Hoekom, wat en hoe lees ek? ’n Bepeinsing

  • 0

Hoekom, wat en hoe lees ek? Nugter weet. Omdat ek kan? Omdat ek erg nuuskierig is? Omdat dit ongedefinieerd lekker is? Hoekom is dit dan lekker? Omdat ek nie anders kan nie, want ek is wat ek is? Dalk is dit die liefde vir taal, spesifiek Afrikaans met al sy krommings.

Ek het nie die vaagste benul wat die antwoorde op bogenoemde vrae is nie, maar ek kan bespiegel. My oortuiging is dat elke mens verskil wat betref die antwoorde op al hierdie vrae. Ek kan dit ook net beantwoord in soverre as wat dit my persoonlike ervaring aangaan en dan is ek self nie eens seker van my saak nie. Wat ek wel weet, is dat ek vir die plesier lees met geen diepgaande motiewe of kennis nie. Vroeg op hoërskool het die biblioteektannie eendag vir my gevra: “Weet jou pa wat jy lees?” My ouers het nie ’n saak gehad met wat ek lees nie, en ons het dit ook op ons kinders van toepassing gemaak. Dit was toe ek Orgie, Die ambassadeur, Sewe dae by die Silbersteins, Die derde oog, Mens-alleen, 21 en al daardie tyd se boeke van ’n kant af deurgewerk het, min wetende dat dit ’n tyd van vreeslike mags en mag-nies was, baie onskuldig, maar erg gevang deur die style en tegniese aanslae van die verskillende skrywers. Ook gedigte het my begin aantrek. Wie het al gehoor van ’n dwarshouboek waar onder andere vol swart bladsye tussen-in gebruik word om iets oor te dra, of van teks waarvan elke tweede reël kursief is – dit wat werklik gebeur versus wat die persoon hom verbeel aan die gebeur is? Ek dink dis die oorspronklikheid, oftewel kreatiwiteit, wat my gevang het; die raaksê en aanslag in Afrikaans.

My eerste reaksie op so ’n vraag sou ook kan wees: Dit hang af van wát ek lees. Is dit ’n roman, speurverhaal, fiksie in die algemeen, niefiksie, ’n boek, ’n tydskrif, ’n koerant, geskiedenis of gedigte? Wat van ’n bietjie spekulasie, aangesien ek nog nêrens enige navorsingsuitsette gesien het wat hierdie vrae betref nie.

Hoe het die bostaande vrae dan nou opeens by my ontstaan? Omdat ek so verheug was oor ’n beriggie in Die Burger van Maandag 4 November 2019. Dit was die hoogtepunt van die dag, want ’n beriggie in Die Burger het gelui dat ’n volgende boek van Etienne van Heerden op pad is. Dis nou ’n paar maande later en ek het klaar Die biblioteek aan die einde van die wêreld afgehandel. Die eindproduk was sekerlik ’n kragtoer, net soos die lees daarvan ietwat van deursettingsvermoë vereis … totdat die bomme begin bars: een bom wat ek voorspel het en waaroor ek toe wel reg bewys is, maar ook ’n groter een wat ek nie sien kom het nie. Nou-nou meer oor EvH.

In die gesprek hier onder word enkele boeke genoem om ’n stelling te steun, maar uit die aard van die saak is daar baie, baie meer wat ’n mens sou kon aanhaal.

Daar is verskeie dinge wat my laat lees. Soos reeds genoem, is ek aardsnuuskierig. Ek wil graag weet waarvandaan, waarheen, hoekom, ens. Dis al jare lank ’n grap in ons huis: Indien enigiemand onseker is oor iets, kan ek nie rus tot ek opgestaan, ’n boek uit die rak gepluk en die antwoord nageslaan het nie. Dis nou maar net so. Ons kinders google. Ek soms ook, maar ek verkies ’n boeksoektog daarvoor. ’n Outydse vorm van ADHD, sê my vroulief, self ook maar skuldig aan dieselfde optrede. Fiksiegewys is die skerp, op-die-man-af-regte woord pragtig. So byvoorbeeld het ek dadelik die woorde terugslag ipv agtertoeskuinsstreep en voorslag ipv vorentoeskuinsstreep vir my toegeëien nadat ek dit lank terug op RSG gehoor het. Dink aan Breyten Breytenbach se digstyl as dit by sy vrou ­kom. Dit sê alles van geneentheid en liefwees. Kan iemand dit beter sê? Die atmosfeer wat terloops ontstaan, die waarneming van “ja, ek herken hierdie ou, so is dit” in Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip in die beskrywing van die windgat prokureur wat sy ou vriend, die eiendomsagent, namens ’n kliënt bel. Die kort, kragtige woordewisseling in die groetwyse is onoortreflik beskrywend van die verhouding tussen die twee mans en spreek boekdele oor hulle lewensbeskouing. Die tong-in-die-kies ervaring van “ek verstaan die omstandighede en die atmosfeer” in Zapzap: in Seepunt gaan dit pienk en plesierig deur Jan Harmse (alias Klaas Steytler) laat my tone krul. Jy grinnik die heeltyd in jou binneste by die lees van André P Brink se Mal en ander stories of Jan Geldenhuys se Basjan en Wilhelm-boeke. Moet ook nie vergeet van Johan Combrink se Kwinksinnig nie. Dieselfde geld vir Roald Dahl se Revolting rhymes. Daar is te veel pittige boeke om op te noem. Is die grusame “waarheid” in die opset van Kerneels Breytenbach se Hond se gedagte nie ook ’n ander vorm van humor nie?

