Honourable discharge – José se riem

  • 10

Foto: Unsplash.com

Die misweer blaas teen die voorruit van die kombi wat hoes-hoes koers kies van Woodstock-polisiestasie na Tokai. Seelangs vluglees meeue ou koerantberigte. Die winter is pure Kaaps en die wind span ’n wasemtent teen die dakke vas.

“The biggest battle of life is in between …”

“José?”

Hy wikkel sy arms en kyk na die boeie wat sy polse vasklem.

José Duarte, sestienjaar oud. Poging tot moord. Eerste oortreding. Graad tien. Verwys na Tokai-verbeteringskool. Twee na drie jaar. ’n Relatiewe standaardverwysing, dink ek. Blok 7, maksimumsekuriteit en D-groep so vir vier maande. Klasbywoning, intervensie, hergroepering, voorregte …

Die voet van Tafelberg word spierwit verlig en ’n lamppaal in Observatory lyk soos ’n lugskulp uit ’n kruitvat wat rooi vonke in die reënweer blaas.

“Dis nou regte Vrystaatse donderweer. Ons in die Kaap is nie gewoond hieraan nie.”

José spoeg op die sitplek langs hom. Sy oë lyk soos die grys weer om Duiwelspiek en sy blik flits soos wit bliksem oor my skouer. Hy kap sy kop ritmies en onophoudelik teen die boeie en stamp met sy regterknie teen die rugleuning van die bestuurdersitplek.

“Duarte!”

José leun terug en lag hard, maar daar was iets anders in sy oë. Hý was anders. Dit is asof die grys weer sy glottis tussen elke bui reën oopbreek.

“As jy my pa was het ek jou ook geskiet,” sê hy en lag weer. “Jy weet obviously hoekom ek gevonnis is.”

“Ja, ek weet baie goed en ons gaan mekaar nog goed leer ken. Jy is my verantwoordelikheid vir die volgende twee jaar.”

“Jy is ’n wat dan? ’n Maatskaplike werker?” vra hy en skop met sy voete teen die rugleuning vas.

“Nee, ’n terapeut. ’n Sielkundige. ’n Kwasi-sielkundige.”

“So, jy is nie bang vir my nie,” sê-vra hy.

“Kyk regs, José. Jy het seker al gehoor van Rhodes Memorial. En die geboue is die Universiteit van Kaapstad. Jy kan eendag hier kom studeer.”

Hy grinnik en leun met sy kop teen die voorste sitplek langs my. “Nee, my pa het gesê my soort gaan leer verder in Pollsmoor en ons vrek vroeg. Soos my hond.”

“Jou hond?  Het jy ’n hond, José?”

Hy stamp sy kop teen die leuning. “Gehád,” sê hy geïrriteerd. “Ek het ’n hondjie gehad toe ek nog klein was. Maar my pa het nie van hom gehou nie en elke keer as hy my geneuk het, het hy die hond ook geslaan. Hy het my hondjie vasgemaak en ons mag nie vir hom kos gegee het nie. Op ’n dag het ek toe besluit om sy ketting te breek en die voorhekkie oop te los en toe hardloop Rosco uit in die straat en ’n kar ry hom dood. En toe het hy vryheid gekry.”

Hy sit vir ’n oomblik stil en vloek sag. “My ma ook.”

Vryheid so? Vryheid is vir baie net ’n pseudo-werklikheid, dink ek hardop.

“Jou ma óók?” vra ek terloops.

“My ma het gesê dat vryheid nie bestaan nie. Hulle sê my pa het haar in die garage gekry. Bo sy kar. Maar dis wat húlle gesê het.”

Dit stortreën en al wat sigbaar is, is die remligte van voertuie wat in die voorruit weerkaats. Blou ligte flits en sirenes loei. ’n Ambulans beur tussen die verkeer deur en die goue myl in Rondebosch word ’n stilstaande roete vir swetsende motoriste.

Die weerkaatsing van sy nou grysgroen oë tuur terug na my in die truspieël.

“My ma het gesê dat die waarheid soos ’n gevlegde leertou is en dat dit nooit kan breek nie. Die waarheid lieg mos nie?” vra hy. “Sy hét mos vry geword?”

