Hopelik vir oulaas: Wouter-wanvoorstellings

  • 1

Ek hou rekord van wat ek op SêNet publiseer, gevolglik is dit maklik om my eie skrywes na te slaan. Ek hou nie rekord van wat ander deelnemers skryf nie omdat ek primêr nie daarop ingestel is om na aanleiding van andere se bydraes my eie te produseer nie. Ek verkies om self te besluit oor die onderwerpe waaroor ek skryf. Wanneer ek by hoë uitsondering reageer op wat Wouter oor my skryf, beskou ek dit nie as ’n bydrae nie maar bloot as ’n ontboeseming. Omdat my rekenaar stadig reageer, het ek met heelwat moeite Wouter se bydraes tot 6 deser nagegaan. Sonder om ’n enkele skewe woord te rep, wil ek aantoon waarom ek nie tevrede is met die manier waarop Wouter my standpunt weergee nie. Die datums verwys na die betrokke SêNet-uitgawe.

1. Wouter: "Terloops wat was die bron van die onsin wat hy kwytgeraak het hier oor Unisa kan dit bevestig word?" (7 deser). "Net so is sonder enige bewyse die grootste versameling van onsin oor Unisa gepubliseer sonder om te bevestig waar sal die binnekennis verkry word wat dit vir jou moontlik sou maak om te publiseer wat jy hier gepubliseer het. Jou bronne oor die stand van Unisa is dus onbevestigbaar" (ander brief, 7 deser).

1. Johannes: Let daarop dat die aanvanklike "onsin" opgradeer word na "die grootste versameling onsin". Geen aanduiding word gegee van wat so onsinnig in my skrywe (23.12.2011) is nie. Sy beswaar is (onder andere) gebaseer op die feit dat ek nie bronverwysings verskaf nie, iets waarmee Wouter meesal heelwat slegter as ek vaar. Die hoof dokumentêre bron oor wat Unisa was, is Maurice Boucher se Spes in arduis: ’n geskiedenis van die Universiteit van Suid-Afrika (Pretoria: Unisa, 1973, 404p). Baie van wat in my skrywe staan, is egter op eerstehandse kennis gebaseer, of "binnekennis" soos Wouter dit noem. Is dit afdoende rede om my skrywe as "onsin" te etiketteer?

2. Wouter: "Dit laat net Comestor oor met ’n ’open mind’. Aan die hand van wat hy hier skryf kan dit nie waar wees dat Comestor ’n ’open mind’ het nie (6 deser).

2. Johannes: Reeds teen die einde van verlede jaar het Wouter sy twyfel oor my drie bydraes oor "mind closing" (5, 7, 9.12.2011) uitgespreek. Maar hy kom nie met spesifieke besware voor ’n dag nie, behalwe sy wanvoorstelling wat hieronder volg.
3. Wouter:"Die brief is nie voor my nie maar van die temas wat kan onthou word is die stelling dat Fascisme die val van Kommunisme moontlik gemaak het, dit terwyl daar ’n verskil tussen die einde van 1945, die einde van Fascisme en die begin van die einde van Kommunisme in 1989 en van ’n persoon wat sulke eenvoudige feite verkeerd het, moet ek nederig opkyk volgens jou" (7 deser). "Volgens jou het Fascisme die val van die Kommunisme veroorsaak" (ander brief, 7 deser). "Comestor skryf dat Fascisme die val van Kommunisme veroorsaak het" (Reaksie, 12 deser).

3. Johannes: Hier het ons ’n voorbeeld van die beginsel wat Joseph Goebbels, die Nazi-minister van propaganda, voorgestaan het, naamlik hoe meer ’n leuen herhaal word, hoe meer geredelik word dit geglo. Wat ek skryf het, "is dat fascisme destyds moontlik voorkom het dat lande soos Duitsland, Italië en Spanje die kommunisme ten prooi val" (9.12.2011). Let op die kwalifiserende woord "moontlik". My opmerking verwys spesifiek na drie lande in die jare dertig. Dit verwys glad nie na die lot van na-oorlogse fascisme of kommunisme soos Wouter te kenne gee nie.

4. Wouter: "Afrikaans is ’n inheemse taal soos Zoeloe en Xhosa" (7 deser).

4. Johannes: Wouter het laasgenoemde brief geskryf na aanleiding van die ANC se jongste poging om Afrikaans te benadeel. As Afrikaans ’n inheemse taal sou wees, kon dit aanspraak maak op dieselfde bevoordeling wat die ANC vir die erkende plaaslike tale vir swartes beoog. Waarteen Wouter dit het, is dat ek ontken dat Afrikaans ’n inheemse taal in dieselfde sin as bv Zoeloe en Xhosa is. Hy impliseer eintlik dat ek medeverantwoordelikheid vir die ANC se jongste anti-Afrikaansskuif moet aanvaar; dat ek met my standpunt Afrikaans benadeel het. Ek het geskryf: "’n Verwante gewoonte wat posgevat het, is om vir al die inheemse amptelike tale in die bres te tree. Afrikaans word dan opportunisties en oneerlik as ’n inheemse taal voorgehou ... As Afrikaans eerder taalwetenskaplik as politiek-korrek benader word, is dit nie ’n inheemse taal nie maar wesenlik ’n Indo-Europese en meer spesifiek ’n Germaanse taal" (15.11.2011). Let op die kwalifiserende woord "wesenlik". As tekste in Zoeloe en Xhosa vergelyk word, val hulle verwantskap op. Die verwantskap van Afrikaans word duidelik as dit naas ’n Nederlandse teks geplaas word. Afrikaans het in Suid-Afrika as ’n aanpassing van veral Nederlands ontstaan (dit is dus in ’n heeltemal ander en beperkte sin inheems) en is mettertyd as ’n skryftaal en in mindere mate as ’n spreektaal gestandaardiseer. Dit bly wesenlik ’n Europese taal. Sy Europese herkoms blyk byvoorbeeld uit meer as negentig persent van sy woordeskat.

