Hoe klink ’n boek op die moltrein? Marinda Botha vertel van Beta than Paper

  • 2

Naomi Meyer het Marinda Botha se storie op Homecoming Revolution raakgelees, beplan om haar uit te vra oor haar besigheid en later besef die vrae en antwoorde handel oor 'n hele samelewing en hul ingesteldheid teenoor boeke (al dan nie).

Hallo Marinda, kom ons begin by die begin. Vertel my wie jy is, van jou agtergrond, jou verblyf in Engeland en jou besluit om terug te keer Suid-Afrika toe.

Ek is ’n stemkunstenaar uit Pretoria. Ek het by die universiteit geswot en toe vir agt jaar in Londen gaan woon. Dit was nie regtig beplan nie, maar dis hoe dinge uitgedraai het. Dit was ’n ongelooflike tyd van my lewe. Ek het baie ondervinding opgedoen (van die lewe!) en ook op ’n professionele vlak so baie geleer.

Alhoewel ek drama gestudeer het, het my ware passie vir stemwerk (“voice-overs”) eers vlam gevat toe ek in die diep kant ingegooi was in die VK. Ek sal altyd onthou hoe ek gevoel het die eerste keer toe ek die “cans” (oorfone) moes opsit en voor ’n mikrofoon staan in ’n baie deftige klankateljee in Londen. Ek was daar om ’n Afrikaanse radio-advertensie op te neem en my regisseur kon nie ’n woord Afrikaans praat nie! Tog het sy regie my beïndruk!

Dit was waarlik ’n ongelooflike intree tot die stembedryf. Die gogga vir meer het my gebyt. Ek het heelwat stemwerk daarna begin doen, gereeld in Afrikaans, vir kliënte soos die BBC, CNN Africa en talle korporatiewe ouens. Meer oor my stemwerk op my webwerf.

Die idee vir die oudioboekmaatskappy het in Londen begin. Ek het eerstehands ondervind hoe nostalgies mens kan raak vir jou vaderland. Hoe honger mens raak vir enigiets wat lyk of dit dalk Suid-Afrikaans kan wees.

Ek was ook bewus van die groot “leeskultuur” wat daar in Londen bestaan. Almal lees. Boeke op die moltrein en bus, koerante en veral via iPods en mp3-spelers. Dit was toe die idee werklik posgevat het. Dit was ’n sonnige dag (raar in Londen, so almal was gemoedelik!) toe ek vir die soveelste keer in ’n bus ry, op pad sentrale Londen toe. Almal was besig om by vensters uit te staar, met ore gekoppel aan iPods en mp3-spelers. “Sou dit nie wonderlik wees as ek nou na ’n Suid Afrikaanse storie kon luister nie?” het ek gedink. En dis hoe die hele ding begin het.

Ek het drie jaar gelede permanent teruggekeer na Suid Afrika toe. My redes hiervoor was persoonlik. Nie baie exciting nie, dog waar, en vir my die belangrikste: ek het my familie gemis. Ek het gevoel my betrokkenheid by hul lewens is te yl en ek wou dit regstel. Ek wou tussen my mense wees.

’n Ander belangrike punt wat my oorgehaal het, waaroor ek nou nog passievol is en by staan, was die oortuiging dat soveel moontlikhede bestaan in Suid Afrika. Daar is soveel maniere om iets nuuts te begin. Dinge/moontlikhede/idees is nog nie “saturated” nie. Daar is nog beweegruimte om iets te probeer. Ons bly in ’n unieke land, vol probleme ja, maar ook propvol wonderlike mense. En dit is in die mense waarin ons sterkste rykdom lê

Vir ’n artikel in Engels oor hoe alles begin het, gaan besoek gerus Homecoming Revolution.

En nou, terug in Suid-Afrika, en Beta Than Paper noem jy die besigheid. Maar dink jy Suid-Afrikaners dink ook so, dat “hoordokumente” beter is as gedrukte boeke? Is die konsep om na stories wat iemand voorlees, te luister, iets wat al posgevat het by Suid-Afrikaners in ons eie land?

Die naam van my besigheid is so bietjie astrant – ek erken dit. Dit het ontstaan tydens ’n dinkskrum tussen my en ’n Sweedse vriendin. Ons begin laf raak en het net verskillende name uitgeroep. My vriendin het “Beta Than Paper!” uitgeskree en dit het dadelik by ons al twee vasgesteek. Ek gaan meermalig op my “gut”-gevoel en die naam het gebly.

Nee, ek glo nie digitale produkte (oudioboeke en e-boeke … daar is ’n verskil tussen die twee!) is beter as “tradisionele”/ papierboeke nie.

Ek dink wel in die tyd waarin ons leef, is dit die beste opsie. Hoeveel werkende mense (en ek tel mammas wat kinders grootmaak hier by) het tyd om ’n boek te lees? Baie min, sou ek sê. Tog sit die grootste getalle van ons daagliks vir ’n uur of drie in ons motors vasgekeer. Die tegnologie bestaan om op enige plek, via omtrent enige toestel, na oudioboeke te luister. So die platform is daar om die produk te benut.

