Uit die aard van die tye en eras waarin mens geleef het, het jy soms met baie mense te doene gekry. Omdat PW en kie ons geroep het om te red, het ons beleef en herleef en soms nie laat leef nie. Soms spyt, soms in dronk nagte wroeg jy hieroor en snags teen drie, vieruur maak die spoke jou weer wakker. Met eentonige reëlmaat. Want mense kan sê net wat hulle wil: Die reuk van mens wat brand het 'n kleur en herinnering bo en behalwe as jy by braaivleise sit en hulle braai sekere vleissoorte.
So swerf ek maar die nag rond op die grootsheid van die kuber en kom ek af op 'n noodkreet want hier's 'n foto van 'n basterbrak met 'n lang naam en zero pedigree en ek bekyk die foto's van die gepak en ek bel die nommer en hulle beduie die brak gaan uitgesit word so gou as moontlik. Die arme dametjie is agter tralies, haar ore plat en die pyn sigbaar in die donker oë. Bel die powers that be want snaaks genoeg kan jy diere dood en jy's cool maar moet tog net nooit 'n viervoetige mens aanneem nie. Jy loop jou vas teen 'n burokrasie amper soos binnelandse sake.
Vorms word heen en weer geteken en gefaks en terug en heen gefaks en dan is die hond joune, maar hond is nog innie Kaap en jy reël vir vervoer want Translux ry nie honne nie, en beslis nie hierdie klas honne nie. Kry die hond met die lang, designer koppeltekennaam en jy sien hier's groot fout. Want hierdie issie 'n hond nie. Hier het mense kak aangejaag want sy haal asem ja maar as sy asemhaal sien jy, wel ... (ons los die grafiese goeters ...)
Hier in Oesterland het ons 'n Vet. Veearts. Dr Stellouise. Doen ondankbare werk. Beduie vir my die oggend vroeg hierdie hond moes dood wees. Bel die Kaap en hulle beduie jip, die hond was dood. Vier veeartse het haar deurgehaal. Was die slagoffer van hondegevegte (die klein honne word ingegooi om die groot bakleiers te leer soort van) met 'n spul dooie klogoete in haar buik en hulle is dankbaar iemand het die arme ding gevat. Ek beduie hierdie ding is meer as hond en baie beslis mens en die Kaap sê ek kan maar die viersyfer-aanneem-geld hou.
Vir maande lank elke dag die pad gevat met die hond wat moes dood wees na dok toe vir nuwe verbande, nuwe salf, Absa-kaart weer swipe, want verbande en salf en operasies kom nie sommer net vanself nie, reg? Tot sy weer hond kon word en toe meer as hond is en mens geword het. Want sy eet soos mens, leef soos mens en slaap soos mens. Waarom?
Omdat, vir elke sekonde wat sy pyn en leed en mensdom se sleg moes ervaar sal ek seker maak sy kry meer as 'n uur se gerief. Daarom slaap hierdie kleine viervoet mens op 'n bed, onder verekomberse en snuffel sy snags uit as dit te warm word.
Ons sit soms en wonder, as jy 'n hond mooi leer en inteel en leer, waarom gee jy hom so 'n lang naam soos hierdie kleine mens? Toe kyk ek buitentoe en toe sien ek die meeste mense is in wese nie veel beter nie.
oester
NS: foto voorsien is hoe sy gelyk het die dag met aankoms. Voor die operasies ... die bytmerke sigbaar. Bykans 'n jaar se terapie en daaglikse wonde dress het gevolg en nou is dit nie meer hond nie maar mens.



Kommentaar
Ek het al in 'n vorige brief van my geskryf dat ek rooi sien wanneer iemand 'n dier verwaarloos en of mishandel. Mens kan skree/praat maar dier nie. Elke ou sal maar moet gaan skies vra eendag.
Ai, Ou Oester.
Wat noem 'n mens nou iemand wat ons diere-vriende so mishandel? Ek wonder partymaal hoe hulle dit sou hanteer as dieselfde euwels aan hulle gedoen mog word?
Klomp blikslaers !
Beste groetnis.
Husky.
Oester
Dankie, dankie, dankie wat jy vir die honne gedoen het! O, hulle liefde en lojaliteit het nie einde nie - en so moet ons ook teenoor hulle wees.
Ek het 'n tannie honne wat amper 16 jaar oud is. Sy het hartversaking en is blind in haar een ogie. Omrede ek vir haar medikasie gee vir vogretensie is ons twee meer buite die huis in die nag as binne. Ek doen alles met liefde vir haar. Ek is oorbewus daarvan dat die honne met die groot hart nie meer lank met my gaan wees nie. Ek huil reeds. Dit is al.
Geniet jou honne.
Groete
Marli
Dit herinnner my aan 'n tumblr-post: "Be cool to your pets. They live a small life and you are a god to them. Guide then through their life like a really cool tour guide and leave them with the best impression of earth."
Oester, dit is tragiese dinge. Diere, glo ek, het meer gesofistikeerde verstand en emosie as waarvan meeste mense eens bewus is. Ek wonder wat mense sou doen as die diere hulle ervaringe by en emosies van mense sou kon verbaliseer...
Sommige mense se wreedheid laat mens dikwels verbysterd.
Baie dankie vir jou onbaatsugtige ontferming oor die arme dier.
The more i see of people, the more i love my animals. (ek weet nie wie dit gesê het nie, maar dis waar). En BTW: Julie-May eet elke dag beter as 'n groot deel van hierdie land se mensDOM, en sy doen dit sonder om skuldig te voel. Ek wat haar kos gee ook....