Die Kaap het vier seisoene in ’n somersdag. Constantiaberg wys so af en toe sy rugnate. Die sonstreep op my lessenaar lyk soos dronkverdriet. Lêers lê ongeorden rond. As jy nie ’n filing-system in jou kop het nie, hoe de hel kan jy jouself liasseer, dink ek hardhandig en stapel lewens op ’n hoop. Die intervensielyste moet oorgetik word dis Donderdag, ’n groepsessie vanmiddag oor uitvalle …

’n Foto van Emile in die boonste laai breek die dag oop en die roetine word eensklaps godverskriklike vergrepe na die dorslande van die Vrystaat, die ou kliphuis en die reuk van stof,  koring en sering, my ma en Emile. Die liefde in Emile se middeskoot het net nooit ophou bloei nie. Hy het ’n voloes leer liefkry en liefde gemaak met die nagpoësie wat hy so voluit bemin het. Dit het Pa net meer verwinter. Ons het ’n boomhuis met bamboes gebou. Emile het sy drome bloots gery en saalboom met die sering gesteek, maar sy boomkano het die spil geword. Sonder enige sweem van swaartekrag het hy vir die takke gelag en daarop gegly. Hy het die leisels geknoop om aan die boom in sy eie vryheid dood te hang ─ the biggest bloody battle of life is in between. Dit maak tóg sin, soms.

“Het jy onthou van Duarte?” roep Helmut in die verbygaan. “Die Junie-groep word discharge môre. Hy wil jou sien.”

Ek vlieg vervaard uit die kantoor, gang af. “Hy is nou net hier verby na jou kantoor toe,” sê ’n versorgingsbeampte ongeërg. “Hier is sy ontslag. Hulle is almal dieselfde. Verbeteringskoolkinders manipuleer jou. Lieg en bedrieg en ...”

“Fokof Barnard! Jy het weer te veel gesuip.”

José sit gemaklik terug op die leunstoel in my kantoor. “Ek word môre discharge,” sê hy en glimlag.

“Ek weet, ja. Al jou reisreëlings is getref. Julle is ’n groep van vier wat by Jeppestasie afklim. Van daar sal jy begelei word na jou tydelike adres tot wanneer permanente verblyfreëlings getref word.”

José haal ’n koevert uit sy baadjiesak. “Dankie,” sê hy. “Die brief is net om dankie te sê.”

“Dankie José, ek waardeer dit,” en liasseer die skrywe sorgvuldig tussen die chaos.

“Ek het nog iets vir jou,” sê hy. Hy steek sy hand in sy broeksak en hou sy toegevoude vuis na my regterhand. “Dè, vat dit. Ek het dit vir jou gemaak.”

“Is dit soos ’n lucky packet?”

Ek huiwer ’n oomblik.

José glimlag. “Dit hang af hoe jy dit sien,” sê hy en druk ’n leerarmbandjie in my hand. “Ek het dit gebrei en gevleg. Vir jou.”

“Dankie José,” maar hy sien dat my woorde uitloop op ’n dooie metafoor.

“Die riempie is die tweede een wat ek gevleg het. Ek het die lang leerriem vir my ma gevleg.”

Hy staan op en steek sy twee hande uit. “Die waarheid lieg mos nie,” sê José en druk my hand ferm, fermer, seer en laat los die groetgreep toe Barnard se naderende gesteun in die gang hoorbaar word.

’n Jonasklip, dink ek. Was daar dan enige, énige gelykenis in die retoriek?

“Ek moet gaan pak. Daar is nog net een ding wat ek jou wil vra,” en hy stap deur se kant toe met sy oë gerig op die lessenaar se oop laai.

“Vra maar,” sê ek en hy kyk my stip in die oë,

“Waar lê jóú vryheid dan?”

  • 10

Kommentaar

  • Avatar
    Francis Grobler

    Ek staan behoorlik verslae. Dié breek als oop tot op die been! Berdéhan Brand, mág ons jou gedurig hiér lees. Dankie Litnet! Dié verdien 'n pluimpie. Sterk skrywe. Briljant verpak. Met omsig versorg. Mag ons asb hierdie ink "bubble-wrap"... Brand skryf koppe los! Ek buig laag en diep!

  • Avatar
    Caren Kearley

    Ek stem saam met almal, Brand skryf ’n vuur in mens los. Puik, verwoord. Dankie dat jy dit met ons deel. Moet nooit ophou skryf nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top