Hoe die Afrikaanse Taalraad oor die US se hersiene taalbeleid voel

  • 0

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het Saterdag op 'n buitengewone raadsvergadering met 'n oorweldigende meerderheid ja gestem vir meertaligheid. Dit beteken dat Afrikaans en Engels gelyke status by die US sal hê teen 2020.

In die amptelike persverklaring sê die US Raad: "Die US bly verbind tot die gebruik, beskerming en volgehoue bevordering van Afrikaans as akademiese taal. Die nuwe Taalbeleid gee gelyke status aan Afrikaans en Engels, maar deur die implementering van die nuwe Taalbeleid gaan die posisie van Afrikaans versterk word."

LitNet het aan die Afrikaanse Taalraad gevra: Hoe voel jy oor die hersiene taalbeleid en, in praktyk, watter impak sal hierdie beleidsverandering in die langtermyn op die hoër funksie vir Afrikaans as akademiese taal hê?

Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, reageer:

Jacques van der Elst

’n Knieval vir Engels?

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch, so lui die berigte, het oorweldigend gestem vir ’n gelyke bedeling vir Afrikaans en Engels as onderrigtaal en hopelik as navorsingstaal. Ek was natuurlik nie by toe die debat gevoer is nie, maar ek neem aan dat die geykte argumente ten gunste van ’n vaste plek vir Engels gevoer is, onder andere: Engels die globale taal; die internasionale taal van bedinging en wetenskap; die taal van oopmaak vir alles en almal – in teenstelling tot Afrikaans, wat sou uitsluit en diskrimineer. Boonop is daar blykbaar by US vanjaar ’n rapsie meer eerstejaars wat Engelssprekend is of wat verkies om eerder as Engelssprekendes beskou te word as Afrikaanssprekendes.

“Meertaligheidsdoelwit” is die etiket op die houer waarin bogenoemde raadsbesluit verpak is. Niemand sal sê dat dit ’n besluit téén Afrikaans was nie.

Maar wat is die implikasies van die besluit? Pas dit nie, bewustelik of onbewustelik, gerieflik in by die onmiskenbare poging van die regering om die hoëronderwyssektor in die land uiteindelik geheel en al te verengels nie?

Die uiteensettings wat ek wel oor die nuwe taalbeleid kry, dui op ’n baie regverdige opset van ’n gelyke bedeling vir die twee tale. Om die waarheid te sê, dit lyk of die Afrikaanse student selfs ’n meer gewaarborgde toegang tot Afrikaanse onderrig kry as voorheen. Selfs vir een student word tolking aangebied, is die onderneming wat gegee word.

Ek aanvaar dat dit uiters moeilik is om die US se taalskip met soveel belangegroepe te maneuvreer: ’n raad, ’n senaat, alumni, studente, dienspersoneel en boonop nog ’n ouergemeenskap. Dis byna onmoontlik om aan die taalwense/taaleise van so ’n verskeidenheid groepe te voldoen. En dan is daar die politiek wat ook nog sy lelike kop uitsteek.

Is dit egter nodig dat die vlagskip van Afrikaanse universiteite, selfs van alle universiteite in die land, so akkommoderend ten opsigte van Engels moet wees? Is die universiteit dan so onder taaldruk, terwyl daar twee Engelse universiteite in sy onmiddellike omgewing gevestig is, waarvan een volledig eentalig Engels is en waar die edel doelwit van meertaligheid ver te soeke is? Ek is bevrees dat die US op die lang duur tog sy unieke Afrikaanse identiteit gaan verloor, of dalk al verloor het. Taal is gelyk aan identiteit – dis nie sommer ’n nutsmiddel nie. En dis tog nie ’n misstap om net Afrikaans te wees nie.

Natuurlik gaan die besluit ’n nadelige uitwerking hê op die hoër funksies van Afrikaans as akademiese taal. Stil-stil kan dit, as belanghebbendes nie keer nie, ook ’n uitkringende negatiewe effek hê op die bestaan (voortbestaan) van eentalige Afrikaanse skole.

Is die pleidooi van ’n klompie jare gelede van wyle Jakes Gerwel dat minstens twee universiteite met Afrikaans as voertaal/onderrigtaal/navorsingstaal bestaansreg het, dan so ongeregverdig? Sy voorstel is van die tafel gevee. Volgens die jongste sensus het byna sewe miljoen Suid-Afrikaners aangedui dat Afrikaans hulle gebruikstaal/moedertaal is. Hulle mag grondwetlik aanspraak maak op onderrig vir hulle kinders in Afrikaans – as dit dan nie by Stellenbosch of Potchefstroom is nie, dan elders? Die inisiatiewe vir ’n nuwe Afrikaanse universiteit bestaan – Akademia van die Solidariteitbeweging is ’n voorbeeld hiervan. Sit daardie sewe miljoen Afrikaansgebruikers oorgehaal om dié soort inisiatiewe te ondersteun? Of laat hulle hulle meesleur deur die golf van verengelsing met al sy ideologiese implikasies wat die land oorspoel?

Lees ook hoe PEN Afrikaans oor die US se hersiene taalbeleid voel.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top