Hoe moet ons oor geweld dink?

  • 0

Sommige denkers meen dat die grondoorsaak van die onuitspreeklike geweld in Suid-Afrika wesenlik struktureel is: dit is die neweproduk van die gewelddadig-uitbuitende neoliberale ekonomie, waarvan die primêre winsmotief sowel hoë werkloosheid as oorbesteding dryf, en waarvan die telos sosiale ineenstorting is. Ander argumenteer dat die geweld meer te doen het met 'n armoede van die siel; 'n gebrek aan identiteit en selfrespek wat dikwels tot beseflose dwelmmisbruik lei. Nog ander beweer dat 'n onderliggende eksistensiële krisis hiervoor te blameer is; 'n nihilistiese hopeloosheid oor die verlede en die toekoms wat tot 'n patologiese gevoel van wortelloosheid, leegheid en verveeldheid aanleiding gee, en slegs fragmentaries verlig word deur hoë-intensiteit-kitsbevrediging wat op die rand van die dood gesoek word.

En so gaan dit … Elke diskoers, van kriminologie tot Christendom, het iets te sê oor geweld. Een ding is duidelik: dis onmoontlik om die een "oorsaak" as uitsluitlike verklaring bo die ander uit te sonder. In plaas daarvan sal ons geweld as 'n komplekse verskynsel moet benader wat op verskeie vlakke verstaan en hanteer moet word.

Ek meen dat die beste bydrae wat 'n filosoof tot hierdie kort bespreking kan maak, nie is om aan u te sê wát om oor geweld in Suid-Afrika te dink nie, maar eerder om enkele idees met u te deel rondom die vraag hóé om daaroor te dink.

 
Die eerste idee het met kompleksiteit te make

Dit kom vir my voor dat die globale geweld wat ons konfronteer – en hier is Suid-Afrika geen uitsondering nie – simptomaties is van 'n traumatiese breuk tussen ervaring en begrip.

Vandag is gebeurtenisse en verhoudings ontsettend kompleks, en ons ervaring word deur onsekerheid en paradoks gekenmerk.

Op die vlak van kognitiewe prosessering en begrip benut ons desnieteenstaande nog steeds anakronistiese denkpatrone en teoretiese raamwerke wat nie geskik is om kompleksiteit te hanteer nie.

As 'n reël is dit wanneer iemand iets nié kan hanteer nie dat mense hulle tot geweld wend.

En dienooreenkomstig beteken dit dat ons moet leer om aan die hand van komplekse strukture te dink.

Ek weet dit is maklik om te sê en moeilik om te doen – maar indien ons nie probeer nie, loop ons gevaar om slagoffers (van “road-kill”) op die evolusionêre hoofweg te word.

· Ons moet leer om op te hou om in twees te dink, in pare van teenoorgesteldes en duidelike "óf dit óf dat"-keuses, en begin om in dries te dink – of méér alternatiewe – waar "óf dit óf dat"-keuses geen sin maak nie.

· Ons moet ook leer om op te hou om in terme van eendimensionele verklaringsraamwerke te dink, en begin om in meerdimensionele terme te dink: oorvleuelende lae of strata, ineensluitende sfere, interrelasies.

· En ons moet leer om te begin om in terme van paradoks, dilemma, aporia, onsekerheid, onbeslisbaarheid, relatiwiteit te dink …

Hier is 'n voorbeeld: Definisies van die belangrikste begrippe plaas 'n mens voor 'n dilemma, omdat hulle gewoonlik twee of meer aspekte insluit wat mekaar weerspreek, maar almal nietemin onontbeerlik is vir 'n toereikende definisie. Dink byvoorbeeld aan die definisie van die self. Die filosoof se taak is tradisioneel voorgestel aan die hand van die opdrag, "Ken jouself", wat vooronderstel dat jy jouself waarlik kán ken. Psigoanalise leer ons egter dat die "ware" self wesenlik onkenbaar is, omdat dit onbewus is en slegs momenteel "sigbaar" of toeganklik word in onverwagte, simptomatiese "glipse". Terselfdertyd leer ons in die etiek dat die self slegs in verhouding tot die "ander" gekonstitueer word. (Ek is omdat jy is.)

