Huis, woning, tuiste: Huis

  • 4

Huis

Kom ek nooi jou na my voorhuis
met ’n vaas vol fynbos
en ’n doilie op die suikerpot
met jou blik op die formica-skinkbord wat gul op die sinne wag
kom sit op my riempiesstoel met die fluweelkussing
wat steeds ruik na my ouma en haar swart sisrok
skop jou skoene uit en voel die koelte van my peperboom onder jou tone
sluit jou oë
en sien my Karoo in die blou erdekom op die sideboard raak
loer deur die loodglasvenster en sien die rooi granate oopbek lag met rye klein fyn tandjies
sluimer so ’n wyle voor jou hande my toeka-koppies vol moerkoffie met bokmelk vat
lag saam oor afleivore langs die kleinhuisie en die sifkas se lendelam deurtjie
hoor die rekhek klap-klap op die gruis van my kleintyd
rus op die kuierstoep met die rye biltonge bo jou kop
en die reuk van opkookvleis op die koper Primus
hoor net weer een keer die traporrel huil onder die familieportrette
en my oupa se noot-insit vir die aandgesang
huis saam met my
nog ’n rukkie
voor jy groet
en jou brede of smalle weg alleen gaan.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top