Hoekom raak vroue verlief op moordenaars?

  • 4

Carla van der Spuy

Carla van der Spuy het die redes waarom mense tot geweldsmisdadigers aangetrokke voel, vir haar nuwe boek, Liefde agter tralies, ondersoek.

 'n Man in 'n uniform het nog altyd vir vroue 'n soort bekoring ingehou. Maar dan praat ons weens ooglopende redes nie van 'n skeloranje uniform agter tralies nie.

Tog is daar vroue wat tot geweldsmisdadigers en reeksmoordenaars aangetrokke voel. Party het al selfs in die spreekwoordelike skaduwee van die galg die knoop met hul onwaarskynlike geliefde deurgehaak – met 'n gewetenlose en koelbloedige misdadiger wat deur ander gehaat en gevrees word. Vir hulle is hierdie mense nie die soort monsters wat in die media uitgebeeld word nie, maar onweerstaanbare aspirantminnaars, ver verwyderd van Meneer Gewoon. Die liefde van hul lewe.

Amerika is veral bekend vir sy sogenaamde "serial killer groupies". Hulle pak die hofsale vol waar die grusaamste getuienis oor die beskuldigde in soms makabere besonderhede gelewer word. Dan begin hulle daaroor te fantaseer om hierdie man te ontmoet, 'n verhouding met hom aan te knoop en selfs met hom te trou. Byna soos wat die geval met rocksterre en celebs is, maar hierdie is 'n omgekeerde soort heldeverering. Die man is skaars agter slot en grendel of die huweliksaansoeke en briewe stroom in.

Hoekom? Is die vroue dan heeltemal van lotjie getik?

Blykbaar nie. Daar is talle redes vir hierdie vreemde liefdesverhoudings en hulle weet presies wat hulle doen.

Die redes hoekom vroue met mans agter tralies afhaak, het my nog altyd gefassineer. Wat sou die aantrekkingskrag wees? Veral as hulle die geweldsmisdadiger met die lewenslange vonnis of een wat selfs ter dood veroordeel is, vir die eerste keer agter tralies ontmoet het? Hoekom so 'n  onkonvensionele verhouding aanknoop wat uit die aard van die saak met talle uitdagings gepaardgaan en willens en wetens 'n geliefde met 'n "kleurryke" eerder as vlekkelose verlede verkies?

Sheila Isenberg, skrywer van die opspraakwekkende boek Women Who Love Men Who Kill, dink nie dat vroue wat met geweldsmisdadigers trou, van lotjie getik is nie. 

Volgens haar is hierdie vroue doodgewone mense uit alle vlakke van die samelewing – en hul getalle is aan die toeneem. Dit was ook my ervaring toe ek onderhoude met tronkbruide gevoer het. Hulle het vir my doodgewoon, maar helaas, smoorverlief voorgekom.

Hier volg van die redes wat kenners soos sielkundiges en kriminoloë wat in die boek aangehaal word, verskaf.

Party vroue voel tot die sogenaamde "bad boys" aangetrokke, in so 'n mate dat sommige van hierdie toegewyde vroue wat moordenaars liefhet selfs van ander lande af verhuis om naby hom te wees.

Hulle het nie 'n werklike man lief nie, maar hulle is op die illusie van 'n man verlief. So 'n verhouding is veel meer kunsmatig. Hulle kan hul afstand behou. Party is bang vir die intimiteit wat 'n huwelik meebring. Om met 'n veroordeelde moordenaar te trou, is 'n manier waarop 'n vrou 'n verhouding kan hê sonder om te na aan die man te kom. Sy kan selfs vir die res van haar lewe 'n maagd bly.

Party (beslis nie almal nie) was vroeër slagoffers van mishandeling en geweld, maar hul vermoë vir ontkenning en hul behoefte aan 'n veilige, geïdealiseerde en romantiese fantasie van die liefde oorheers hul oordeel. Omdat hulle bereid is om alles prys te gee vir 'n liefde sonder hoop, belofte of huweliksregte, is hulle daarvan oortuig dat hul liefde waarde het.

Volgens Isenberg is dit ook 'n manier om beheer oor 'n man met mag uit te oefen. Dis soms selfs 'n geval van hoe erger die misdaad is – soos dié van reeksmoordenaars en massamoordenaars soos David Berkowitz, Ted Bundy en John Wayne – hoe belangriker voel sy. Die berugte Richard Ramirez, wat in 1989 weens 13 aanklagte van moord, 5 aanklagte van poging tot moord en 11 aanklagte van seksuele aanranding in Amerika ter dood veroordeel is en die gevreesde bynaam "The Night Stalker" gekry het, het geen tekort aan vroulike aanbidders gehad het nie – na sy vonnis meer as ooit vantevore.

