
Foto: Canva
Huis toe
ek ken nog jou stap in ’n skare
soos jy naderkom
jou hart bly klop nog in my
van liefde anderkant lewe
ek hou steeds nog
die sweem van jou laaste motreëntraan
in my handpalm
hou jy my in die engelvlerk van jou arm
uit die son se hitte weg
want jy moet saam
oor strate en parkeerterreine
die heuwels en die wye veld
ons moet by die huis kom
voordat die son in haar voorskoot
ons appelliefies uit die tuin opraap
oor die berg strooi
en anderkant toe weg laat raak

