Huis, woning, tuiste: Jo Neethling se inskrywings

  • 0

Ons kokon

Wens ek kon vir ewig bly
in ons kokon, gespin uit fluweel en sy.
Tien duisend skoenlappers het saam gekom
en gespin en weef, alom, alom
om ons vir ewig ver weg te plaas,
weg van die chaos en die geraas
net ons, en die kokon en die vlinders al weer,
want dit is al wat my hart begeer.

 

Winter

Dis winter in ons huis
omring in lentegeure,
voortdurend in die storm
wat slaan teen al die deure.

Woorde deur jou blou lippe
wat sing soos winde deur leё strate,
in die ys wil ek net jou warm lyf voel …
maar jou hitte gloed is nie vir my bedoel.

 

Die Stilte

Die stilte in die huis
wat eggo vanaf jou eensame klavier,
jou oorweldigende stilte is soos ’n stemlose sanger
wat wag vir melodieë, maar die leemtes duur net langer.

In die kamers kon ons dans
op die klankgolwe ontstaan vanuit jou hart,
en nou in die swart nag se smart val ons,
so tussen die gedagtes en die hede neer.

Ek begeer om nog een keer
’n nuwe lied saam met jou te sing,
maar als nuut tussen my en jou
in nou verouderd, gebroke en ontbind.

 

Huis?

Ek en jy in ons … amper huis,
leef saam, dog, so ver van mekaar.
Sien jou rugkant as jy skarrel hier uit,
voel jou teen my as jy snags inkruip.
Maar wat is ’n huis, anders as net mure?
Anders as om te leef met iemand anders se maniere?

Is ’n huis net ’n plek om jou goed in te stoor?
Of om jou dalk te beskerm teen als natuur en onnatuurlik?
Want ons maak hom so mooi, met verf en ’n tuin wat blom,
so asof ons sê dat almal moet inkom,
maar hoe gaan dit van buite af lyk,
as ek die heeltyd by die vensters uitkyk?

 

Huis

Wat maak jou adres tog eintlik saak,
as jy hier bly, en dan daar?
As jou karretjie tot stilstand kom
stap jy in by wat die mure vermom,
met mooi beklede draperings
en goedjies, hier en daar,
want wat as die wêreld
homself by jou deur inlaat?

Die koppies en die pierings
en als wat daarmee saam moet gaan,
om versierde koekies en
uitmuntende happies voor te lê
aan nog ’n groep wat kuier op die voorstoep,
almal té verbaas, want ons het klas?
Hier waar die mans net mans mag wees
en dames hul diepste geheime vrees.

Want as hul net weet, dit maak nie saak
wat op die poskoeverte staan nie,
want ’n huis is net ’n tuiste
as jou hart daarheen wil gaan.
Jou huis is die mooiste plek,
jou enigste toevlug en skuiling,
as hy met ope arms jou inwag
en sê: Ek wag al heeldag vir jou lag!


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top