Gevangenes kan erg manipulerend, sjarmant of aantreklik wees. Baie van hulle  is natuurlik sosiopate of narsisiste. Die reeksmoordenaar Ted Bundy met sy Hollywood–voorkoms en charisma was intelligent en besonder welsprekend. Jong vroue het die hofsaal tydens sy verhoor volgepak. Hy is met een van hulle, Carol Ann Boon, getroud, maar nie agter tralies nie. Net daar in die hof waar hy verhoor is. Hy het gedurende die straffase van die verhoor 'n obskure wet in Florida tot sy voordeel gebruik, een wat daarvoor voorsiening maak dat 'n huweliksverklaring in 'n hof en in die teenwoordigheid van 'n regter 'n wettige huwelik uitmaak. Hierdie huwelikseremonie kan op YouTube besigtig word. 

Van die vroue voel tuis tussen gewelddadige mans. Dis die lewe wat hulle ken. Party het 'n familielid soos 'n broer of 'n pa in die tronk. Dus is dit nie vir hulle vreemd of selfs skandalig om geliefdes agter tralies te hê nie.

Dan is daar diegene wat dit vir die "sensasie" of aandag doen. Ek vermoed Sandie Blanton, 'n blonde, getatoeëerde Britse ouma wat destyds sommer twee keer troukoors gekry het, wel wetende dat die mans van haar hart die doodstraf opgelê is, het die media-aandag geniet. Sy het op al wat televisiekanaal en koerante is, gepronk en was waarsynlik op soek na avontuur.

My ervaring met die sogenaamde Boeremagbruid Riëtte Pretorius en die Skierlik–bruid Maryna Naudé was dat die teendeel eerder vir hulle gegeld het. Dit het talle onderhandelinge en mooipraat gekos voordat hulle tot onderhoude vir die boek ingestem het. Hulle het net vir my werklik baie verlief voorgekom. Maryna se huwelik met Johan Nell het egter nie gehou nie.

Wat my opgeval het, is dat baie van hierdie "tronkbruide" intelligent is. Daar is heelwat gevalle van joernaliste, maatskaplike werkers en selfs prokureurs wat liefdesverhoudings met gevangenes aangeknoop het.

Daar is natuurlik ook mans wat halsoorkop verlief raak op vroue agter tralies, soos die geval met Susan Atkins, wat weens haar betrokkenheid by agt van die wreedaardige Manson–moorde 37 jaar lank agter tralies was. 

Susan, wat in 2009 op 61 aan breinkanker gesterf het, het twee keer getrou nadat haar doodsvonnis in lewenslange tronkstraf omskep is. Die tweede keer was James W Whitehouse, 'n Harvard regsgegradueerde wat haar van 2000 tot 2005 tydens borgtogverhore verteenwoordig het, haar bruidegom. Hy het selfs 'n webtuiste bestuur wat aan haar toegewy was. Sy het 11 keer vir parool aansoek gedoen. Selfs terwyl sy sterwend was, het haar man sonder welslae gepleit dat sy om menslikheidsredes vrygelaat word. Sy was 16 jaar ouer as hy en hulle was 21 jaar lank getroud toe sy aan breinkanker oorlede is. 

Die liefde kamoefleer dus dikwels die geweldsmisdaad.

Henk Swanepoel, mede–skrywer van die boek Sielsiek, waarsku egter dat hierdie soort verhouding gewoonlik in die hofmaakfase stagneer.

Dit kan ook die gevolg van psigodinamiese kragte wees soos wanneer 'n vrou byvoorbeeld self 'n magtige drang het om te moor of oor patologiese vlakke van woede beskik. Sy sal dan met die moordenaar trou om hierdie moordgedagtes en behoeftes sosiaal uit te leef – die man se moord word dus háár moord. 

Die redes vir so 'n verhouding kan ook seksueel wees en die term "hybristophilia" word hiervoor gebruik. Dis waar kontak met 'n geweldsmisdadiger seksuele opwekking veroorsaak.

Ander sielkundiges het ook interessante sienings oor hierdie tendens. Hermann Liebenberg, 'n sielkundige van Centurion, verwys na 'n Franse uitdrukking wat as "om nostalgies in die modder te wees" vertaal kan word, wat beteken om aangetrokke te voel tot iemand wat onkonvensioneel is en glad nie jou waardestelsel deel nie.

