Hoe het jy tydens die inperkingstyd gemaak toe dit verbode was om drank te koop?

  • 20

Foto van bier: Pixabay

Dit het baie van ons ouens wat ons perke ken, heel moerig gemaak, hierdie uit die niet uit verandering van rampspoedvlak laatnag waartydens die aanskaf van voorraad vir naweekplesiertjies verbied was. Dit was mos met voorbedagte rade, so laat. ’n Ou kan mos maar wens dis verby. Ek wou dat die mediese beampte mos kan sien waarom die pasiënt die kepe opgedoen het. Hoekom nie die toewerk van die keep in so ’n geval weier nie? Dit sal hom/haar mos ’n les leer om volgende keer sy/haar drinkepêl sorgvuldig te kies en om te sorg dat daar nie ’n panga, knopkierie, piksteel of graaf binne grypafstand is wanneer daar oor ’n beuselagtigheid ’n geskil ontstaan en so plek in die noodafdeling verseker vir hulle wat dit werklik nodig het. Die noodafdeling-ingange sal dan nie verstop raak deur ewe hoog in die takke vriende en familie wat nou die ene besorgdheid is en dit nog boonop bebloed agterlaat nie. 

Hoekom my laat swaar kry?

Ek maak toe plan soos baie ander en brou my eie voorraad. Omdat ek weens my "jarelange leefstyl" ’n tipe 2-diabeet is, het ek iets wat net vir my werk, bekook. Alhoewel dit met ’n lekker na smakie afsluk gaan dit nie vir jou werk nie, so moenie die goue medalje "brew-off" resep afsmeek nie. As ek hom moet skat, is hy om en by die 10% proef. 

Na 2 uur my bloedsuikertjies gemeet, dit bly so ’n gem van 5.5 mmol/l. Dis ook ’n goeie “night cap” en dra wederhelf se goedkeurig weg.

Bygevoeg, van daardie in die “off sales” is baie beter! En minder moeite maar hel, aan die ander kant: moer duurder.

Hier is ’n paar sêgoed van hulle wat van beter moes weet, of wat sê jy?

Frank Sinatra

“Ek voel jammer vir julle wat nie drink nie, want wanneer julle in die oggend ontwaak, is dit die beste wat julle die hele dag gaan voel.”

Ernst Hemingway

“Wanneer jy nugter is, doen dan wat jy gesê het jy gaan doen terwyl jy gesuip is, dit sal jou leer om jou bek te hou.”

Anoniem 1

“Dronk is om wêreldwys (gesofistikeerd) te voel maar dit nie kan sê nie.” 

Anoniem 2

“Realiteit is ’n illusie as gevolg van die gebrek aan alkohol.”

WC Fields

“Watter veragtelike skurk het die kurkprop van my middagete gesteel?” 

Oscar Wilde

“Werk is die vloek op die drinkersklas.”

Henry Youngman

“Toe ek lees van die euwels van drank, het ek lees gelos.”

Stephen Wright

"24 uur in ’n dag, 24 biere in ’n kas. Is dit toeval?"

David Moulton

“Hoekom word Aussie-biere net koud bedien? Sodat jy dit van uriene kan onderskei.”

 Plato

“Dit was ’n wyse man wat bier uitgevind het.”

Dave Barry

“Sonder twyfel is die grootste uitvinding in menseheugenis bier. Ja wel, die wiel is ook ’n groot uitvindsel, maar die wiel en pizza gaan nie so lekker saam nie.” 

Anoniem 3

“Nie alle chemikalië is sleg nie. Sonder chemikalië soos waterstof en suurstof byvoorbeeld, sal daar geen manier wees om water, ’n noodsaaklike bestanddeel van bier, te maak nie.”

George Jean Nathan

“Ek drink om ander interessant te maak.”

Anoniem 4

“Skoonheid lê in die hande van die bierhouer.”

Benjamin Franklin

“Bier is die bewys dat die Here ons lief het en ons gelukkig wil sien.”

 Brian O’ Rourke

“Wanneer ons drink, raak ons getrek, val dan aan die slaap. Wanneer ons slaap, pleeg ons nie sonde nie. Omdat ons nie sonde pleeg nie gaan ons hemel toe, so ... laat ons almal getrek raak en hemel toe gaan.”

Nou ja, soos dop-en-dam-manne altoos sê – laat hy val waar hy wil.

Ekke ... Raed-na-Gael.

