Huis, woning, tuiste: Theresa Postma se inskrywings

  • 2


(Cullinan in brailleskrif geskryf)

Home is one's birthplace, ratified by memory.Henry Anatole Grunwald

Iewers in die moederskoot van jou grondtonnels en skagte
waarbo gister soos mynershuise saamgedruk sit,
met veldgras die kleur van geelperskes in canned fruit-bottels
en jakarandabloutes vol son
het jy en ek, geliefde heimat, één geword.

En in die étalage van draad-en-roesblikbeelde
voor janharmsgat,
die friends of the rail-stoomtrein op die stasieperron
en toeka se lokettreffers wat steeds by die ou Rec-klubhuis draai
het ek my eerste waggeltreë tot jou gegee.

Ook die fanagalo om kampongvure wat gesellig hurk
onder jou laaste lig en diamantblink donkertes
terwyl ’n ver-af jakkals roep,
en die in memoriam-krygslied oor wit grafsteenkruise
van soldate wat as vreemdes in jou arms kon sterf.

Ek onthou die uitgelate konfetti van kinderstemme
op die skoolterrein,
die purpervlek van somer en moerbeiryp onder ons voete,
ouma se skuiflaai wat ruik van 4711 eau de cologne,
’n witborskraai soos ’n steltloper onder die wasgoedlyn
op soek na glans en klater
en die reën wat giet en pannekoek en pypkaneel.

Met jou was daar altyd méér as wat die oog kan sien,
tot vandag hou jou naelstring my hart.

 

bathroom bizarre

die vertrek is (on)alledaags, ’n loom en soel retreat,
’n hoekbad wat lug in, met die klimblaar van delicious monster op
en ’n kandelaar die grootte van ’n son wat stilstaan  ̶
dán soos seepskuim hoog teen die drifte van die dag:
één oomblik bloot en weerloos en amper verlore stil
voordat sy wegsink in die nivea-geur van dennenaald en kortgesnyde gras,
                                                                                     eers dye, toe heupe ...
waarheen anders vlug sy, vermoeid en al, as die salige streel van water:
wíé keer dat haar oë sluit in hunkering na paradise
en wilde voëls roep tussen die keramiekgekleurde mure,
wie keer die groen oewers wat op haar bors gaan lê?
gestalte na gestalte pluk gepunte sipresse die lug:
boontoe het die plafon tot hemel gebreek,
varings en biesies bring ’n koelte oor haar lyf
en in die losspoel van tyd en ruimte, kom sy tuis


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top