Huis, woning, tuiste: FC Pelser se inskrywings

  • 1

Huis

Aan die sonkant van ons huis,
langs die hekkie, staan jy reg om my hart hallo te groet
en ek soen jou op die wang om my liefde vir jou te wys.
Calliope van my hart, met passie sal ons monde ontmoet

Binne die huis speel jy vir my op die klavier
en in vervoering dans ek vir jou, my lief
ritmies wil ek die huis, vir jou, versier …
Teen die muur hang ’n geraamde brief
Om te sê hoe ek jou liefhet en hoe ek jou altyd by my sal wil hê

Rustig leef ons siele saam,
uitbundig dans ons op ons huis se stoep,
helder blink ons liefde, soos ’n foto in ’n raam,
aantreklik skyn jou oë vir my en smelt my hart, om joune luid te roep
net soos in my drome leef ons gelukkig en ek dra jou naam

 

Huis van woorde
(vir Hermi)

Met hierdie brief bou ek vir jou ’n woordehuis;
gevorm met die liefde vir ’n taal – gebou met
koggelwoorde en vals akkoorde, met ’n oorverdowende gedruis,
met ’n sagte reëndruppel-gesuis. Met my hekelharmonieë skryf ek vir jou ’n mooi gebed,
en ek vou jou toe met winterwarm woorde om beskerming teen die kou te bied.

Met die lettergreepbakstene bou ek jou woord vir woord toe
in ’n fort van fonomorwe, en ek pleister met leestekens
al die vertrekke aan mekaar, en versigtig vryf ek elke klein klankkrakie toe
om vir jou ’n fantasiefasade vrolik en fraai te voltooi. Ek weef dekens
met sagte somersonnetsatyn sodat jy snags sag kan slaap.
Ek brou vir jou ’n bibliomaanbredie om jou met woorde vet te voer.
Ek speel liedjies in jou fotorame, sodat jy jou daagliks kan vergaap
aan ontelbare verhale wat jou na ’n sprokiesland wegvoer.

Met hierdie skildery verf ek vir jou versies om teen jou muur te hang –
Elk’ kwashaal vertel ’n storie, elke kleur skryf ’n verhaal.
Elke nostalgiese gedig laat jou na iets verlang,
Want elke kleur-en-klank-kontoer verraai jou hart se taal.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top