Kom kyk hoe lyk my stad met die groot Klip so vol sterkte en tog plat
rondom haar voete krul ’n pad wat jou neem
na plekkies wat vasvat in jou hart, waar jou siel vooruit hardloop
en skreeu en hier en hier en hier was ek en jy en hy en ons ... nou verewig in my hart.
Voor die Tuine staan ons, ek nog klein en verwonderd oor die duiwe groot en klein
wat skelm na my grondboontjies kyk ’wyl ek al weer saam met die eekhorings
my pad teen die boom wil vind.
Dan twyfel oor die groene gras wat sê ek mag nie sit of lê of rol?
Voor die blommesee ruik en beleef ek die ware Kaap waar woorde rol malik maar vreemd
en ek leer toe by my pappa van waar en daar kom jy vandaan.
En soos ek loop en staar na alle nasies, land ons op die groot parade en kleur en geur word een plesier en stil word ons voor die groot Kasteel ... en verhale van vervloë dae word weer eens gedeel.
Dis Krismistyd en klere word nou gekoop voor die kanon ons laat aansit vir vis en tjips en Pappa ons ná die tyd neem na kleurvolle huisies reg daar bo!
Dan staan ons daar en kyk na skip na skip, groot en klein, en Pa sê so ver as die Heer Genade ...
Dis aand en ons word beloof ’n groot geskenk en af die bult en dan al langs Adderleystraat
val ons monde grootoog oop ‘wyl Pappa stadig ons neem deur ’n verligte sprokieland!
So nou as ek vlieg hou ek asem op ... tot die Groot Klip my welkom heet en sê welkom t’rug in die stad met die grootste hart ... my Kaapstad.