Hik - s’kuus

 

  • 20

Kommentaar

  • Dit was beproewing op beproewing. Oorlede Koos Ras het 'n liedjie gesing van Sampie wat ook erg dors was. Dit het as ek reg onthou oor 'n ou gegaan wat sy pel sien skelm drink het en wrede gedagtes by hom opgekom het. Selfs die gemeente wou nie vir my inlig waar die nagmaalwyn gestoor word nie. Ek het darem diep in my telefoonlys gedelwe en vriende/kennisse in die verre verlede opgeroep. Helaas was daar 'n bamhartige wat die hert in dorre streke te hulp gesnel het. Hulle sê mos, hou jou pêlle naby en vyande nader. My les geleer en hou maar iewers 'n voorraadjie op hande. Honger is erg, maar dors? Nee, dankie.

  • Hans Richardt

    Ek het 2 houtvaatjies. Ek gooi my alderbessies saam met soetwyn in (5 liter), laat dit staan om te gis. Maak die 1 liter weer vol daaruit en meng die nippie brandewyn daarin. Dis goeie tradisionele medisyne ...

  • Dwerg,
    Kan darem seker nie die kerkmuis alleen strykdeur laat hik nie.
    Om suiker Hansie moet ek wye draaie loop. Daarom die hoogs geheime resep.
    Soetwyn in die Oranje hitte en ji dors? - wil nie daai babelas beleef nie!

  • Hans, ek drink deesdae onder toesig. Skattie het soos in geen simpatie met my uitsonderlike geleentheid van bietjie brassery nie. Kry vir jou pappie. Wou mos al die jare alles opsuip voorlat die kinners dit kry. Het ook probeer die land onder die medeburgers se gatte uit te suip. Dit werk nie meer nie. Hulle doen dit nou sigselwers. Skôl.

  • Hans Richardt

    Reusedwerg, ek het van die wyn teen wins verkoop aan desperates. Ek het seker 'n joodse streep, maar ek moes ook ten duurste rook. 200gram pyptabak teen R500 was om van bankrot te gaan ...

  • Dwerg, hier het ons nou ou Hans - hy's 'n smokkelaar want ek's seker hy het geen drankhandelaarslisensie nie. Wonder ook of hy dalk sy rookgoetjies afgeskaal het na die mindere gehalte wat beskikbaar geraak het siende dat die amptelike handelaars toe moes maak.
    Dan wonder ek ook oor die witblits-soetwyn-"blend". Klink mos vir my na 'n "chaser".
    Dan sit hy daar in die oranjevlakte en heilig wees!

  • Hans Richardt

    Raed-na-gael, dit was tyd waarin man moes oorleef. Ek rook in elk geval nog steeds goedkoop sigarette en as ek by tandarts in Douglas kom, kom ek by kelder daar. Die eikehoutverouderde soetwyn is wonderlik. Ek koop egter groot maat soet sjerrie en dit hou anderhalfjaar. Die winters is woes koud, net soos die somers versengend warm is.
    Ek het smokkel-rou tabak gekoop en in wyn gegis. Rou tabak is te sleg om te rook.
    Smokkelaar? Selfs dominees het oor die heining gekoop in daardie donker dae ...
    Weier botweg om wortels, aartappels en sukkel goed met brouersgis vir tradisionele bier te gis of die brousels te proe. Ek is darem nie so desperaat nie.

  • Raed, jy moenie spot nie. Ek het 'n pel wat my in sy bar/kroeg besigheid wou intrek as vennoot. Gelukkig sê ek vir hom, kom ons probeer so drie maande se probasie voorlat ek enigsins in die besigheid inkoop. Die eerste maand het dit so so gegaan. Die vennoot het al hoe minder sy skof gewerk. Ek en die ander mannetjie het toe oorgeskakel voltydse oortyd. Een Maandagoggend op my hurke om die slot oop te maak, klop iemand my op die skouer. Kom orent en sien die sersant staan voor my. "Werk jy hier en waar is die lisensie?" Ek verduidelik toe ek is nie die eienaar nie en die eienaar het die liksens. Sal die man my nie toesnou ek praat snert nie, hy het die storie al gehoor. Hy vra ook sommer: "Ry jy saam agter in die 'van' of kom jy met eie vervoer?" Ek word toe aangekla vir die onwettige handel dryf in drank. Ek betaal toe die boete na vingerafdrukke net geneem is. So twee jaar terug vra ek 'n polisieklaring aan. So wragtag, daar staan dit swart-op-wit. Kriminele rekord. Kos my om kwytskelding te vra.

  • Hans Richardt

    Reusedwerg, ek het gepruim vir 'n tyd, maar hel, dis sleg en gee my maagwerk.
    Sommige manne het hul vuil lusern gesmous as tabak. Ander het rou tabak wat hulle gebruik vir molkrieke uitroei, ten duurste gesmous. Nou ja, rou tabak help vir dieresiektes, molkrieke op grasperke en vir desperate rokerslus ... Al my huisklere vol gate gebrand met kole wat val ...

