Hoogty – Tydsaam, maar met sorg en wins

  • 0

Hoogty
E Kotze
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795703140
Prys: R210.95
 

Klik hier en koop Hoogty nou van Kalahari.net!

Kotze se tweede roman ontvou tydsaam – maar met soveel sorg en wins dat dit ’n genoeglike ervaring is. In haar eerste roman, Toring se baai, het soveel karakters gefigureer dat dit soms terugblaai gekos het om ’n karakter te identifiseer. By die lees van Hoogty is dit duidelik dat Kotze hierdie probleem agtergelaat het.

Hierdie roman handel hoofsaaklik oor Helena Burger (Hillie Burre vir die Volleminkbaaiers, Heuleuna vir haar pa), die wins en verlies van haar eiesinnigheid en haar opregte wil om belangrike sake te deurdink – ten spyte van haar impulsiwiteit wat soms die oorhand kry. Van kleintyd af is haar stryd teen haar pa, die ruwe visser Jas Burre. (“Got in die hemel,” skrou Jas, “wat jy kortkom, Heuleuna, is ’n donnerse pak slae!”) Die ou vuilbek, die ou vrek, die dwarstrekker van formaat; laasgenoemde in ’n minder skadelike dosis oorgeplant op Helena. “Dwars soos ’n deur!”

Op haar eie manier en tyd kry Helena wel haar geleerdheid en ná ’n omswerwing of wat land sy op ’n afgeleë Vrystaatse dorpie, waar sy Chris ontmoet wat ’n merkbare invloed op die res van haar lewe het.

Terug op Volleminkbaai – hoofsaaklik om te sorg dat haar broertjie nie ook onder ou Jas se harde hand ’n seeman word en die boeke ontneem word nie – ontmoet sy Auret weer, die mooie, ryk Vilna se kêrel wat sy altoos vermaak het. Vilna wat vort is en Auret agtergelaat het. Ook Vilna se spook bly loop in Helena se lewe. En daar is Auret, die te aantreklike skipper, wat ons in sy wese leer ken toe die dood op golwe aangedonder kom: “Dit word ’n eenmansvaart waarop Auret Nagel daardie nag met hondtaaie vasberadenheid die Sterling deur die storm van sy leeftyd loods.” Behoue tuis gekom, laat dieselfde skipper sy kop in Helena se skoot sak en begin huil.

Deur middel van terugflitse vul Kotze gaandeweg die motiewe in. Nooit is die karakters se motivering uitgespel nie, nooit is hulle eenselwig nie, telkens openbaar hulle ’n nog dieper versteekte begeerte of vrees. Rustig en sterk bou Kotze haar verhaal in kosbare kontreitaal: “Die huis waar almal die vorige aand gekuier het, was taamlik roesbondel.”  Hy “vroetel in haar tuintjie [erotiese spel] totdat sy gewillig na hom draai.” “Vinke [...] vleg neste, wat die onvoldoenlike wyfies uitmekaar pluk.” “Jy kan alsolief met jou gat in die tronk loop sit ...” “Dis vir hom te mooi as sy haar so lig [onversetlik is].” “... ’n duiker se oë is baie flou, want hy het die mode om sy kop weg te draai en jou net een oog te gee.” “... sy is verveeld met hierdie rentelose bestaan van ledigheid.”

Wat Hoogty ’n spesiale kerfie op Kotze se oeuvre maak, is dat sy daarin slaag om die allergewoonste verhaal van allergewone mense te vertel en nogtans die spanning in stand hou; styfgetrek soos ’n nuwe visserstou wat heelnag in die melk gelê het om sy krag te toets. Wanneer sy haar van liriek bedien, is dit nooit soetlik nie; dit getuig eerder van die skoonheid wat in die alledaagse skuilhou, daar vir wie dit wil en kan.

En daardie bedrieglik eenvoudige sin waarmee sy die roman inlei, wil onthou word: “Daar is ’n tyd op see net voor die dag breek dat die nag op sy donkerste is.” Juis omdat dit tematies van hierdie roman word dat die donker nooit finaal wyk nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top