Sy are swart, vloei rooi en wit
Soms flikkers van oranje, meestal in gelid
’n moeë maan gaap helaas, huiwer bo die rand
Dag ontwaak, hees voëls tart,
troebel steenkoolrook en oë wat brand
Sy winterwind sny deur murg,
City/Stad Johannesburg
Sy spiere stof, bult vuil wit geel
deur siele met bloed uit dieptes gesteel
Die vars son skyn benoud, halfmas op gerypte grond
Konkas rook, masjiene dreun
en onder gif daar water rond
Sy vel van grys, spieël wit en blou
Uit massas se drome en verliese gebou
Wolke bondel saam, sonder om te reën
rykdom tart, rotte jaag
In gate hoor jy hordes ween
Sy winterwind sny deur murg,
City/Stad Johannesburg
City/Stad gee my krag
City/Stad vat my siel
Lief en leef, ek oorleef
Voel gewurg
Johannesburg