Wat is dan die ware definisie van die self? Is die ware self 'n geheimenis vir sigself? Is dit dalk die sublieme "Ding" in my wat selfs myself verras? Alternatiewelik, is die ware self die alter ego wat ek kan identifiseer en verstaan as myself – die een waarna ek verwys wanneer ek sê: "Ek is net nie vandag myself nie"? Aan die ander kant, is dit waar dat "geen mens 'n eiland is nie", en dat ons almal wesenlik deel is van 'n kollektiewe bewussyn?

Kan u sien dat dit die verkeerde manier is om hierdie vrae te stel? Hierdie soort vraagstelling is nog steeds 'n funksie daarvan om in terme van twees en "óf dit óf dat"-keuses te dink. Wat ons egter eerder moet doen, is om uit te werk hoe hierdie botsende dimensies verbind is.

Dit bring my by die tweede idee

Diefiguur van die Borromiaanse Knoop in Lacaniaanse psigoanalise is 'n nuttige heuristiese middel om ons denke hier te lei.

In 'n Borromiaanse Knoop is drie ringe so verbind dat, indien een breek, die ander twee ook uitmekaar val. Elke ring verbind dus die ander twee én hou hulle terselfdertyd uitmekaar.

Die Borromiaanse Knoop bied ons dus 'n middel om 'n komplekse definisie van die self te modelleer wat die donker kant daarvan bevestig (eerste ring), sowel as die persoonlike-identiteit-kant (tweede ring) en die intersubjektiwiteit-aspek daarvan (die derde ring).

Dit verteenwoordig ook die insig dat, selfs al bots hierdie dimensies gewoonlik met mekaar, die vernietiging van een van hulle die begrip van die self totaal sou vernietig.

Met behulp van dieselfde patroon van drie ineensluitende ringe kan ons nou 'n komplekse definisie van menswees genereer om drie korrelatiewe synswyses van die menslike subjek voor te stel: die Reële (die sfeer van sublieme misterie); die Imaginêre (die sfeer van singuliere identiteit) en die Simboliese (die sfeer van universele kommunikasie).

· Die Reële: Die Reële benoem ons eerste, vroegste synswyse. Pasgeborenes ervaar lewe as 'n volkome bevredigende "genotskringloop of -siklus" tussen die behoeftige wese en die Cornucopia, die (bevredigende) Nebenmensch (byvoorbeeld die moeder). Maar suigelinge besef gou dat die Nebenmensch eintlik buite die genotsiklus is, nie betroubaar beheer kan word nie, en gevolglik 'n bedreiging inhou. Die Nebenmensch word dus 'n ambivalente figuur van sowel genot as vrees, en gee aanleiding tot 'n ondraaglike toestand van angs. Van die eerste kennismaking met angs word ons begerende wesens, en begeerte manifesteer sigself aanvanklik as 'n infantiele skreeu vir die herstel van 'n toestand van volmaakte genot (“jouissance”), waar daar geen dreigende "buitekant" is nie. Maar dit waarvoor die suigeling skreeu, is 'n hersenskim, want die toestand van volmaakte genot was nooit in die eerste plek daar nie. Omdat ons begeer wat ons in beginsel nie kan hê nie, is begeerte 'n konstante toestand. Hierdie onuitwisbaarheid van begeerte ondermyn ons vertroue in ons eie vermoë om genot te herstel deur 'n houvas op die Nebenmensch, of wat dit vir 'n volwassene verteenwoordig, naamlik 'n onderliggende "werklikheid". By wyse van 'n "suur druiwe"-gebaar verwerp ons uiteindelik die angs-inboesemende Nebenmensch: dit word, soos Kristeva dit stel, "veragtelik" (“abject”): omdat ek nie daarop kan staatmaak om suiwer genot te produseer nie, kan ek ook nie langer daarmee identifiseer nie, en wil dit gevolglik "uitspoeg" en selfbeskermende skanse oprig. Dit word die geheimsinnige, walglike, noumenale "Ding" in teenstelling waarmee ek van nou af die genotskringloop sal definieer wat "my identiteit" uitmaak.

