Jou huis is waar jou hart is
Skrop skrop die mure vuil
’n lig breek oplaas deur
gereed om die oue vir hierdie te ruil
plaas ek ’n bordjie “moenie steur”
Bepeinsend beplannend verval die ure
en dan begin die kap-kap om nuut te vorm
’n mooier baadjie kry hierdie mure
’n Inwoner ook in die tye van storm
Eers loerend by my sielevensters
kaalvoet gemaklik vind ek vrede
plak neer my huisie soms ook flenters
my hart se eerste tuiste my rede
Huis van mooi herinneringe
Die klop-klop en inloop is een
want hier is ek van kindsbeen af deel
Tuiste van herinneringe mooi
familie, vriend en vreemdeling binnegenooi.
My gedagtes reis deur die huis
en volg familiefeesmale na die blou kombuis
Hier is van tafeltennis gespeel
tot geselsies en soetkoekies uitgedeel.
Die kamers pienk, blou en groen
so is dit nog van altyd af gedoen
selfs ’n vergeetlaai so fraai
om met die volgende besoek in te maai.
Oorslaapkuiers op Ouma se bed so groot
lê ons lank en lees voor die ligte verdoof
en soms is daar ’n laataandhappie
want Ouma dra lank nie meer ’n kappie
In die sitkamer vol spore
vier ons Kersfees met liedjiekore
Ons hartsplek ons onthouplek
liefde het hier geen toegegrendelde hek.
Tye verander, maar klop-klop stap ek binne
glimlaggend verkykend aan nuwe dinge
Skep nog herinneringe mooi
want steeds word elk binnegenooi.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


