NASA beplan om iewers in 2018 die James Webb Ruimte Teleskoop (JWST) te lanseer om die Hubble Ruimteteleskoop (HST) wat in 1990 in ’n wentelbaan net buite die aarde se atmosfeer geplaas is, te vervang. Daar word verwag dat die HST iewers tussen 2019 en 2032 die aarde se atmosfeer sal binnedring om hopelik iewers in die see neer te stort. Ek sluit ’n skets van ’n voorstelling deur NASA in wat ’n idee behoort te gee van die verskil tussen die twee teleskope.

Die teleskoop se opvangsvermoë sal die van die HST ongeveer 7,3 keer oorskry. Dit sal deur ’n skerm wat die grootte van ’n tennisbaan is teen die son se strale beskerm word.
Die JWST sal in ’n baan byna 1,6 miljoen km vanaf om die aarde geplaas word, wat vier keer vêrder as die maan is en ’n reis daarheen vir periodieke instandhoudingswerk sal in die omgewing van 8 tot 10 dae duur. Ek wonder hoe lank dit vir een omwenteling om die aarde gaan neem?
Daar word beoog om met dié teleskoop terug te kyk in tyd tot byna by die oerknal, wat sterrekundiges in staat sal stel om die evolusie van sterrestelsels, die vorming van sterre en die komposisie van exoplanete, dws buite die sonnestelsel maar darem nog binne die Melkweg, te bestudeer
Alhoewel dit op hierdie stadium nog te vroeg is om te sê wat die totale koste gaan wees, is daar reeds 72 miljard rand vir die projek begroot. Dit is rofweg ongeveer 30 keer meer as president Zuma se privaat Nkandla woning en omtrent 1½ keer van die nuwe luukse voorstedelike treine wat vir Suid-Afrika aangekondig is.
Panda


Kommentaar
Panda: Ek wonder of beelde deur daardie teleskoop geneem dalk uiteindelik vir KdK sal oortuig dat mens wel Jupiter se mane van hier af kan sien? 🙂
Panda,
Jy wonder hoe lank dit vir die JWST gaan neem om rondom die aarde te wentel. Hierdie teleskoop gaan nie rondom die aarde wentel nie, maar rondom die son. Dit word so geplaas dat dit teen presies dieselfde frekwensie as die aarde rondom die son wentel en aan die nag kant van die aarde bly.
Brianvds: Kobus is nie oortuigbaar nie! Jy behoort dit mos teen hierdie tyd al te weet. Die koste van R72 miljard het my ook as baie redelik opgeval en ek het gaan 'check' of dit nie dalk US$72 biljoen moet wees nie (hulle gebruik mos nie miljard nie) Dis nou US$ vs Rand en biljoen vs miljard — baie kanse vir foute soos die ‘flop’ met myl en kilometers ’n klompie jare gelede wat gelei het tot die mislukte landing van 'n NASA-tuig op Mars.
Ek was so twee jaar gelede by die SALT op Sutherland en wou weet hoe lyk Jupiter deur die monster. Willie Koorts het maar net vir my gelag en gesê Jupiter is eintlik te naby vir SALT. Hulle kyk net na voorwerpe wat minstens 'n paar ligjaar weg is.
Panda
Dankie, vir die addisionele inligting Charl. Dit maak baie sin uit. Die JWST sal dus permanent in opposisie met die aarde wees soos wat die geval met Jupiter op 3 Des. was. Hy gaan dus min of meer elke aand teen sononder in die ooste opkom. Die volgende webwerf gee nogal ’n goeie verduideliking. http://www.jwst.nasa.gov/orbit.html
Panda