(spookstorie)
op kolmanskop
het ek ’n sug gehoor
in die boekhouer se huis:
lank en diep ...
en toe ’n stilte,
eeue oud,
afwagtend oor die wit woestyn ...
wag!
dit was geen sug van syfers
en boeke wat nie klop nie –
nee, dit was die asem van verlange
na mense lankal dood
’n plek begrawe in die sand
’n heimat oor die see
ek weet dit nóú:
dit was geen spook
geen skim
geen dwalend gees
dit was my eie sug gewees
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