Die lees van romans in verskillende genres. Om terug te kom by Etienne van Heerden se nuwe boek. Ek glo baie mense het lank gewag vir ’n nuwe boek deur hom; té lank, as u my sou vra. Ek is verslaaf aan lees. Net so het ek ’n liefde-haat-verhouding met EvH se boeke. Onderwyl ek ’n boek van hom lees, wil ek hom wurg. Ja, in die ware sin van die woord, want ek kry nie klaar met die boek nie en EvH laat hom nie aanjaag nie. Spoedlees is verbode, want dan mis jy alles wat lekker is heeltemal. Dis asof die storielyn dikwels nie so belangrik is nie. EvH gaan sy rustige gang, skep atmosfeer en laat jou dink; die taalgebruik is uniek en ek kan myself nie sover kry om die lig af te sit nie. Dikwels lees ek ’n sin meer as een keer, net oor die wyse waarop hy sy gedagtes oordra, om te besin oor hoe hy atmosfeer skep en jou deel maak van die gebeure, en om seker te maak waarnatoe hierdie gedagte lei. Hoekom sê hy dit? Ek lees ook soms van sy boeke in geheel ’n tweede keer. Sy woordgebruik en styl is besonders. Nietemin, Etienne van Heerden sal ek lees. Maar hoekom so lank wag vir ’n volgende publikasie?

Deon Meyer weer dwing ’n leesstyl op my af wat tot ’n harttoestand kan lei. Ek klief deur sy boeke teen die spoed van wit lig en moet myself dan daardie aand afvra wat ek dalk misgelees het. Dit forseer my om sy boeke ’n tweede keer stadiger te lees om die fyner, terloopse besonderhede en leesleidrade raak te sien. Jy kan nie vinnig genoeg by die volgende feit kom nie, maar wil ook nie die interessante en dikwels komplekse maar gemoedelike aangrypende verhoudings tussen sy speurders in onse unieke land mis nie. As ’n Kaapse klong wat in die plattelandse omtrekke van Kaapstad groot geword het en nege jaar lank met die trein werk toe gery het van Bellville af tot in die stad, het ek male sonder tal ná die treinrit ver ente agter groepies geselsende mense wat ook op die trein was en op pad was werk toe aangeloop (maak u eie gevolgtrekkings). Ek het dikwels effe laat by die werk opgedaag net om hulle groot gesels aan te hoor: hoe en waaroor hulle praat, die verstommende humorsin, alles wat ’n mens mens maak. Ek het myself op hierdie manier gate uit geniet. Dís wat in die besonder deur DM vermag word. Nie dat sy boeke altyd speurders betrek nie. Wat van die verstommende ontknoping van Koors? In die koorsseisoen, dws die jaar wat die boek verskyn het en dit in ons huis opgedaag het, vra my een dogter elke keer vir my: “Is Pa al daar waar die seun en die meisie op pad is Weskus toe?” Ons gesin en selfs wyer in die familie lees almal feitlik almal se boeke, tot op ’n punt. Hewige besprekings volg dikwels Sondae op die familiebraai en/of -ete. Ja, dis nou in die wyer gesinsverband en verwys regtig na broers, (skoon)susters, swaers, kinders, die hele kaboedel.

Stieg Larsson en nou ook David Lagercrantz wat Larsson se reeks (The girl with the dragon tattoo, ens) voortsit, skep ook weer ’n ander manier van lees. Jy moet bybly met vreemde name, plekke en gesigspunte en mooi let op die feite, anders verloor jy die storielyn soos blits. Dis heerlik om my te begewe op hierdie onbekende roetes en dit hou my vir ure lank besig. Al sou ’n mens elke boek in sy “reeks” individueel kon lees, is dit nietemin lekker om van boek na boek te beweeg, soms soos van een oomblik na die volgende.