· Die Imaginêre: Van ongeveer ses maande, in wat Lacan die Spieëlfase noem, word die synswyse wat kenmerkend is van die Reële met 'n nuwe, alternatiewe synswyse, die Imaginêre, bedek (dog nooit daardeur uitgewis nie), waarin die genotskringloop herkonstitueer word, maar nou geheel en al as intern. Hier word 'n kragtige spieëlbeeld of alter ego in ons psige gevestig – een wat op die verlore Nebenmensch gemodelleer is, wat nou die "skone siel" word waarmee ek identifiseer as die "ware ek". In die Imaginêre orde gebeur dit dat ander mense die alter ego verteenwoordig. Ek sien jou as 'n ander net soos ek, 'n weerspieëling van my, en ek het "jou" lief in die mate dat jy dit wat ek graag wil wees, verteenwoordig. Jy word 'n rolmodel: iemand om na te boots, of om nié na te boots nie. Op 'n kollektiewe vlak neem hierdie alter ego vorm aan in religieuse, kulturele en etniese fiksies van die ideale wêreld. Die Imaginêre synswyse word aanvanklik deur "infantiele megalomania" gekenmerk, wat 'n verhouding van liefhebbende identifisering aandui – 'n ten volle bevredigende "genotskringloop" tussen die eintlike ego en die alter ego.

Dog – die patroon van verlies en veragting herhaal sigself.

Ek besef gou dat die aktuele ego geensins die alter ego se gelyke is nie, maar paradoksaal genoeg, hoe harder ek aan self-edifikasie werk, hoe meer ervaar ek myself as gebrekkig. Net soos die Nebenmensch, word die alter ego ambivalent of dubbelsinnig. Dit funksioneer enersyds as 'n geliefde protesis wat my aanmoedig om harder te werk, en andersyds soos 'n streng, tirannieke regter wat van my 'n voortreflikheid verwag wat ek nie kan lewer nie. Voor so 'n regter word die eintlike self of wêreld toenemend gedevalueerde voorwerpe van skuld, skaamte en veragting. Weer eens word my selfvertroue deur hierdie dubbelsinnigheid ondermyn en veroorsaak dit ondraaglike angs. In 'n gebaar van selfbeskerming word die alter ego nou die "veragtelike" (“abject”) – ek identifiseer nie langer daarmee nie, maar wil dit vermorsel en daarvan ontsnap. Hierdie poging tot "selfvernietiging", of die rebelse weerstand van 'n eksklusivistiese identiteit – hetsy individueel of kollektief – manifesteer sigself in ontwikkelingsterme as 'n sterk begeerte om soos alle ander mense te wees, om nie opvallend te wees nie. In 'n inklusiewe gebaar draai ek dus na die res van die mensdom.

· Die Simboliese: Liefde, wat die individualiserende alter ego as voorwerp het, word hier "bedek" (weer eens nie uitgewis nie) deur die seksuele passie, waarvan die voorwerp die universele gemeenskap is, en ons verwerf 'n derde synswyse, die Simboliese, ongeveer wanneer ons leer praat. In die simboliese orde, wat die mag van abstrakte denke en die universeel-kommunikerende self verteenwoordig, is ons primêre belang 'n globale samehorigheid. Aanvanklik verwag ons dat ons in die universele menslike gemeenskap oplaas die volkome bevredigende "genotskringloop" waarna ons smag, sal ontdek, daar die res van die mensdom gesien word as die komplement wat my uiteindelik "heel" sal maak.

Maar weer eens herhaal die patroon van verlies en veragting sigself via die ambivalensie van 'n globale gemeenskap: dit is nie alleen 'n bron van altruïstiese selfopoffering en mededeelsaamheid nie. Die utopiese droom van gelykheid word die bron van 'n kloustrofobiese bedreiging van eendersheid. Die menslike geheel word die irrasionele voorwerp van onreflektief-toegepaste, universele reëls (die “outomaat”), die globale media word die versamelplek van oppervlakkige kletspraatjies oor "dit wat almal weet", en onbeteueld neig dit om die unieke "ek" te versmoor. In die mate dat ek hierdie ambivalensie herken, verloor ek dus weer eens vertroue in my vermoë om vrede te vind in my bemagtigende identiteit met die universele gemeenskap.

Wat is nou die implikasies van hierdie analise van verskillende menslike synswyses –

elkeen verwant aan 'n ander opvatting van die self – vir geweld?

Derde idee: Geweld

Dit lei ons tot 'n derde idee, naamlik dat die figuur van die Borromiaanse Knoop ons kan help om oor geweld in Suid-Afrika te dink.

Hoe so?

Kortweg: in elkeen van hierdie hierdie menslike synswyses is die oorsprong en aard van geweld verskillend.

