Hoe lyk jou stad-kompetisie: Zeerust

  • 0

Roekeloos, vlegtend tussen vloekende en toetende taxi’s,
die trollie-chaperones met hul leë waentjies
terug van die taxistaanplek, om ’n geldjie te verdien
stinkend die rook uit die kant van die plakkerskamp
reuse rammelende trokke rumoer deur die hoofstraat
ewig op die langpad die ridders van die wapad

straatsmouse pak hulle bokse in morsige regop stapels
bêre dit langs toonvensters tot môre om die straat verder te ontsier
met hul ware waar mense moet loop op skewe sypaadjies.
hare vleg, vetkoek bak, roomys draai, skoene lap of smous lugtyd
tussen vullis wat lui wettelose mense ongeërg neersmyt

maar vyfuur is daar is ’n bekoring
in die fluitjies van die vlytige vullisverwyderaars
wat vriendelik lag en hups op die groot trok spring om verder te ry.
die vyfuur-verkeer van voetgangers met hul bondeltjies huis-toe-gaan-pakkies
het so ‘n mengelmoes Afrika-kleurrykheid wat jou gryp

as ek elke dag my dosis sonsondergang inkry, my Goddelike skildery
na ’n lang reis die bult afkom; ’n arendsblik van my bosvelddorpie kry
word ’n kolletjie warm hier waar my hart is,
weet ek hierdie is my oase
die klipperige, stowwerige plek het lankal ’n houvas op my gekry.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top