Hoe lyk jou stad-kompetisie: Doringbaai

  • 1

Doringbaai,
ons altaar om offers te bring
in die vorm van kuns en kultuur
en ons liedjies te sing
As die dag sleepvoet huis toe loop en
skemertyd se perskepienk
bring ’n horisonvertoon
dan word die hemel se liggies aangesteek
en ons vier die warm dag se dood
Ons word stil en sê saggies dankie
dankie vir ons daaglikse brood
In nagkoelte om konka of kampvuur
word gekuier tot diep in die nag se spoke-uur
Daar word harders en patat op warm wingerdkole gebraai.
en gesels oor wat was en seisoene se draai
Sommige tonge word los van die druif se skop
Stories word uitgeruil van ou Gert Grootlieg
Dik Daan en Bessie Bok
Lang Hans se spook van Doringbaai
het menige mense steeds aan die raai
Verhale word vertel met ’n lag en traan
van swaarkry, droogtes en die waterslang
As die visserman knyp-oog oor die blou waters tuur
En bootjies wiegend teen die kaai vas skuur
Hoor jy klagtes van die regering wat hul lot bepaal
En weemoed in ’n vissermanshart verhaal
Hulle vertel van kreef, galjoen en die blinklyfsnoek
En agter bakhande van ’n skipper se geërfde vloek
Tyd kom tot stilstand in ‘n Tasbare ewigheid
en oeroue klanke eggo in ons taal
deur hierdie Godgegewe
Weskus-katedraal

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top