· Wanneer ons in die synswyse van die Reëleangs ervaar, bevestig ons mees basiese infantiele instink sigself en volg ons blindweg die drif om verlore genot te herwin en pyn ten alle koste af te weer. Ons probeer dus ons bes om gebeure, mense en dinge vir ons eie doeleindes te kontroleer en te manipuleer, en ons doen alles in ons vermoë om alle weerstand te oorkom. Geweld in die synswyse van die Reële is dus die soort wat geen empatie of abstrakte sin vir moraliteit vertoon nie. Mense en diere word blote gebruiksvoorwerpe en word ongenaakbaar uitgewis indien hulle ons genot ondermyn of die geringste gevaar van pyn inhou.

· Wanneer ons deur liefde gedrewe is, in diesynswyse van die Imaginêre, vlam ons infantiele grootheidswaan weer eens op en lei tot aggressiewe kompetisie met andere, en 'n gewelddadige worsteling vir persoonlike mag oor hulle. Diegene wat bekend is met Hegel, sal die "stryd tot die dood" om erkenning in sy meester/slaaf-dialektiek hierin raaksien. Die soort geweld wat verband hou met die Imaginêre orde is 'n aggressiwiteit wat verwant is aan afguns en jaloesie. Dit gaan eintlik om die beskerming van my, of ons, unieke plek in die sentrum van die heelal. Daarom sluit dit die ideologiese geweld in wat met die "ons en hulle"-struktuur van alle religieuse kultusse, etniese groepe en politieke partye geassosieer word.

· Wanneer ons deur die seksuele passie gedryf word, in die Simboliese modus,word ons individualiteit en outonomie deur selfvernietigende altruïsme aan die kloustrofobiese onpersoonlikheid van die "outomaat" opgeoffer. Geweld in die Simboliese het dus die gedaante van institusionele geweld: dit beteken die sistematiese gebrek aan medelye vir die "hawelose" individue wat deur die net van oorkoepelende strategieë, algemene strukture, burokratiese reëls en universele oplossings glip. Die ooreenstemmende poging om alle individue aan hierdie globale maatreëls, strukture en strategieë te onderwerp, smoor rebellie, onderdruk individualiteit, en fragmenteer ideologiese groepe ten einde 'n stel gelyke, atomistiese eenhede te produseer wat so uitruilbaar is as pionne op 'n skaakbord.

Vierde Idee: Bepaling van die aard van geweld in Suid-Afrika

Kom ons kyk opnuut na die idee van kompleksiteit.

Eerstens kan mens nie die geweld in Suid-Afrika toereikend beoordeel sonder inagneming van die veelvuldige menslike synswyses wat elk deur 'n ander soort geweld gekenmerk word nie.

Tweedens moet ons in terme van paradoksale interrelasies dink, sowel binne as tussen die sfere wat deur die Borromiaanse Knoop verteenwoordig word. Die paradoks binne elke sfeer is dat sy eiesoortige vorm van geweld onuitwisbaar is, omrede dit wat die matigende effek van 'n synswyse moontlik maak, ook sy geweld moontlik maak. Maar dit beteken dat die uitwissing van die "boosheid" in 'n synswyse ook die "goedheid" daarin uitwis.

Die geweld wat met elke synswyse saamhang, temper die geweld wat die ander synswyses vergesel, máár skep ook sy eiesoortige geweld. Daarom moet ons in terme van paradoksale, of sirkulêre, interrelasies tussen die sfere dink.

Dit is byvoorbeeld geen geheim nie dat ideologiese groeperinge in die Imaginêre tot namelose etniese aggressiwiteit van die "ons en hulle"-soort lei. Om hierdie soort geweld teë te werk, vereis die kultivering van 'n sin vir universele gemeenskap, kenmerkend van die Simboliese. Maar die strewe na 'n absoluut universele gemeenskap is, paradoksaal genoeg, juis wat gemeenskap tussen mense vernietig – iets wat ons blootstel aan 'n ander soort geweld, naamlik wat Foucault die "abstrakte geweld van geld" noem. En hoe werk mens teen laasgenoemde? Deur die kultivering van 'n unieke sin van persoonlike of etniese identiteit.

Daar is baie meer om hieroor te sê en te doen, maar ek wil op 'n steurende noot eindig, naamlik met die vraag: Waarheen is ons op pad as gewelddadige misdaad as 'n blanke gekerm gesien word, en as ekonomiese ontwikkeling deur die Suid-Afrikaanse regering as die belangrikste oplossing vir geweld beskou word?

KKNK Oopgesprek: Is dit mensebloed wat hierdie bossie-aarde voed?
Vrydag 6 April 2007


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top