Kom staan hier bo teen die hoogte van Berea
(hoor jy Paulus die naam inisieer?)
Kyk, ’n sprokiesland van ligte wat flonker-’kaats
doer onder teen die dokke …
verder links lok die Blue Lagoon, lê skepe wiegend-wag,
’n veilige hawe in te vaar die oseaan elke dag ’n ander
turkoois soos wat sy hart hom dra
Dan sak jy verder af verby Greyville se July, vleg verby
oud en nuut van “Dear old Durbs” tot waar sand en water
jou intrek in die altyd warm somerson.
Net een kleur, dié van pret en baljaar vanaf Ushaka al langs
die breë goue myl, sand omsoom, op fietse, skaatse, jillend
vir nog meer. Tot aan die casino, ’n klein gelukkie straks
branders breek en raas, skree jou hart uit, niemand sal ooit
verklap …
vriende groet en omhels, rek die dag, verder links tot waar
die Mabhida-stadion uit sy boepens-mandjie netjies gestrik
’n fees van lekkerte tuimel. Teen die stadspoorte waak
’n vyftiental “sharks”, breedgeskouerd, onheilspellend, kake
oopgesper oor die sedes en daai bal …