Sommige vroue is daarvan oortuig dat hulle die "ongeslypte diamant" gaan slyp en verander. Die sielkundige en skrywer Shani Grové het al gesê 'n vrou se behoefte om iemand te red, speel dikwels 'n rol. Om iemand in die tronk te help, is die uiterste vorm daarvan. Jy bevestig jou eiewaarde en verwerf deur jou opofferings selfs "punte" in die Hemel, sê sy.

Die kriminoloog Christiaan Bezuidenhout, wat navorsing gedoen het oor vroue wat met gevonniste geweldsmisdadigers trou, meen baie van hierdie vroue kom uit die een of ander mishandelende verhouding – óf in hul ouerhuis óf in vorige verhoudings. As hulle 'n verhouding met 'n gevangene aanknoop, voel hulle veilig. Hulle ontmoet die man dan ook in 'n veilige plek. Die vrou kan die verhouding beheer. Hy meen ook 'n mens kan hier 'n analogie maak met vroue wie se mans in oorlogsituasies werk, soos byvoorbeeld soldate. So 'n verbintenis vereis slegs 'n emosionele verhouding; die fisieke en seksuele eise word dan vrygespring en die verhouding kan desondanks staande bly.

Baie vroue wat by gevangenes betrokke raak, het 'n lae selfbeeld. Hulle is daarom dikwels vatbaar vir sosiopate en psigopate se sjarmante optrede. Hierdie vroue se belangstellende optrede bevredig die tronkvoël met 'n persoonlikheidsversteuring se ego op 'n patologiese wyse.

Nog 'n moontlike rede hiervoor is die sogenaamde Stockholm-sindroom. Die bruid raak so vasgevang in hierdie dilemma in haar kop dat sy haarself as die gevangene se "redder" beskou. Dieselfde sielkundige prosesse wat in werking is soos met die Stockholm-sindroom, is derhalwe ter sprake. Die bruid kry 'n soort emosionele bevrediging uit die hele situasie aangesien sy die enigste een is wat die man en die redes vir sy optredes “verstaan".

Vir die gevangene hou so 'n geliefde talle voordele in.

Die vrou skryf voortdurend vir hom briewe en dek soms sy regskoste en maak soms selfs vir hom 'n bankrekening oop, terwyl die "getroude status" en 'n vaste adres (van die vrou) ook 'n gunstige persepsie vir 'n paroolraad kan skep.

Liefde agter tralies
Carla van der Spuy
Tafelberg
ISBN: 9780624087007

Liefde agter tralies – ware Suid-Afrikaanse verhale is Carla van der Spuy se sewende boek. Dit word deur Tafelberg uitgegee en is in toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek het 'n oom geken wat altyd gese het as hy Sondae kerk toe gaan, dan kry hy darem 'n punte in die hemel, sal maar liefs nie sy naam verklap nie. Die menslike psige is maar vol geheime.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Daar is talle voorbeelde van vroue wat op moordenaars verlief geraak het hier in SA. Roland Roberts was 'n gewelddadige seksmoordenaar. Nadat hy reeds ter dood veroordeel is, het 'n meisie so erg verlief geraak op hom dat sy met hom wou trou. Hy is op 11 November 1957 tereggestel. Clarence van Buuren se verhoor is gekenmerk deur hordes vroue wat vroeg voor die hof in 'n lang tou gewag het en dan die hof binnegestorm het vir die beste sitplekke. Een meisie het self 'n kampstoeltjie saamgedra. Na die skokkende feite van sy saak bekend geword het - ontvoering, verkragting, liggaamskending en moord van 'n 18-jarige meisie - het vroue nog steeds vir hom liefdesbriefies geskryf. Een het aanhou soek vir verontskuldigende getueinis tot na sy teregstelling op 10 Junie1957, en dit nadat Van Buuren se eie broer hom ontbloot het as 'n man wat verskeie vroue seksueel aangerand en mishandel het. En meer onlangs: Henri van Breda.

    Ek kan aan geen logiese verduideliking vir hierdie gedrag van daardie vroue dink nie.

  • Avatar
    Carla van der Spuy

    Ja, baie interessant. Ek vermoed daar is beslis ook vroue wat dit vir opwinding doen omdat hulle self oor onderdrukte aggressie beskik of vir die media aandag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top