Hugenote aan die Kaap deur Philippa van Aardt en Elain Ridge: ’n resensie

  • 0

Hugenote aan die Kaap
Philippa van Aardt en Elaine Ridge

Sagteband; Hugenote-Vereniging van SA, Franschhoek 2019

Vir meer as 30 jaar was Pieter Coertzen se magnum opus, Die Hugenote van Suid-Afrika 1688–1988, uitgegee tydens die Hugenote se Drie-eeuefees in 1988 deur die Hugenote-Vereniging van SA (ook in Engels as The Huguenots of South Africa 1688–1988), die standaardverwysingswerk oor die Hugenote in Suid-Afrika.

Sedertdien het ’n aansienlike aantal nuwe primêre bronne oor die Hugenote aan die lig gekom, en is ’n groot deel van die VOC se verslae getranskribeer, wat nuwe feite en insigte na vore gebring het. Van die nuwe inligting is in 2018 gepubliseer in Pieter Coertzen se opvolgwerk The Huguenots of South Africa – studies after 1988.

Die behoefte aan ’n omvattende nuwe werk is bevredig deur die onlangse verskyning van Hugenote aan die Kaap deur Philippa van Aardt en Elaine Ridge, oorspronklik in Engels geskryf en vertaal in Afrikaans (deur Koos Holtzhausen) en Frans (deur Marie-Anne Staebler en Magali Justice). Die Franse weergawe is gemotiveer deur die feit dat bykans die helfte van die besoekers voor grendeltyd aan die Hugenote-gedenkmuseum in Franschhoek van Frankryk afkomstig was, en baie van hulle op soek was na ’n Franstalige boek oor die Hugenote aan die Kaap.

Die boek is die resultaat van omvattende navorsing en kritiese analise, sonder ophemeling en idealisering, en vertel van die ontstaan en vervolging van die Hugenote in Frankryk, die oortog en vestiging van net meer as 300 van hulle aan die Kaap van Goeie Hoop, en hul wortelskiet in ’n nuwe vaderland. Die Afrikaanse vertaling is knap gedoen deur Koos Holtzhausen en lees vlot sonder die indruk dat dit ’n vertaalde weergawe is.

Die vertaler vertel self: "Met die vertaling het ek gepoog om in ’n maklik verteerbare Afrikaans met ’n korrekte styl vir moderne Afrikaanse lesers te skryf, terwyl ek getrou aan die feite en die nuanses van die bronteks probeer bly het. Dit was soms nogal ’n balanseertoer en ek hoop ek het daarin geslaag." Geslaag het hy inderdaad.

Dit is bekend dat die historici Dan Sleigh en Albert Grundlingh albei waardevolle insette gelewer het met die daarstelling van die boek, wat die geloofwaardigheid daarvan verhoog. Ook bestuurslede van die Hugenote-Vereniging van SA, van wie sommige deskundiges oor bepaalde Hugenote-vanne is, het vooraf kommentaar op die teks gelewer.

Die bydrae van Hugenotestammoeders tot nie-Hugenotevanne het tot gevolg dat Hugenotebloed in die meeste Afrikaners se are vloei, wat die Ferreiras, Snymans, Kriges, Venters en ander nie-Hugenotevanne insluit.

Die boek is verdeel in agt hoofstukke. Die eerste twee vertel van die ontstaan van die Hervorming in die 16de en 17de eeu, bepaald in Frankryk onder leiding van Johannes Calvyn. Dit behels die massamoord op Hugenote tydens die Bartholomeusnag in 1572, die uitvaardiging van die Edik van Nantes deur Hendrik IV (’n voormalige Hugenoot wat hom tot die Rooms Katolisisme "bekeer" het), die godsdiensoorloë, en die uiteindelike herroeping van die Edik van Nantes in 1685.

Hoofstuk 3 gaan oor die gevolglike vervolging en diaspora van die Hugenote. Groot getalle vlug na nabygeleë lande soos Duitsland (30 000), Switserland (60 000), en Nederland 50 000), en verder na Engeland (40 000), Ierland (6 000), en Noord-Amerika (3 000). Dit is in skrille kontras tot die relatief klein getal (300) Hugenote wat hulle aan die Kaap van Goeie Hoop gevestig het.

Hoofstuk 4 handel oor die VOC-Nedersetting aan die Kaap van Goeie Hoop, aanvanklik as verversingspos, later as nedersetting met vryburgers. Jan van Riebeeck se eggenote, Maria de la Quellerie, was die eerste Hugenoot wat aan die Kaap aangekom het (haar vader was ’n Hugenotepredikant). Sy kry, snaaks genoeg, weinig aandag in die boek, en sy en haar eggenoot is na 10 jaar vort na die Ooste.

Hoofstuk 5 handel oor die oortog van die Hugenote na die Kaap van Goeie Hoop in agt skepe tydens die bewind van goewerneur Simon van der Stel. Minder bekend is die feit dat vóór die georganiseerde migrasie van 1687 en 1688, enkele Hugenote voor dié datum hulle aan die Kaap van Goeie Hoop gevestig het, en enkeles daarna tot in die 18de eeu.

