Hoerkind: ’n meesleurende verhaal van triomf en transformasie | Momentum Beleggings Aardklop 2023

  • 0

Geon Nel in Hoerkind (Foto: Gys Loubser)

Momentum Beleggings Aardklop bied aan: Hoerkind
Met: Geon Nel
Teks: Herman Lategan 
Verwerking van teks: Francois Toerien
Regie: 
Margit Meyer-Rödenbeck  
Stelontwerp: Gerrit Snyman
Beligtingsontwerp: John B Swart
Komponis/Oorspronklike musiek: Coenraad Rall
Vervaardiger:
 Arena Produksiehuis
Genre: Drama
Tydsduur: 80 minute
Venue: Gimmies
Datum en tyd: 
3 Okt 13:00, 5 Okt 20:00, 6 Okt 16:30, 7 Okt 13:00

Aardklop Nasionale Kunstefees spog jaarliks met merkwaardige vertonings en Geon Nel se aangrypende eenmanvertoning in Hoerkind is geen uitsondering nie. Hoerkind vertel die verhaal van Herman Lategan se lewe – gekenmerk deur teëspoed, uithou, aanhou en uiteindelike triomf. Maak gereed om deur die dieptes van hierdie drama te delf. Wees egter gewaarsku dat hierdie resensie belangrike plotpunte verklap. Indien jy die opvoering self wil ervaar, oorweeg dit om hierdie resensie te boekmerk vir ná die vertoning!

Herman, wat bestempel is as ’n “hoerkind” (weens sy buite-egtelike geboorte), het swaarkry en verwerping reeds op ’n jong ouderdom leer ken. Sy ma het hom met witbrood en swart koffie grootgemaak. Op sesjarige ouderdom stuur Herman se ma hom na ’n weeshuis in Durbanville, wat ’n lewenslange vrees vir verwerping by hom aanwakker. Jare later trou sy ma met Christie Kruger, ’n druiweboer. Die gehoor word gekonfronteer met die ontstellende werklikheid van Herman se ervarings as kind, insluitend seksuele aanranding en huishoudelike geweld. Sy ma se stryd teen kanker en haar blywende verhouding met Christie word ’n hartverskeurende agtergrond vir Herman se onstuimige opvoeding.

Die narratief neem ’n selfs donkerder wending wanneer Herman onthul dat hy deur Koenie, die pa van ’n skoolvriend, gemolesteer is. Koenie: ’n pa-figuur, mentor, vriend en molesteerder. Herman se akademiese prestasie daal en hy verval in ’n lewe van seksuele losbandigheid, alkohol- en dwelmmisbruik. Hy erken uiteindelik in ’n roerende onthulling dat sy seksuele oriëntasie nie ’n keuse is nie, maar eerder ’n gevolg is van die aanrandings wat hy as kind moes verduur. Herman word hierna opgeroep vir diensplig, in hegtenis geneem en menigmale haweloos gelaat. Die woorde wat oor hom as jong seun uitgespreek is, steek deurentyd vas in sy gedagtes: “Hierdie kind gaan eendag in die gutter beland.”

’n Sprankie hoop kom na vore wanneer Herman vir Graham Sonneberg tydens ’n vakansie ontmoet. Graham: Herman se lewensmaat, vriend en vertroueling. Herman se inval in joernalistiek het op daardie stadium belowend gelyk, maar sy demone het steeds by hom bly spook. Herman wend hom weer tot alkohol en dwelms as hanteringsmeganismes nadat hy beide sy ma en pa aan die dood moes afstaan en word gevolglik gediagnoseer met ’n bipolêre versteuring. Ná ’n angswekkende voorval, waar hy as gyselaar in sy huis aangehou is, moedig dokter Cilliers hom aan om sy wonde “oop te skryf”.

Nou, in sy veertigs, worstel hy met eensaamheid en selfdoodneigings nadat Graham hulle verhouding beëindig het. ​​Herman maak die impulsiewe besluit om sy geestesversteuringsmedikasie weg te gooi. Hy sluit die opvoering af deur sy swart jas om te dop wat die rooi voering openbaar – ’n simboliese gebaar van transformasie en veerkragtigheid, ten spyte van Herman se bedenkinge dat dinge nooit werklik beter kan word nie. Die kragtige slotwoorde en (verbuigde) aanhaling van Antjie Krog het klaarblyklik aanklank by die gehoor gevind: “Ek is, ek is, die Here hoor my, ’n vry fokken hoerkind.”

Die beligtingsontwerp (toevertrou aan John B Swart) word noukeurig aangewend, wat die emosionele impak van elke moment verbeter. Gerrit Snyman se verhoogontwerp is minimalisties, gestroop –  ’n leë doek waarop Nel meesterlik skilder. In die middel van die verhoog is ’n rooi tafel, onderstebo geplaas. En vanuit die dak hang daar ’n rooi tou. Geon Nel se vermoë om die gehoor met minimale dekor te boei en te ontroer, was niks minder as verstommend nie. Soms is minder werklik meer.

Geon Nel in Hoerkind (Foto: Gys Loubser)

Hoerkind is ’n diepgaande verkenning van aktuele kwessies rondom homoseksualiteit, MIV/Vigs, verwerping, gesinsgeweld, molestasie, gebroke ouer-kind-verhoudings, verlies en die hunkering na vryheid. Die drama delf in die blywende letsels van trauma, terwyl die transformerende krag van storievertelling as ’n manier van genesing steeds beklemtoon word. Nel se vertolking as Herman Lategan is moeitevry. Hy bring ’n tasbare gevoel van egtheid na die karakter. Sy merkwaardige fokus en energie sorg vir ’n onvergeetlike vertoning. Hoerkind is in alle opsigte ’n moet-sien-produksie wat die gehoor beide skok en inspireer. Geon Nel se uitsonderlike vertolking in samewerking met Herman Lategan se teks verseker dat Hoerkind in die harte en gedagtes van sy toeskouers vertoef lank nadat die laaste gordyn geval het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top