  • Dit wat ek "stook" is van skougehalte en bevat nie enige bestanddeel soos hierbo vermoed word nie.
    Gesondheid!

  • Nou ja, Dwerg, is die ding toe ge-"squash", uitgevee?
    In elk geval sal die magistraat nie so 'n tweede bylae oortredingkie na vyf jaar in ag neem by 'n verdere skuldigbevinding nie.
    'n Mens moet ook nie sommer name rondgooi soos Hans noudat hy uitgevang is nie - aan dominees verskaf? Hy't hom seker aan die geloofsake onttrek, die dat hy nie meer diskreet is nie. Daar is slegs die drie susterskerke plus een (nog nie sover ek weet 'n susterskerk nie) wat dominee as aanspreekvorm en titelbenaming gebruik. Hoe groot is Oranjestad? Al vier is seker nie daar gesetel nie. Hy plaas mos die dominee(s) onder verdenking en in erge verleentheid. Seer seker koop ds. nie nagmaalwyn oor die draad nie!

  • Raed, gelukkig is ek vergewe en kwytgeskeld oor my onbesonne optrede. Dit het my egter op 'n stadium duur te staan gekom. Ek het so vier jaar na die oortreding vir 'n pos aansoek gedoen, en is 'n polisieverklaring 'n vereiste gewees. Nodeloos om te sê ek het nie die vakature gevul nie. Onwetend van die oortreding was ek seker nie goedgevind nie.

  • Dwerg,
    Ek het iets dergeliks ondervind. Ek was jare terug in die goeie ou SAP (nie saps nie) en 'n stasiebevelvoerder. Goeie pêl, 'n boer, in my stasiewyk woonagtig gehad. Die dag kom toe hy aansoek om 'n vuurwapenlisensie doen. Ek wys hom baie pertinent op 'n vraag of hy al aan enige misdaad skuldig bevind was. Jy mag nie lieg om 'n vuurwapenlisensie te bekom nie. Nee, hoe ken jy my? antwoord hy. Goed, drie weke later kom die aansoek terug met sy misdaadrekord aangeheg. Slegs 'n wieldop van 'n kar gesteel - so 25 jaar gelede toe hy so 15 jaar oud was, skuldig, berispe en ontslaan, verder is die rekord skoon - blanko. Kwajongstreke! Wat kon ek doen? Ek moes hom aankla, want hoofkantoor (vuurwapenregister) wou die saaknommer hê.

    Ek het aan hom verduidelik dat ek niks kon doen nie. Vorm is van voor af ingevul, hierdie keer met regte inligting en hy verskriklik die moer in. Die lisensie is toegestaan. Ek laat hom weet dat hy dit moet kom afhaal. sy antwoord? "Steek die fokken ding in jou gat."

    Daar is ons goeie vriendskap permanent in sy moer. Die lekker aande daar op sy plaas - steaks, biere, geselskap. Alles.
    Paar maande later bel iemand hom waar hy in die plaaslike bar sit en sê die veespekulant kuier by sy vrou, geruime tyd al, en hy is nou daar. Hy jaag huis toe en rol sy bakkie - sy einde.

  • Hans Richardt

    Raed-na-gael, daardie artikel in Strafproseswet wat verduidelik dat as die landdros nie bo redelike getuienis het dat 'n misdaad gebeur het nie, maar tog VOEL daar was misdaad gepleeg, en die verdagte waarsku en ontslaan, is 'n onding in SA Strafreg vir onbekwame landdrosse.

  • Hans,
    Ek dink nie jy het die ding reg nie, seker typo's. My komper is Engels en dit verstaan die taal wat ek tik nie en wil alewig korrigeer. (Ek wil nie R'e in kilo's opdok vir daai Afrikaanse taal program nie.)
    Die landdros moet bo redelike twyfel daarvan oortuig wees dat 'n misdaad gepleeg en dat die beskuldigde voor die hof aan die pleeg daarvan skuldig is. Jeudigheid speel 'n groot rol, ernstigheid van en omstandighede waarin dit gepleeg is,ook. Vind hy hom skuldig moet hy oor straf besluit. Dit moet as 'n afskrikmiddel dien. Daarom die skuldigbevinding vir die rekord en as straf, berisping - 'pasop vir volgende keer seun'
    Dan is daar nog die media-jafels wat geen benul het oor wat die verskil tussen 'n 'vryspraak' en 'onskuldig bevinding' is nie. Ek weet vir 'n feit dit geld vir ook vir menige huidige ondersoekbeamptes en dossier - inspeksie offisiere (indien lg. nog behoorlik funksioneer).
    Redelike twyfel is die oortuiging van die 'gewone man opstraat'. Die landdros moet 'n hoër vlak van oortuiging hê as die gewone man.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top