’n Dagblad word van hoek tot kant deurgewerk. Dít was nog altyd die hoogtepunt van my vakansies, nl om die koerant elke dag rustig te kan deurlees – iets wat my voor aftrede nie altyd beskore was gedurende die gewoel van elke dag se werk nie. Nog al die jare, wanneer ek op ’n ander dorp/stad as my eie oornag, koop ek die plaaslike koerante, tot drie op ’n slag. Dan lees ek dit met groot genot deur.

Niefiksie is ’n omgekeerde storie. Waar ek in fiksie sal huiwer oor ’n segswyse, frase of woord om dit te bedink en te geniet, sal ek ‘n andersoortige tipe huiwering by die lees van niefiksie ervaar. Dink bv aan die beredeneringsboeke soos The book of nothing (allesbehalwe!) deur John D Barrow, of Infinity: The quest to think the unthinkable deur Brian Clegg, om maar ’n paar te noem. Die ontsaglik akkurate, verstaanbare verduidelikings van moeilike begrippe in vakboeke oorrompel my.

Sommige boeke het ’n filosofiese aanslag wat ’n mens dwing om te herkou, te peins, te wonder oor jou eie sienings en standpunte te bevraagteken. Dit kan bv ’n boek wees deur of oor Gödel, Russel of Escher se sienings en standpunte. Om nie te praat van biografieë nie. Dit maak nie saak wie s’n dit is nie, dit verander jou eie siening van die lewe. Klein gebeurtenisse kan diepe indrukke op ’n mens laat. Hy sal my nie eens onthou nie, maar as eerstejaar het ’n senior student in die koshuis by name Fanie Olivier eendag uit die bloute vir my uit gevra: “Die stelling wat jy nou net gemaak het – sê jy so omdat jy self so dink, of omdat jy in ’n huis met daardie standpunt grootgeword het?” Oombliklik het ek besef sy insinuasie is korrek. Sedert daardie oomblik het ek ’n ommekeer gemaak en daarna nog altyd die standpunt gehandhaaf dat daar altyd, maar altyd, twee of meer kante aan ’n saak is en ek dit self moet deurdink en moet besluit oor my siening. Ander mag nie my standpunt bepaal nie. Net ek self is daarvoor verantwoordelik. Ek is steeds dankbaar teenoor hom vir daardie sê maar teregwysing.

Gedigte verstom my. Hoe kry mense dit reg om met so min woorde so baie te sê, dinge so mooi raak te sê? ’n Hele aantal jaar gelede staan ek in oorlede Leon du Plessis se Boekeparadys by die KKNK. In die rak staan ’n dun boekie: Apostroof, geskryf deur die einste Fanie Olivier – verwys na die vorige paragraaf. Met die oopslaan lees ek die eerste gedig waarop my oë val: ’n gedig wat handel oor sy vrou se langsame afsterwe, ’n gedig oor hoe hy haar versorg voor sy in die aand aan die slaap raak. Dit het my tussen die oë geslaan en weer het ek besef hoe gek ek is na die krag van die digter/digkuns. Nodeloos om te sê, die boekie was onmiddellik in my uitmandjie. Ek lees graag agter die trefgedagtes van gedigte aan, soos MM Walters se dikwels amper siniese vrae oor mense en godsdiens, TT Cloete se op-die-man-af uitdrukking van gedagtes, Adam Small se skerp woorde en vrae, die stouterige gedagtes van De Vos en Boerneef en Breyten Breytenbach se aweregse aanslag. Ek dink aan Opperman se gedig in verskeie digtersformate oor die weduwee Viljee met haar twee honde langs die see, Antjie Krog se amper kru aardsheid – “Manifes van ’n ouma” – en so baie ander. Ek kan myself vir ure sit en verkneukel, vasgevang in die Groot Verseboek-trilogie wat deur André P Brink saamgestel is. Hierdie stel is beslis op my eilandlysie.[1]