Dit sluit in Francois Vilion, stamvader van die Viljoens, wat in 1672 as soldaat aangekom het, en na ’n jaar as vryburger sy beroep van wamaker beoefen het. Sy huweliksdatum met Cornelia Campenaar word foutiewelik (p 112) as 17 Mei 1673 aangegee (ipv 17 Mei 1676). Sy plek van herkoms word slegs as Mazeick in Suid-Nederland aangegee, en ignoreer die inskrywing in die huweliksregister as Clermont, Frankryk. Groot getalle Hugenote het voor die herroeping van die Edik van Nantes na Suid-Nederland gevlug (p 110), en dit is waarskynlik dat Francois Vilion een van hulle was. Ook word slegs die oudste seun van die Viljoen stamouers, Henning, vermeld (p 112), wat met die weduwee Margaretha de Savoye getrou het. Die ander seun, Johannes, is getroud met sy skoonsuster, Margaretha de Savoye, se dogter, Catharina Snijman, uit haar eerste huwelik met Christoffel Snijman; hulle nasate is meer as dubbeld so veel as dié van Henning Viljoen, maar sy naam word nie vermeld nie. Sulke weglatings en foute sal hopelik in toekomstige herdrukke reggestel word.

Die beginjare van die Hugenote se vestiging aan die Kaap van Goeie Hoop was allermins maklik. Geen baldanse van dames geklee in hoepelrokke wat die minuet dans nie, maar setlaars wat in baie gevalle ’n sukkelbestaan voer en afhanklik was van liefdadigheid en wat noodleniging uit die Bataafse Fonds ontvang (p 135).

Die Hugenote se assimilasie en integrasie met die ander nedersetters aan die Kaap, die verdwyning van hul taal as amptelike taal, en hul uiteindelike florering word in hoofstuk 6 toegelig. Hul bydrae tot die vestiging en ontwikkeling van die wynbou is goed bekend (p 163). Doekies word nie omgedraai nie, en die feite is dikwels minder aangenaam om te herkou, soos die gebruik van slawe-arbeid (p 169) en die Hugenotepredikant ds Pierre Simond, wat ’n belangrike slawe-eienaar was (p 175), en gevalle van onbetaalde skuld, grondgrypery en sedelike vergrype (p 183).

’n Nuwe toevoeging is Franse besoekers aan die Kaap (hoofstuk 76) en hul indrukke van hul ontmoetings met hul voormalige landgenote.

Die laaste hoofstuk (hoofstuk 8) ondersoek die Hugenote se nalatenskap in Suid-Afrika, wat ofskoon hulle aanvanklik ’n klein minderheid van die setlaarsbevolking uitgemaak het, tog omvangryk is. Die skrywers kom tot die slotsom: "In Suid-Afrika is die invloed van die Hugenote en hulle nasate buite verhouding tot hulle beperkte getalle."

Duisende nasate dra vandag met waardigheid vanne waarvan die spelling onveranderd uit hulle oorspronggebiede nagelaat is, soos De Villiers, Fouché, Malan, Du Toit, Du Plessis, Du Preez en Malherbe, of wat verafrikaans is tot byvoorbeeld Viljoen, Cronjé, Pienaar, Retief en Senekal. Sekere voorname wat onder die Hugenote gewild was het hardnekkig in Suid-Afrika bly vassteek, veral mansname soos Francois, Pierre, Etienne, Jacques en Louis.

Verskeie wynlandgoedere in die Wes-Kaap dra Franse name wat herinner aan die besondere bydrae wat die Hugenote op die gebied van wynbou gelewer het. Die Hugenote-erfenis word in Suid-Afrika herdenk deur die Hugenotemonument en Hugenotegedenkmuseum in Franschhoek.

Seker die belangrikste invloed wat hulle in Suid-Afrika gehad het, is egter te vind in die feit dat hulle, soos hul Hollandse voorgangers, draers van die Calvinisme was. In sy werk Het leven van Johannes Calvijn kom D’Arbez tot die slotsom:

Toch, nergens op aarde leeft het werk van Calvyn sterker door dan in Zuid-Afrika, waar de geest van Calvyn nog niet verswakt is door den invloed van de twintigste eeuw, zoals maar te dikwels het geval is geweest, en nog is, in de landen van Europa.

Hierdie aspek word myns insiens onderspeel in die boek.

Die indeks is karig en kan met vrug in toekomstige uitgawes aansienlik uitgebrei word. So is dit onmoontlik om in die indeks name soos Maria de la Quellerie of Jacques de Savoye te vind.

Die illustrasies is keurig gedoen, en waardevol is die uitvou-register met ’n naamlys van alle Hugenote wat na die Kaap gekom het, met besonderhede van die skip waarmee hul gereis het, hul aankomsdatum, plek van herkoms, geboortedatum, beroep, eggenoot/eggenote, kinders en plaas. Die boek is ongetwyfeld vir die afsienbare toekoms dié naslaanverwysingsbron oor die Hugenote aan die Kaap van Goeie Hoop.

Die boek kos R390 (BTW en posgeld uitgesluit) en kan bestel word by [email protected].

  • Christo Viljoen is ’n afgetrede ingenieur en akademikus, en skrywer van oa die Viljoen Familieregister.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top