’n Dokter se tuiste (sonder vensters)
Hier is dit nie net koud en vreemd,
omsingel deur vreemdelinge,
waarvan net een hartklop heeltyd hoorbaar is.
Min glimlagte,
almal ernstig aan die werk,
want een enkele fout
kan die pasiënt uitwis.
Niemand eens bewus
of die wêreld daar buite bestaan,
of dalk besig is om te vergaan.
Versigtig aan die werk,
geselskap algemeen.
Mik vir ’n vinnige herstelproses,
hoe gouer, hoe beter – weer op die been.
Vir dié dokters wat bereid is
om hul privaat lewens op te offer
net om ’n vreemdeling beter te laat voel:
Julle vlieg met engelvlerke,
gefokus op een doel.
Die lang ure vanselfsprekend,
jul opoffering soms veralgemeen.
Met pasiënte se dankbaarheid
aan julle onbekend,
word die teater jul tweede huis,
wat uur na uur, dag na dag skend.
Met net die horlosie teen die muur
wat ’n aanduiding is van dag of nag,
in hierdie tuiste ver weg van jul geliefdes,
en dalk hul eerste mylpaal
wat nooit weer sal herhaal.
Terwyl pasiënte onbewus slaap, rustig en sag
worstel dié engele met harte van goud,
in hul huis met geen vensters,
sonder enige openheid.
(Ek dra hierdie gedig aan al die mediese personeel op wat veral oor die vakansieseisoen hulle tyd in die hospitale en teaters moes deurbring, terwyl ander mense saam met hulle geliefdes en familie kon wees. Ons besef nie altyd hoeveel hulle van hul eie lewens opoffer nie en meestal hopeloos te min waardering in ruil daarvoor kry.)
Die berge is my paleis
My gemoed is swaar,
my hart bedroef
wanneer ek moet groet,
maar nie wil nie.
Wens daar was ’n weg
dat ek nie hoef
afskeid te neem nie,
maar vir ewig naby jou kon bly.
Nêrens anders wil ek gaan nie,
want net deur jou te aanskou
maak my vry.
Selfs al kan ek nie
altyd jou grootheid sien,
omring deur die mis,
sou ek nie anders wou nie
as om jou daagliks toe te laat
om my te bedien,
en al die vrese binne my uit te wis.
Naby jou wil ek bly,
tot die dag wat ek sterf
jou nooit verlaat nie,
maar jou maak my huis,
my hart se berg,
wat ek kan noem
my eie paleis!
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.


