Soos enige dorp dorp met haar eie taal
Dreun, skel, loei, knars, tjilp en woel dit
Met strate vol spore van voetsole
Gryses met hondjies aan halsbande
Boepens manne swetend en skuddend
Groepies vriendinne vrolik, flinkstappend
Meestal het huise hier nie hoë mure nie
En bedelaars is eintlik nice en nederig
Skugter-skuldig kop effens gesak
As hulle kom met oorbekende verskonings
Oor ’n kar wat gaan staan het en ’n begrafnis
Tussen hier en nêrens wat hulle met tien rand by kan woon
Soos in enige dorp dorp het dit al gebeur dat ’n wilde dier
Deure oopbreek en onskuldige skapies kneus
Want oral dwaal die duiwel mos
Breek soms kettings van gebed in flarde;
Daag die wette van die lewe uit
Terwyl tarentale rustig lekkernye in tuine oppik
Nietemin en desnieteenstaande is Eversdal
So lekker soos malvapoeding in die winter
En ice cream soda in die somer,
En sien ek steeds elke dag die op-en-af-patroon
Van die Bolandse berge gebaai in skakerings van blou raak
Wat my hart aan ankers hou
My dorp is ’n dorp dorp soos enige ander dorp
Met een verskil
Dis myne.

