“Huis, paleis, pandok, sinkhok, varkhok”

  • 1

“People of South Africa, where you see a beautiful piece of land. Take it. It belongs to you.”

Dis wat Julius Malema laas jaa an Suid-Afrikaners gesê het. Mense van Suid-Afrika, as daa ’n stuk grond is wat mooi is vi jou, dan gan vat dit. Imagine vi jou as djy wakke skrik môreoggend en iemand het hulle kô grus maak langs jou swembad, of tent opgeslaan tienan jou akker. Of nat klere wat hang oo jou traliehekke. Of ’n groep mense wat besluit het hulle gan langs die Liesbeeckrivie, offie Eesterivie, offie Kuilsrivie gan huis opsit. Imagine hoe uitgefreak djy sal wies. Ek wiet ek sal wies. Nie ommat ekkie vi mense omgie wattie ’n huis van hulle eie hettie, maa net ommat, “dié is mos myne”, reg?

Nou natuurlik is dit ’n proebleem om te dink dat djy net kan vat wat djy wil, ek mien maa, dis mossie reggie. Maa dis wattie koloniste kô doenit, wat issan nou soe erg?

Die City het in 2009 die Anti-Land Invasion Unit gestig om te kee dat sulke goet gebee. Soe, releks, ôs is veilig. Die DA het sieke gemaak dat sulke goetie kan gebee nie, wan wat van al daai ryk mense wat ommie Berg bly, wat van daai ryk boere met hulle gesteelde land? Wat van die premiers, ennie watse cabinet ministers se huise, nie net die een wat innie Kaap staanie, but die anners wat in Joburg, of Durban, of waa-ever staan.

Soe baie van julle gloe sieke dat die City het hulle wêk gedoen wan “daa moet orde wies”, reg!?

Maa ek wil nog steeds wiet, “Hoekô nie?” Hoekô kan mensie ’n stuk grond vat wat djy van hou en sê OK, veddag gan ek hie my huis opsit, en as ek môre wil iewers anners gan, dan sal ek soe maak. Natuurlik met alle respek virrie natuur en oek respek vi mense wat klaa daa bly. Maa dis mossie hoe die system wêkie. As djy nie kan koepie, dan kan djy nie kry nie. Maa an wie betaal djy? En waa het hulle dit gekry?

Maa nou wat amal mos nou praat van grond trug gie, het ek ’n paa vrae. Wie se grond is dit wat nou moet trug gegie wôd? En wat is die implikasies van dit? Hoe gannie gawement measure wie moet grond kry en wie nie? Moet jou vel ’n sekere kleurskakering wies? Of moet jou naam “inheems” klink, en nie vannie Weste af kô nie? En van watte datum af wêk hulle? Is hulle oek nessie Cape Party wat wêk van ’n datum af wat hulle pas? 1652?

OK, miskien is dié nie die issue wat mens moet oo praatie. Wat van behuising? Wat vannie mense wat nog in sinkhokke bly, ampe soes daa nie grond in die land issie? Wat van hoe die gawement mense, die mense vi wie hulle moet wêk, innie ronte in skyf soes hulle pionne in ’n chess game is?

Maa dié is mos die vehouding wat ôs assie mense van Suid-Afrika mos nou al vi meeran 20 jaa met die ANC het. En wat het hulle rêrig soever gedoen? Mense vannie Westelike Kaap dié is nou ’n vehouding wat ôs nou al meeran 20 jaa het mettie DA, en wat het hulle rêrig soever gedoen? ’n Anti-Land Invasion Unit, ’n paa buite toilets, Wifi innie stad, en ’n swart leier?

Ek wonner hoeveel mense innie Westelike Kaap wiet dattie budget vi laasjaar wat vi behuising gegie was, was glattie eens alles gebruikie. En soe gannit maa net dag in en dag uit, maand na maand, en jaar na jaar. Mense sit oppie strate sonner huise. Mense in sinkhokke, mense wat moet liewe in klein hokkies agte in anner mense se jaate! Wat het gebee van mense se waardigheid?

Ek wietie of ôs se president al in ’n sinkhokkie of agte in ’n hokkie in iemand se jaat gebly hettie, of even net gan visit hettie, maa wat ek wil sê is, as hy dittie wietie, of hy kan dittie vi homself indinkie, dan sal ek hom sê. Daa gebee iets met hoe djy voel oo jouself. Hoe djy die liewe innie oë kyk. Djy voel soe klein, en vedruk, en vrot soes daai sinkhokkie wat aliewig water lek wanne die rient kô. Hoekô in soe ’n ryk land soes Suid-Afrika, met soe baie grond, moet ôs nog in hokkies en pandokkies bly? Daa is meeran ses miljoen mense innie Westelike Kaap. Nou sê djy vi my dat die 129 000 km² vannie Westelike Kaap issie genoeg grond vi amallie? En ek wiet dat dit issie hoe die system wêkie, but vi wie wêk die system dan, as dittie soe wêkie?

Ek mien die rasoorlog wat biesag is om te broei innie Westelike Kaap, issit rêrig nodig? Die Mitchells Plainers wat opstaan tienie Siqalo-inwoners. En dit begin by behuising, en grond. Wat my kwater maak is dat die regering nettie warrie oorie kallidsie. Hulle sê, “Niee-man, julle is swart”, but dan wanne dit kô by oek ’n stukkie van die koek kry, dan sê hulle vi kallids, “Niee, dissie julle beurtie, gan staan agte innie lyn en wag. Die swartes moet eeste geserve wôd.”

