Huis, woning, tuiste: Binne in my hart se punt

  • 0

Binne in my hart se punt

In die skyn van my eie ek
skuil ek in my verwarring weg
en neem deel tot vervelens toe
aan sinnelose redes.

Tot daardie keer dat jy en ek
saam die kerk se trap betrek;
mekaar herken in lyflike begeerte
vol hoop vir stories wat gelukkig end.

Altwee klein-klein deur golwe omgestoot,
omgemaal op roete na kyk Noord,
gekarteerd met skewe belewenisse ingeprent.
Hotkant haarkant – voorwaarts na watter end?

Tot hierdie jaar toe my kompas,
verweer deur miljarde dinge wat was
op een lyn begin skree,
en als stadig en grys eenkant toe meegee

God my gryp en ek in spatsels van sy lig
myself begin ontrafel deur sy sig.
Kon ek die deernis wat oorloop uit wat jy doen,
versigtig uit jou verweerde warm hande soen

tot dié besef my deurdring:
jý is my tuiste,
my liefde,
my huis.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top