Huis, woning, tuiste: Elizabeth-Rose George se inskrywings

  • 0

My huis

Geswoeg, gesweet vir ’n maaltyd
’n Kombers om my warm te maak,
My probleme wat ek vasknyp op voorkop te verberg
Dan gesels ek met God in stilte
Bemoedig deur my kinders se vroom gesiggies

My hoof sak weg in my kussing na ’n land van mooi drome
’n salige uitkomkans vir ’n paar uur
Net my rusbank kom in aanraking met my gestresde liggaam
Kommer swem in my oë, verberg deur die skadu van die kas
Als die moeite werd om daai ekstra myl te hardloop
Solank ek my kinders kan bied ’n “happy home”.

 

My huis II

Hier ontsnap ek die besige lewe
voor die kaggelvuur,
vlamme van hoop
welkom tuis mamma
woorde wat jou daai hupstoot gee,
moed gee om nie moeg te word nie
en jy weet dat liefde geen perke het nie
dan weet jy jou huis is nie vier mure alleen
daar is individue wat op jou staatmaak
en jy het ’n Karaktersertifikaat
gegraveer in die fondasie van julle huis.

 

My sinkplaathuisie

Kokend warm in die dag
Yskoud in die nag
Gekreukelde plate,
Die reuk van teerpale
Reëndruppels wat klink soos
Springmielies op ’n warm plaat
Gebukkend moet jy binnegaan
Prentjie van verdrukking,
Maar daar is blydskap
’n Familie bymekaar
Nie verstrooid soos blare in die herfs
Want ons leef in God se parameters.

 

My Gebroke huis

Jy het geklop en ek het jou binne genooi
Min wetend dat jy my huis kom afbreek
Jy het die pleister afgekap
Als wat mooi was het lelik geword
Jy het my laat versmoor in die stof
Tog het ek die venster oopgemaak om asem te skep
Tot jy die ruite verseël het
Om donkerte te sien
Elke liewe steen het jy probeer uitkap en vervang
Met stene van hartseer, bitter, teleurstellings …

Al stene wat ek kon red was vergifnis, hoop
En vertroue
Dat daar wel eendag iemand in my lewe sal kom
Wat my gebroke hart sal heel.

 

As ek jou huis was …

het ek my deure vir jou geopen
sodat jy geluk kon proe
vensters oopgemaak vir sonlig
dan het jy geweet liefde bestaan
my vier mure om jou te beskerm
teen aanslae van die lewe
maar vas te vang in omhelsing
want jy is nie alleen
daar sal houtvloere wees
en elke tree wat jy gee sal weerklank
en jy sou weet dit is my hartklop vir jou.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top