5. Ek hoop dat ek nooit weer oor Wouter se kommentaar op my skrywes hoef te skryf nie. Ek sal dit waardeer as hy voortaan my skrywes korrek aanhaal wanneer hy daarop kommentaar lewer en dat hy dan met spesifieke besware vorendag kom. Ons leef die afgelope twee dekades in ’n era waarin daar van sommige mense verwag word om verskoning te vra. Sou dit te veel van Wouter verwag wees om verskoning te vra vir die wanvoorstellings wat ek hierbo uitgewys het?

Johannes Comestor

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Hello,   
     
    Die kommentaar is soos volg:   
     
    Unisa. Die probleem is nie met die gedeeltelike historiese vertelling oor Unisa nie, maar wel die onbevestigbare aard van die “binnekennis” of dan nog meer so wat beskryf word deur Comestor as “eerstehandse” kennis. Inderdaad is dit moontlik om dit as onsin te klassifiseer omrede daar ‘n onlangse verslag oor Unisa publiseer is wat ‘n bestekopname oor Unisa doen en so die stand van Unisa bevestig. 
     
    Hierdie inligting is in die publieke arena beskikbaar en is meer onpartydig as wat Comestor kan wees.   
     
    Kommunisme versus Fascisme.   
     
    Dit is duidelik dat ek Comestor verkeerdelik aangehaal het. Verskonning aan hom en die lesers daarvoor.    
     
    My fout.   
     
    Alhoewel nie ‘n verskoning nie was my inleiding en aanghaal deur Comestor: “Die brief is nie voor my nie maar van die temas wat kan onthou word ...”   
     
    Nog meer oor die “mind closing” siklus.   
     
    Oor “Closing of the Western Mind” was die begeerte uitgespreek dat ‘n gelowige kommentaar sou lewer teen die beskuldiging dat Christenskap “rede” tot ‘n end laat kom het. Niemand het dit opgeneem nie.   
     
    In ‘n repliek is daar verwys na die werk van "The Beginnings of Western Science" van David C. Lindberg maar nie bespreek nie.   
     
    “Closing of the American Mind” in Amerikaanse konteks bespreek regstellende aksie vir swart studente en is uit die pen van ‘n persoon wat nie historiese gebreke wil regstel nie en hom sterk daarteen sal uitspreek. 
     
    Die boek is in die laat 80’s geskryf en word net so deur Comestor oorgedra na Suid-Afrika.   
     
    Hierdie metodiek is al voorheen uitgewys as ‘n gekose metodiek van Comestor se kant om boeke sonder stawende bewyse oor Suid-Afrika nog steeds aan te bied as van toepassing op ‘n direkte basis in Suid-Afrika.   
     
    In daardie konteks dan is sulke briewe volgens my oordeel  "die grootste versameling onsin".   
     
    Waar is die studies oor Suid-Afrika wat die mislukking of ongewenstheid van regstellede aksie vir swart studente kan staaf.   
     
    Oor Afrikaans.   
     
    My debat is nie met Comestor oor Afrikaans nie en word hy nie vir dit verantwoordelik gehou nie.  Die ironie is dat die wat aandring dat Afrikaans uitheems is dan hulle sin kry maar die prys daarvoor is te hoog.  Die “wesenlik” bring nie verligting nie, aangesien dit duidelik is dat Comestor se gevoel dat Afrikaans uitheems is. Indien nie dui dan aan presies watter kant die sterkste weeg, wesenlik word voorafgegaan met “nie ’n inheemse taal nie”.   
     
    Daar is geen twyfel nie wat Comestor glo nie, maar soos aangedui my debat is nie met Comestor nie.   
     
    Ek voer aan:   
     
    Dit is nou ‘n lat pluk vir jouself. Dit word nie met ‘n gevoel van genoegdoening geskryf nie, maar met ongeloof kan dit werklik besig wees om te gebeur. Die gesprek oor Afrikaans het skielik ongemaklik naby aan die moontlikheid van verlies gekom hiermee.   
     
    Om dit probeer gebruik saam met die ander punte om ‘n apologie te probeer forseer is volkome onaanvaarbaar,   
     
    Indien daar verskoning gevra moet word, dan wag vir ‘n aplogie vir die volgende, waarin ek afgemaak is ““gatvlieg, tabanus wouterana, chihuahua, ellendige hond” en die res van die plaaslike bevolking met jou beskrywings van “Na-beskwawing, barbaars, minder beskaafd, minder ontwikkelende, minder kundige, en die mees duidelike openbaring van hoe diep die ou man se welwillenheid strek, onderontwikkelde mense”.  
     
    Baie dankie   
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top