“Hoe sal mens ’n ander, jouself ooit bevry?”: Herinneringe aan Charles Fryer

  • 1

Die begin

Die toneel: eetsaal van Helderberg-manskoshuis op Stellenbosch. Die jaar: 1967. Ons, die eerstejaars, mag saam met die seniors aansit.

Ek sit regs van ’n man wat nog ’n baie groot rol in my lewe sal speel: Kadmon die reus (Fanie Olivier se benaming), Charlemagne, Charley-boy, oftewel Charles Fryer. Dié van sou in sy jare by Tafelberg-Uitgewers tog so dikwels in korrespondensie verkeerd gespel word: Friar, Freier, Vreyer.

Charles Fryer

Ek, eerstejaar, moet swyend luister na hom en nog ’n senior, Edwin Dekker. Hulle bespreek daardie oggend se voorvalle in DJ Opperman se letterkundige laboratorium. Opperman laat hulle klasgenote se werk bespreek sonder om te weet wie is wie s’n. Ek sou in ons jaar uitvind die anonimiteit werk nie werklik nie. Charles en Edwin is vol bewondering vir EWS Hammond se erotiese “soek putt-putt-plek/ tussen boude,/ ... / lê hulle swaar/ gehotdog.” Hammond sou ’n huisvriend van die Fryers word; hulle sou hom op velerlei maniere onderskraag. Charles word redakteur van sy Hamburgers en hotdogs in 1980 en die bekroonde Doodsteek van ’n diabeet in 1995.

Charles is in dié tyd ook Opperman se assistent. Opperman “lei sy kandidate in met Dekker”, verwag dat ons later die “letterdoelas” sal kan ontdek. Jy skryf daarom toets by Charles oor G Dekker se Afrikaanse Literatuurgeskiedenis, en jy moet ook aantree by hom sodat hy jou kan ondervra oor boeke op ’n leeslys. In my geval het Charles WEG Louw se Die ryke dwaas gekies. Jare later sou ons albei by Tafelberg-Uitgewers uitgawes van Louw se Versamelde gedigte versorg: hy per telefoon, ek liefs skriftelik. Dit was een van Charles se geliefde werkswyses: om die gehoorbuis so vas te knyp tussen skouer en oor terwyl hy aantekeninge op ’n teks maak.

Kry jy ’n goeie punt by Charles, was jy op pad na ’n goeie predikaat vir Afrikaans en Nederlands.

In dieselfde jaar toon hy hom as ’n ou met integriteit. ’n Hele aantal seniors is geskors uit die koshuis weens wangedrag by ’n feestelikheid. Charles kies die ander se kant en skors homself. Nou leef hy lekker boheems in ’n ruim bokamer in Pleinstraat.

Man van die teater

Charles is ook dramastudent in die beginjare van die HB Thom-teater. Onder Fred Engelen se leiding beleef die dramadepartement ’n hoogbloei. Rina Botha is die spraakdosent. Charles memoriseer die hele, maar hele, “Die Hond van God” van Van Wyk Louw, maar toe gee sy juis daardie dag ’n “koffieklas”. Maar daar by die voorportaaltrappe reël Rina ook voordragaande. Soos met Annelize van der Ryst, Charles en ander. 7de Laan se Matrone vertolk Hennie Aucamp se “Die Hartseerwals” aangrypend en hy bied Leipoldt se ”’n Handvol gruis” aan. Hy kom ingestap tot by ’n “lessenaar” en asof hy ons verwag het, “gesels” hy so eg en natuurlik oor die voortreflikheid van die Hantamwêreld. Dit was immers sy jeugland in die werklike lewe. In sy gedig “Windharp” in Rooiwielwa skryf hy self oor daardie kontrei se “hartseermooi” van “Oktoberveld se kleur” en “die swartstoofwinters” wat “tóg warmer as nou” was. In 2000 neem Abraham de Vries Charles se kortverhaal “Dokter Niemeyer” op in Uit die kontreie vandaan. Ons is op Calvinia in Waterstraat waar ’n “juffrou” tevergeefs wag op haar “verloofde”, dr Niemeyer. Van agter “stowwerige rooi malvas” kyk sy doelbewus verby “die opgeefsels van die rante”. Die dokter wil maar net nie opdaag nie. Elke keer ’n ander verskoning

Charles het ook Banquo vertolk in ’n Engelen-produksie van Macbeth. Teenoor Tine Balder was hy ’n vryer in Yerma. Hy het dikwels vertel hoe hy dié ervare, professionele akteurs dopgehou het, hoe ligsinnig hulle kan raak agter die skerms, maar ’n rukkie later stap hulle weer dadelik in hul rol in.

Een van sy bekendste gedigte, “Dood van ’n akteur”, is aan Fred Engelen opgedra. As Caesar en Macbeth het die akteur “die uiteindelik-stil-word gerepeteer”.