Niefiksie is natuurlik die leesstof waarmee ek seker 99% van my leestyd deurbring. Elke persoon het maar sy unieke feitebelangstelling. Indien ek op LitNet enige artikel sien wat na Afrikaans verwys, is dit die eerste wat ek lees, want ek is versot op ons taal se uitsonderlike segswyses, die herkoms van woorde, ens. Sonder niefiksie sal ek maar moeilik oorleef. Ek is mal oor my eie vakgebied, nl wiskundige statistiek, en die verwante onderwerpe wat enigiets onder die son kan behels. Geen vak kan op sy eie bestaan nie. Om twee eenvoudige voorbeelde te noem: Afrikaans as taal, die Bybel, skrywers van boeke in die Bybel, wiskundige statistiek en wiskunde het gemeenskaplike terrein. ’n Geldige vraag mag nou wees: Hoe kan dit wees? Beskou die vraag: Hoe kan ons vasstel of Paulus wel die skrywer van Hebreërs was? Om dit te kan beantwoord, benodig ’n mens uit die aard van die saak al die bogenoemde komponente. Deur die benutting van die karaktereienskappe van die taal wat gebruik word, kan dit statisties mbv sekere wiskundige metodes ontleed word en ’n waarskynlikheidsbeslissing kan geneem word. Hoe bepaal ’n mens ’n kerkklok se gieter op grond van die klok se fisiese en akoestiese eienskappe as die gieter nie sy naam daarop aangebring het nie? Weer eens lê die antwoord in wiskundig-statistiese tegnieke. Ek dink dat dit juis dít is wat my interesseer, nl die onverwagte skakeling tussen oënskynlik totaal onverwante onderwerpe. Die niefiksie-genre vra vir rustigheid en diep dink, herdink, wonder en verwonder. Twee ander boeke op my eilandlysie is dan ook The road to reality deur Roger Penrose, en Gödel, Escher, Bach: An eternal golden braid deur Hoffstadter. Laasgenoemde boek kloof logika tot op die been oop. Daar kan egter soveel meer hier bygevoeg word.

Geskiedenis, veral Kaaps van aard, skep die geleentheid vir kalmte en rus en dan ’n heerlike gesprek oor dit wat ek of die ander lede van die gesin nie geweet het nie of wel geweet het. My vrou het deur middel van haar lees van die boek Mientje van die Pas-Opkamp en soortgelykes weer my belangstelling in die twee wêreldoorloë geprikkel. Geskiedenis is ’n onuitputbare bron van lees en geniet, partykeer met verwondering dat die mens so stiksienig kan wees, selfs in die gesig van die geskiedenis in, toe en nou. Dit gee my hoendervleis om my eie Kaapse geskiedenis soos in Achmat Davids se Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (verwerk deur Hein Willemse) te lees en voor my oë te sien oopgaan. Dinge waarvan ek bewus was, maar waaraan ek nooit regtig aandag gegee het nie. Geskiedenis, taal, woordeboeke (ja, reg gelees), atlasse of wat ook al bly ’n bron van leesplesier.

Van die eilandlysie gepraat – dit bring my by die volgende genre. Baie mense sal van my verskil, maar van niefiksie, of betwisbaar deels-fiksie gepraat … Hoe lekker steek ek my kop nou uit! Maar toemaar, ek is al redelik ge-“paneelklop” deur die lewe en kan dit vat. Een van die vernaamste boeke op my lysie is Thompson’s chain-reference Bible. Vir my, met my lekekennis van die Bybel, is daar geen boek wat naastenby daarby kom wat inligting, kruisverwysings, opsommings, perspektiefskepping, ens betref nie. Dit was ’n geskenk van my pa[2] af en boonop het ek sy eie kopie, met al sy eie kantlynnotas, ook na sy dood gekry. Dis ’n onuitputlike bron van kennis en sin van waarde.

In my bespreking het ek na ’n net ’n paar spesifieke skrywers verwys, maar daar is soveel, elkeen met sy eie nuanse, wat my aantrek. En ek sal seker voort kan borduur, maar dis nou seker genoeg hiervan.

Nou weet ek ook nie of ek my eie vraag beantwoord het nie. Oordeel maar self. Daar is soveel waaraan ek nie eens geraak het nie, wat elk op sy eie groot plesier verskaf, maar ek moet seker nou staak. Hoe dit ook al sy, ek geniet dit ten volle om te lees en sê dankie aan alle skrywers. Dis ’n besondere gawe wat skrywers ontvang het en ek is so bly om die resultaat daarvan te kan geniet. En net so terloops: boeke vir my, nie e-boeke nie. Laasgenoemde is nie ekke nie.

Leser, hoekom lees jy wat nou hier lees? Het jy ook ’n eilandlysie? Ek sou graag wou weet.

[1] Eilandlysie: Die lysie van boeke wat jy by jou wil hê as jy vir die res van jou lewe alleen op ’n eiland moet deurbring.

[2] JHA van Deventer, ook bekend as Oom Jak, remediërende onderwyser, spesialis in Bybelkennis, Latyn, Grieks en Hebreeus, sommer ’n doodgewone ou wat ook nie by ’n boek kon verbystap nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top