Gesprek met skaapkop
Liewe koppie wat het jy dan gedoen om onthoof te word?
Johannes is ook met geen keuse vort.
Nou nog is hebsug te blameer …
O, as ek jou beskou
is daar soveel nostalgie om te herkou.
Pa het jou sommer in ’n goiingsak voorberei
terwyl Nanna jou in die Welcome Dover tot ’n delikatessen laat gedy
Het jy geweet jy was al familie van my familie,
maar dit, ou koppie, het soveel leed gebring
want jy sien as skaapkop wil niemand jou besing.
Weet jy koppie, kop-af is jy beter af
ek is kop-aan, maar wortel-af.
Hoe smag ek na ’n grootwordplek
waar ek, as die betonoerwoud druk, kan trek.
Sien, jy het meer waarde as wat baie glo
jy bring nostalgie uit ’n dorre karoo.
Ek is ontwortel, verontmens en verouderd
jy kopaf as karoo-goud gelouterd.
Wis jy dat Johannes hom vandag nog laat gedy?
Wat ’n wonderwerk vir jou en my!
O, jy ontroer my en smokkel met my kop
ek wens ek kon nog vir ure oor jou tob.
Jy het die Hantam-vleisfees gehaal
Ons moet beide ten duurste daarvoor betaal:
Jy met kop, ek met wortel en siel.
Askuus tog Johannes
koppie
Die knipmes in my
hand
brand vir hierdie joppie
Dikvoet 30-09-2015
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


