Huis, woning, tuiste: Willem Boshoff se inskrywings

  • 1

Die laaste avondmaal

Vir my laaste avondmaal,
arriveer ek laataand
by my huis met die
sluimerende reuk
van koljanderrys en
lamsvleis.

Onder die buislig
is die kokende silhoeët:
nóg weersinswekkend, nóg oneienbaar;
nóg wolf, nóg herder;
nóg inbreker, nóg genooide.

Onder die wakende oog
van my gas(heer)
neem ek finale bestekopname:

vir die laaste avondmaal
die mirrebalseming van
gegeurde voete, gesny
oor skerwe teëls;

vir die laaste maal die vlees van
gebrande wierook as eerbetoon
onder die toegewasemde ruit,
waaruit ek probeer op die agtertuin uitkyk;

vir die laaste maal die been van
verpoeierde kroongoudverf
wat van die aangeklamde
muur afdop.

Mý laaste avondmaal van eie
heuningsoet onskuld
druppend uit die naïewe gordyne,
galbitter spyt
wat uit die gevlekte mat opslaan:
versuurde grinnike
geëts teen die kontoere van die plafon.
En laastens,
my soeke na aardse sout
in die binnekamer,
is klaar berei.

Ek word bedien
en daar word toegesien
dat ek elke krummel opeet.
In hierdie huis sal ek onder
die yl gangligte dwaal,
tot in lengte van dae.

 

Huishoudelike goedere om te vermy

Hei jy 🙂
Kom eet by my.

Ek sal my offergawe in Ouma se bak voorberei:
en onder leiding van haar resep met ’n koki-gegriffel op ’n poskaart vir wildspastei
– in haar Sondagoond, die allerbeste in die kontrei –
die vlees metodies met die speseryrak inwy;
dan plaas ons ons elmboë op rooi tafelmatjies om ons sondes te bely
en eindelik kan ons die maal op die blad nuttig met my silwer eetgerei.

Ja jy 😉
Kom drink saam met my.

Ek sal die doos met die nuwe kristalglase in die stowwerige gangkas kry
en met my pa se ou kurktrekker hulle vol skink met my beste chardonnay;
of eerder whiskey teug uit plastiekkoppies op reëlmaat van ’n Amanda-kabaret?
Wanneer ons ons dan lighoofdig op my matras neervly,
sal ek my liggaam plaas op die altaar van my duvet 
sodat die vuurhoutjies in jou hande die skoonskroei oor my sal kan versprei.

En wanneer die onvermydelike gebeur: jy sluip by die bed, by my,
en die skuldige portrette van my voorvaders in die sitkamer, verby;
in die nanagbottel melasse in waaruit jou beligte lyf homself maklik bevry,
sal ek en my koffiebeker in die oggend probeer vergifnis verkry
in die klavier en sy een beskuldigende valse noot.

En kort voor lank sal jy ’n bekentenis-teksboodskap van my af kry:
Hei jy, hierdie huis is leeg, kom kuier vir my, sal jy?

 

Veilig, my hart

Met my kaal hande
dolf ek die bevrore vlees van
die aarde om en lê
jou heupe neer as my fondasie.

Ek bak kleistene in die oonde
van jou murg en messel
hulle bymekaar in jou vel wat my 
verskans teen die abjekte.

Ek voer kapankerdraad
deur die holtes van jou werwelkolom
en vestig jou skedel as my dak
teen roekelose weë.

Ek plaas die skarniere van jou gewrigte
en die lateie van jou spiere,
by elkeen van jou poorte sodat
jou deure nie klap as onheilswinde waai nie.

In die toekoms sal ek my oor sag teen
jou vloerbuik druk en na die versekerende
roggelgeluide van jou ingewande
onder jou vlaklaag luister.

In die gietvorms van jou are bruis
die metaal in jou bloed wat ek laat stol
in jou raamwerke sodat ek die
wentelende omringende landskap kan verstaan:

daar waar jou asem
bome in jou longe laat groei;
koesterend is my hand in die grond
wat ek bewerk tot ons nasate.

Ek ryg jou elektriese senustringe deur
die wandelgange van jou herinneringe;
tot diep in die slape van ons binnekamer
wat ek met wit en grys skakeer.

Laastens
is jou ribbes die elegante diefwering
wat ek vassweis;
om jou, my hart.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Anette Boshoff

    Soos altyd stel jou skryfwerk nie teleur nie. Moenie ophou skryf nie ek smeek jou, want elke gedig is net beter as die volgende.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top