Jonkmeisie-liefde
Ek is tuis in die seisoene;
wanneer ek loop in die gange van my eie onthou.
Deur September wat gelukkig is en Junie wat huil;
ek weet nie hoekom nie maar ek het dit agtergekom,
die dag toe warm droë stofwinde
in Augustus
in die Vrystaat
waai en die meeste mense nies.
Daar is geen maand eensamer as
Mei
wanneer pretensies val en kompos word en eindelik vrug in Oktober wat vriendelik vrolik en speels is.
Februarie is rooi
en Januarie geel;
Die son skyn mos helder en die liefde is mooi –
O die liefde …
Wat in Julie saam met my sit in die bitter
koue en kyk na die wasem by my mond wat stoom as ek praat en ek verlang na die byt op my wange en die warm van jou jas
wanneer het jy geloop?
Ek was nog besig om wasem te vorm maar dit was mis voor die son.
Gelukkig is daar altyd Desember se Hoop.
Boer
Nat sement ruik anders as nat grond.
Sy hande is lomp en grof, die pen is nou sy ploeg;
wat stadig en stadiger steeds langsamer oor koue papier swoeg; en
hy slaan sy oë op na die wolkekrabbers want die horison kan hy nie sien
om te kyk of daar hoop en reën en seën vandaan sal kom.
Spyt is ’n besluit wat ingelê is soos groenvye en verwyt word.
Boer is ver van sy tuiste af –
net besluite, taktiek en statistiek word hier gesaai.
Sy huis is verkeer en frustrasie en as hy gelukkig is die Delila af in die gang
en ’n maandelikse salaris, die duiwel wat lag met sy siel en erfporsie van geslag tot geslag, as bale leë beloftes gemaai.
Die boer staan op en loop.
Verby die betonlande en ystermasjiene
en rye en rye mense geplant
tot by die kitskoffiemasjien en verbeel hom dit is boeretroos.
Gebluste Land
wit kolomme wolke styg na bo,
soos gebede
na onse hemel
bruin en dor is die land; my land. Die land is ook jou land.
en ons kyk hoe ons land brand
hoe spook kruit vlamme maak teen die berge van ons mooiste Kaap
swart is die reste en die roet
van die rooi duiwel wat gulsig die oorvloed opgevreet en uitgespoeg het
en kaal die land laat
al antwoord op onse roepstem
is Jan op ’n eens groen noot
wat lag en vra het jy nie geweet dis nie meer jou Suid-Afrika?
Maar baie van ons het geoffer wat die land vra; gelewe en gesterwe
die kleur van die kis is nou vergete want die beendere is almal verbleik
geen bloed op verbondsgrond is ooit verlore nie
en die hemele antwoord op die agtuurnuus: daar is sterk reëns te wagte in groot gedeeltes van ons land.
Jan, jou skip was dalk retoer, maar ek kyk na die karakter van dié wat vure blus
en nie die kleur van dié wat stook.
En daar is hoop in die reënboog wat volg na elke druppel reën.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.



Kommentaar
Baie mooi gedig Reinet. Hoop ons sal nog in die toekoms baie van jou gedigte lees. Moet nie ophou skryf nie.