Mr President, ek hoep djy hoo my nou. Moettie net vaskyk tien my velkleur, of wanne djy my naam hoo dan sê djy dis noggie my beurtie. Mr President, ek issie swartie, nie volgensie labels van apartheid, of die labels wat julle nou op my wil plakkie. Soe sê vi jou party hulle moet sien dat die bloed wat in my are loep issie apartheid se kleurling, of jou demokrasie se swartie. Met elke tree wat djy vat wil djy my sê dat my vel is te lig, en my naam te wit om trug te kry die grond waa my voo-ouers se spore lê en wag vi my, vi ôs, om hulle wee te kry. Soe, wanne julle beginte praat oo grond trug gie, kyk af en sien waa julle stap. Sien my voo-ouers se bloed innie stof op julle skoene, die beloftes wattie Nederlanders an hulle gemaak het op julle sole. En begin trug staan, wan as julle nou wil van grond praat, die grond soes hy lê behoort an my voo-ouers, wat gegloe het dat mens behoort annie grond, ennie anners ommie.

Twie wieke trug sien ek die Cape Party ennie Khoisan chief wêk nou saam ommie Westelike Kaap hulle eie te maak. Hulle sê dis virrie kallids of Khoisan ennie wittes. Maa hie is die ding. Waa gannie kallids opeindig? Die wit man sal mos natuurlikie selle doen wat sy voo-ouers gedoen het. Die Cape Party het ’n Manifesto op hulle webwerf. As julle die Manifesto wil gan lies, Google net “Cape Party”. Dis nog net ’n klomp leë beloftes wat gemaak wôd, met mooi woorde wat gebruik wôd om te beskryf hoe ’n goeie ding dit sal wies wan ôs sal “outonomie” trug wen.

Innie Cape Party se Manifesto sê die Party se hoof: “The Cape fulfils all of the criteria required to qualify for self-determination”, en dit gan an om te sê dat daa is drie riedes hoekô die Kaap independent kan wies. Die drie punte is dié:

“1) The Cape is a territorial entity.

2) Afrikaans is the majority/common language heritage in the Cape.

3) In 1652 the blend of Khoisan and Dutch began a culture that today forms the majority of the Cape.”

Dis nomme twie en drie wat my baie interesseer. Mr Cape Party, daa was veel meer dan net die twie groepe wattie Kaap gemaak het. En is die taal wat ek en meeran 40% van Kapenaars praat, issit Afrikaans? Ek dink daa is somme ’n klomp Afrikaanssprekendes wat heeltemal nie sal saammit jou stemmie. Soe, wanne djy praat van ’n taal wat dominant is innie Kaap, ken daai naam reg. Dissie ’n afstammelingie, dis Kaaps. En oek wat van voo 1652? Wat van my mense wat voo daai tyd op die land geloep het? Wat van voorie tyd wat die land die naam Westelike Kaap gekry het?

Maa Mr Cape Party, wat vannie mense van die plek? Dies wat nog in sinkhokke bly tewyl die Berg toegeplak is met wit Europeans se nageslag wattie grond afgevat het met mooi woorde en leë beloftes, en tabak en brêndy. En assie Kaap dan Kaaps is, hoekô is jou Manifesto in Engels? Hoekô is daai julle beginpunt?

Het julle vi Krotoa – the Film gekyk? Daai stukkie toe sy velief raak oppie man wat haa weggeruk het van haa grond af. Ek mien, assie movies soe sê dan issit sieke mos nou wattie Khoisan gedoen het daai tyd. Hulle het innie bed gespring mettie mense wie hulle krale omring het met tralies, kettangs en groot oranje slotte.

Soe, ek vestaan as djy nie vestaan nie. Ek vestaan as djy nie gewarried is oo my internal struggle tien die elke dag se oppressie wat ek nog moet tien vaskyk en experiencie. Ek vestaan as djy nie vestaan hoe swaa dit is om ’n taal te praat wat nie bedoel was vi my om te praatie, en soe oek, wat ekkie mag claim as my eie nie. Wat vi amal lat wiet net hoe ek rêrig mettie vyand nog elke dag innie bed lê en jol. Weg van my mense af, weg van my taal af, weg van my mens-wies af. Weg van my kroon af, my kroon wat sal bewys dat die “kind” is ’n kind van die grond, van die land. En die gawement, en die mense soesie Cape Party maak nog steeds besluite virrie Khoisan-Malay-Oolam-Griekwa-kallid kinners. Soe ek vestaan dat djy nie vestaanie.

My voo-ouers het met skulpies en pêrels om hulle gewrigte gedans, en gesing met hulle stemme wat veskillende vorms deu mense se siele ennie nag getrek het. Hulle het gedans met hulle rugwerwels gebuig, vel styf gespan soes dit buig voorie maan en grond waaop hulle dans. Soe ek vestaan as djy net wil hê ek moet veby dit kyk ennie praat oorie goed wat my mense elke dag moet ervaarie. Djy praat van grond trug vat sonner kompensasie. Wie gan my compensate vi my grootouers se veliede wat toegegooi is onnerie Weste se kapitalisme, ennie Noorde se stamverbondenheid?

Soe, ek hoep djy kan oek vestaan hoekô ek nie in een van hulle gloe nie. Nie die swart man met sy fensie Engels, offie Boer wat innie stilte nog steeds daavan hou dat ek hom Baas noemie, offie kallid madam wat pretend sy’s wit wan haa ouma hettie potloodtoets geslaag en al haa kinners was op UCT sonne ienige beurse. Offie Engelsman wat praat van ’n droem vannie Kaap wat annie “regte mense” behoort, maa daai droem is mos toegeplak met Ts & Cs. Offie Khoisan chief wat wil grond besit wanne ôs mense gegloe het dattie mens besittie grontie, die grond besittie mens.

Dis 2018, ek is nog steeds Livy vannie Rive, maa ek issie mee daai kind vannie straate vannie Lêctric City nie.

Maa bly te kenne en dankie virrie onnersteuning.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top