Huis, woning, tuiste: Annelize Bester se inskrywings

  • 0

 

My huis

My huis het onvriendelike mure
vol spinnerakke stof en muf.
Geraamtes sit en elke hoek
en hul spoke is
my bure

My huis het tralies voor die ruite
en ’n slot aan elke deur.
Dit hou my lewe veilig binne,
en ander siele
buite

My huis is vol van harde stemme
dit weergalm in elke gang.
Wrede woorde en kritiek
wat stilte sny
soos lemme

My huis hét onvriendelike mure
maar dit is waar ek leef
met harde stemme, slot en grendel
en geraamtespoke
vir bure

 

Waar my hart is

My huis is nie waar my hart is nie.
My hart is waar dit oop en vry is,
waar denkers dink en kinders bly is.
My hart is waar die arende sweef
en lewendes die lewe leef.
Waar kuns en sang en suiwer klank
die ruimte vul en oral rank,
nie ingeperk deur klip en glas
of mure waar eens vrede was …
My hart is nie waar my huis is nie.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top