Hoe lyk jou stad-kompetisie: In die hande van Potchefstroom

  • 0

My hande gly deur jou lang donker hare,
terwyl ons onder die groot dennebome van Lover’s Lane staan
wat ons liefderyk toevou en saamdruk met hul groot herfsdeurtrekte takke.
Die gevalle goue blare onder ons voete kondig die naderende koue
in fluisterstemme aan,
maar hul boodskap skeel my min
want ek het vir jou om teen my vas te hou; te bemin.
My gees sal nie nou, of ooit koud kry nie, want
ek sal warm bly deur die smeulende ambers van jou ligte siel
teen my bors vas te druk oral waar ek heen gaan.
Ons stap af in ou Tom, deur die Bult waar die warm aroma
van jou aangevul word deur dié wat uitnodigend uit Die Akker ontsnap.
Oë wat teer mekaar vashou, hande inmekaar gevou, siele inmekaar verstrengel;
hoop volkome in mekaar se harte geplaas.
Potch met jou ysig snoesige winter, jou straatjies deurwinter met die gelag, gehuil en gehoop van
studente deur die dekades, donderend en voortvarend het hulle herinneringe in jou pragtige en eenvoudige gelaat gekerf.
Potch met jou ou hande van wysheid en vooruitstrewendheid hou jy my geliefde sagkens vas
vir my om met warm asem en kloppende hart haar teen my vas te druk
sodat die smeulende ambers van haar ligte siel
die doodsheid in myne kan verdryf.
Weg! Waarheen? Ontvoering, verdrywing uit my liewe dorp;
my heenkome, bergplek van elke hoop en stukkie liefde.
My lief, met jou gladde gelaat, hartseer gesig in my geestesoog
stort ek my trane in die ewigvloeiende Mooirivier.
Hoekom moet ek die studente wat voor die Ferdinand Postma-biblioteek lê
in die somer op die groen gras in rokkie en plakkie groet?
Hoekom moet ek die oase wat my kamer was tussen die soms oorweldigende stormende emosie
nou wegstoot in my geheuebank?
Noudat ek moet gaan brand die ambers van jóú ligte siel my liewe Potch ’n gat
in my reeds gepynigde hart.
Jy hou steeds my lief in jou palm vas en terwyl ek na haar staar waar sy rustig lê en slaap en droom
kan ek die oorstelptheid wat opwel nie beheer.
Ek sal jou so verbitterlik mis my lief en vir jou
wat haar in jou ou wyse hand vashou.

’n Skok! Net droom, net illusie het my in my slaap verblind.
Steeds lê ek in jou ou hand my liewe Potch.
Ek word deur realiteit, egtheid teruggeruk:
ek is steeds hier, maar my liewe swarthaarlief
het Potch vir die ewige Goue Stad verruil ...

Klik hier vir inligting oor hierdie kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top