Prins Albert
30 September 2013
Ek wens ek kon jou skilder –
ek sou die blouste blou gebruik
vir jou oë
wat ver kan kyk
na grysbokke wat landaf wei.
Jou are glinster kabbelend deur die dorp
waar kaalvoetkinders in die water speel
en ma’s rooi stoepe vee.
Groen peperbome vir jou hare
soos lang gepunte vingers –
pienk korreltjies tussen die blare
die laagste takke sleep sag op die grond.
Jou hart toegevou
in die holte van die berg –
Oranje en blouswart verf
sal ek gebruik vir die kranse
wat waghou oor die dorp.
Ja, ek sou jou graag wou skilder,
maar sulke mooi
hoort nie op doek.
Ek neem die kyk
en bêre dit soos ’n klein blou klippie
in my sak.
Ode aan my kinderspeeltyddorp
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