Jy raak wel aan ’n baie belangrike punt.

As jy lief is vir lees, is jy vir seker lief vir die gevoel en reuk van die papierbladsye van ’n boek. Met ’n oudioboek het jy niks voor jou nie, jy moet jou oorgee aan die vertelling wat jy hoor. Die stemkunstenaar en skrywer het een kans om aan jou die verhaal oor te dra, terwyl die leser, soos met enige boek, die karakters en gebeure moet visualiseer.

Nie alle lesers sal hiervan hou nie. Net soos nie alle lesers gaande is oor e-boeke nie. Dog dit is die nuwe genre van ons tyd.

Dit sal ’n tydjie neem vir oudioboeke om pos te vat by Suid-Afrikaanse lesers. Al is die medium (oudioboeke) glad nie ’n nuutheid nie, is aflaaibare oudioboeke wel. Nie alle lesers verstaan hoe dit werk nie en nie alle lesers sal dit geniet nie. Maar dis tog die lot van enige produk.

“You can’t please everyone.” So dit is ’n spesifieke leser wat graag na oudioboeke luister en Suid-Afrika kort ’n platform wat daardie mark kan bedien.

So die doel van my maatskappye is nie om tradisionele publikasies teen te staan of te probeer vervang nie. Dit is ’n ander tipe produk, ’n ander manier om literêre werke te geniet en ’n ander platform vir skrywers om te ontgin. Die produkte is verkrygbaar via die internet. Dit is dus internasionaal beskikbaar, wat vir my ’n baie opwindende punt is. Beta Than Paper is nou al amper twee maande aanlyn (al werk ek al vier jaar aan die projek!), so daar moet nog baie water in die see loop om te bepaal of die produk sal posvat by lesers.

Maar ek geniet elke oomblik daarvan en is dankbaar vir die hulp van al die kunstenaars wat betrokke was.

Gaan lees gerus my blog-inskrywing op Beta Than Paper se webblad, wat ook aan die bogenoemde punte raak.

Sonder om sinies te wees: dink jy nie Suid-Afrikaners lees bitter min nie?

Ja. Dit is ’n groot probleem. Maar hoe eet mens ’n olifant? Stukkie vir stukkie. Om daardie punt aan te spreek moet ons na opvoeding in skole kyk. Ons moet ’n leeskultuur by die kinders aankweek, van vroeg af.

Dan is daar die ander groot probleem van volwassene-ongeletterdheid. Dis juis hier waar ek dink oudioboeke kan help. Ek sal graag in die toekoms wil saamspan met uitgewers wat hierdie tipe produkte maak. Ek glo vas dat voordat jy iemand kan aanspoor om ’n taal te leer, of om te leer lees, jy ’n honger vir daardie taal en vaardigheid moet kweek.  Vir volwassenes wat nie leesvaardighede magtig is nie, kan oudioboeke dalk ’n liefde daarvoor aanwakker.

En is dit nie dalk eerder die probleem nie – die hele samelewingsprobleem in ’n land waar mense nie kos op die tafel of dakke oor hulle koppe het en nie eens aan boeke dink nie, eerder as wat dit handel oor die luister-aspek van die boek?

Ek verstaan nie heeltemal die vraag nie. Daar is baie probleme in ons land. Niemand het geld nie. Om boeke te lees is vir baie mense nie ’n prioriteit nie. Ek is passievol oor opvoeding. Dit is belangrik. Ja, eers moet jy eet en ’n dak oor jou kop hê, maar daarna moet jy jouself opvoed en kennis verkry. Jy moet groei. Dit is die hooffunksie van lees – om te groei. Dit is elke mens se reg. Om al ons mensregte in Suid-Afrika aan te spreek, is die hele olifant.

Hoe voel jy as ekspat wat ’n u-draai uitgevoer het oor die stand van die land en al die sake hier?

Ons woon in ’n wonderlike land, met wonderlike mense. Daar is soveel geleenthede wat ons kan skep. En soveel probleme om op te los.

Ek is nie vir ’n oomblik spyt dat ek teruggekom het nie, al bly ek mal oor Londen. Ek het baie goeie vriende daar en herinneringe wat my altyd sal bybly. Maar ’n mens moet groei. En vir my om te groei, moes ek terugkeer Suid-Afrika toe.

Luister gerus na die uittreksel uit “My Neighbour”, ’n Afrikaanse kortverhaal deur Japie Bogaards, verkrygbaar by
hierdie Beta than Paper-skakel.

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek is so opgewonde oor die oudioboeke in Afrikaans. Ek is mal oor lees maar hou sommer baie van boeke wat voorgelees word. Ek werk heeldag op 'n rekenaar en dit is heerlik om te luister terwyl mens werk. Ek sal baie baie graag wil weet watter boeke aangekoop kan word...

    Groete
    Ada Radford

  • Goeiedag. My een vriend is brsig om blind te word met makulêre degenerasie en kan nie meer lees nie. Het u dalk 'n lys van oudio boeke? Hy het graag biografieë en Deon Meyer ens gelees. Dankie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top