Maar toe hy niksvermoedend, soos bepaal,
vertolking as vertoning moes herhaal,
vind hy, gestroop van kleed en kleur,
die mens moet sterf as amateur.

Charles se teaterkennis het hom te pas gekom in die jare waartydens hy lid was van die beoordelaarskomitee vir die Fleur du Cap-toneelpryse. En sekerlik ook met die skep van die passiespel, Só moes die Liefde ly. Dit is verskeie kere opgevoer in die jare neëntig, byvoorbeeld in die Kangogrotte. Telkens het ’n mens verneem: die aanbieding het vir die gehore én vir die deelnemers geestelike verryking gebied.

Die uitgewer

Ná sy universiteitsopleiding is Charles Afrikaansonderwyser aan die Hoërskool DF Malan in Bellville. ’n Gewilde een. Dit was in hierdie jare dat ons van die fiksieredaksie by Tafelberg-Uitgewers hom as keurder begin betrek het; ook vir Loreinne vir proefleeswerk en vertaal van kinderboeke. In 1975 ontstaan ’n vakature en Charles betrek “’n smal kantoor” in die Waalburggebou langs Berta Smit. “Die potplant in die venster/ blom pienk gesiggies/ plat teen die ruit” (“Rooidag: stad”).

Tot aan sy beroerte in Januarie 2002 sal hy die vertroueling en redakteur wees van nou reeds oorledenes soos Ernst van Heerden, Sheila Cussons, FA Venter, George Weideman en Dalene Matthee. Dan is daar die lewendes, soos TT Cloete, Elsa Joubert, E Kotze, Dan Sleigh, Petra Müller, Rachelle Greeff, en ander.

Man met ’n glimlag

Naas die ure der ure se stipte konsentrasie met die redigering en proeflees van hierdie dikwels omvangryke en verwikkelde werk, die onderhandelings met die skrywers, boekontwerpers en kollegas, skuldgevoelens oor sy afskeep van sy gesin, was daar ook die ligter oomblikke. Charles sou vanoggend ’n gejil begin en dit soos ’n vervolgverhaal volhou tussen die werk deur tot huistoegaantyd. Of hy sal vra dat ons twee “butch” moet praat, net om te ontlaai. Met sy uitgebreide kennis van rolprente, veral van toeka se dae, het hy graag byname uitgedink, die sterre vernoem. Ek was Orson Welles of Jack Nicholson. En dan was daar dié groot pret vir hom: Bejaarde dames wat graag ’n Barbara Cartland of Josephine Cox wil word, kom spreek hom oor ’n beplande boek. Deel van ons “gulle” ontvangs van die senior burgers was dat hy hulle tot in my kantoordeur bring. Hy bly agter hulle staan; hulle sien nie hoe hy glimlag nie. Ek spring op, praat my beste Engels, is vol van die “milk of human kindness”. En hy kan sy lag nie hou nie vir my hartlike ordentlikheid en die dames wat alles tog so waardeer nie ...

In die latere jare, toe DJ Opperman weer keuring vir ons begin doen het, het Charles my darem op ’n dag verleë gemaak. Hy bring ook die professor tot in my deur en sê: “Professor onthou nog vir Danie Botha?” Ek en prof Dirk grinnik vir mekaar.

En toe is dit my vyftigste verjaardag. Ek stap ná middagete oor Waalstraat na die Waalburggebou. Meteens hoor ek ’n stem uit die hemel. Eintlik ’n verpiepte een vanaf die tweede verdieping. Dis Charles wat deur ’n kartonbuis Kaapstad laat weet: “Danie Booootha is vyftig!”

As afdelingshoof moes hy my en Ettie Williams se klaptekste goedkeur; hy het altyd presies die problematiese gedeelte uitgelig. Ek het gespot dat ek al 88 sal wees, dan kom staan ek nog voor sy lessenaar en prewel: “Ke... ke... kyk asseblief na my kl...klapteks, Ttt... Charles.”

Ons vriendskap, ons werksverhouding ... Charles beskryf dit op 9 Junie 1978 in my kopie van Rooiwielwa:

Jy is te veel van jou, te veel van my,
hoe sal mens ’n ander, jouself ooit bevry;
ons drome bloei wit, ons wonde dra,
diep lê die nag om my rooiwielwa.
 

Charles Fryer (foto: Etienne van Heerden)

Lees Petra Müller se huldeblyk.

Lees ook Annari van der Merwe se huldeblyk.

Lees ook Ellen Botha se huldeblyk.

  • 1

Kommentaar

  • Leipoldt en Fryer se Hantam is nie een en dieselfde ding nie. Leipoldt se Hantam is die omgewing van Clanwilliam; Fryer kom van Calvinia waar die Hantamberge geleë is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top