Huis, woning, tuiste: Tussen bakstene van woorde

  • 0

Tussen bakstene van woorde

tussen stapels woorde
wat netjies oor die bladsy marsjeer
sit ek
ingeprop
tussen wêrelde
wat nie aan my behoort nie

tussen bladsye
waarvan die woorde afskilfer
omdat my oë
gulsig was
om woorde te verorber
wat nie my eie was nie

tussen rakke se houtmure
wat honderde verhale
se geheime beskerm
maar nie teen my nuuskierigheid
om die stories te vind
wat nie myne was om te vertel nie

ek sluip tussen die mure
met bakstene van woorde –
hulle is nie myne nie
maar tog hoort ek hier

dit maak nie saak
of die woorde
myne is
of nie

hulle is my blyplek,
my tuiste,
my huis

die plek waar wêrelde
tussen twee skerwe karton
vasgevang is,
is waar ek hoort

die stories
is nie myne nie
maar dis geen probleem nie:
ek het ’n boek vol blaaie,
’n pen vol ink
en ’n kop vol gedagtes

geen motor
kan my huis toe neem nie

ek los dit vir die stories
wat ek nog gaan skryf


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top