Ek het als gelos
Ek het als gelos in ’n oomblik van weet,
my sakkie goud gegryp en my gretig gehaas na ’n sewestermaan
’n kind, ’n kat, ’n tas, in ’n bakkie en ’n dink propvol goedjies
en ’n voel so leeg soos ’n Vrystaatpan
dapper, moedig, domastrant, vol van vreugde en verwagting
en sy: magtig sterk, blinkend onder haar eie lankal ster – begin en einde, die godin van liefde.
Jy het onder jou maan vir my ’n beneboom gegee,
simfonieë en konserte met fanfare oggend en aand,
laatnaglagge en onverwagte vuursitstories,
my dink se inkswart goedjies gevat en my voel tot oorlopens toe vol gemaak.
Uiterstes koggel my daagliks maller en verder van my, gillend grypend na iets
jou hart bly in ’n ander se grot, saam met ’n trappie, by ’n prinses in haar tuin,
op ’n kosmiese wentelbaan waar ons nooit kruis, net bots
die hele verlede heeltyd met geen hede en geen toekoms.
En ek gryp alles in ’n oomblik van weet – onbeskryflik, ewig dankbaar oor jou,
’n kind, ’n niks en ’n alles en ek vlug terug na ’n jakkals se plek in ’n prinsie se hart
Sewe sterre
Iewers op die pad van sewe sterre na die sekelmaan het ek jou gelukkie geliefie
Jou gekke ding, jou lawwe ding, jou wreedste ding, jou mooiste ding.
Lagge en trane troggel-traggel, ewig wakker
en spoed tydens jenewer- en whiskeynagte bultend, barstend van nuwe kennings
onvermoed, onvermoeid, onverhoeds.
En ons snuffel, proe, vroetel, luister, fluister, kyk en koekeloer iedereen
sien jou egtig, sien my egtig en sien mekaar regtig
En nogtans bly ek en nogtans bly jy en juis daarom bly ons,
iewers op die pad van sewe sterre na die volmaan waar ons gelukkie geliefie is, word.
Zevenster-Sondag
Ek proe die smeltende son in my mond en hare
Ek hoor die heuning in ons bloekoms
en jy ruik na lag en jaag
Ek gil wonderlik jaloers op die kabouterige wind wat oor jou leer en yster trippel-trappel
My hart skiet skarlaken granaatpitte barstend,
brandende ekstase
Mooi-mooi, lief en laf
alles gelinte presente
Fantasties ons s’n
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


