Met die onlangse opskudding oor die vlaag e-boekdiefstalle het heelwat kommentators en lesers gekla dat boeke in Suid-Afrika baie duur is. Deon Maas het byvoorbeeld op sosiale media kritiek uitgespreek teen skrywers wat beswaar teen e-boekdiefstal maak, en daarop gewys dat die formaat waarin boeke digitaal aan verbruikers beskikbaar gestel word, dié bedryf kwesbaar maak vir die verspreiding van roofkopieë.
Maar is boeke hier te lande werklik duur? Of moet uitgewers versigtig meet en pas om die begroting te laat klop en boeke winsgewend te produseer?

Wanneer dit by verkope kom, is Deon Meyer enige uitgewer se koorsdroom.
’n Goeie boek jaag lesers deesdae maklik R300 of meer uit die sak. Gedrukte en digitale boeke is dus waarskynlik bo die finansiële vuurmaakplek van baie mense – lees het blykbaar ’n luukse geword. Noudat ’n pandemie die mensdom boonop teister en die ekonomie onder geweldige druk verkeer, des te meer.
Maar wat kos dit om ’n boek te maak? En wie moet almal betaal word tydens die produksieproses? In hierdie artikel word daar spesifiek gefokus op fiksie- en niefiksieboeke wat in die algemene handel beskikbaar is; akademiese, opvoedkundige en ander publikasies word dus buite berekening gelaat.
Hoe lyk die boekemark in Suid-Afrika?
Met ’n oogveeg oor die boekemark in Suid-Afrika is dit uit die staanspoor duidelik dat e-boeke ’n klein gedeelte van die totale omset uitmaak. Die tendens wêreldwyd is dat lesers voorkeur gee aan boeke wat op papier gedruk is. Toe digitale boeke ’n klompie jare gelede die mark getref het, was daar aanvanklik groot aptyt vir dié formaat, maar lesers het vinnig teruggeskuif na die sjarme van papierboeke se gom, bindgare en ink.
Volgens die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) lyk die omset van alle boekverkope in die land vir die 2018/19-boekjaar so: Gedrukte boeke het in totaal R3,265349 miljard in die ekonomie ingestoot, en e-boeke R111,645 miljoen. Hierdie syfers sluit alle publikasies in – akademiese en opvoedkundige titels, Bybels, korporatiewe dagboeke, die hele lot.
Die meeste titels in Suid-Afrika word in Engels gepubliseer, met Afrikaans ’n kortkop agter. Boeke in ander inheemse tale lê veel laer af op die lys. Vir uitgewers om ’n duik in die plaaslike mark te maak, is dit dus gerade om nie die Afrikaanse mark te ignoreer nie. Dit verklaar byvoorbeeld die internasionale publikasiereus Penguin Random House se onlangse aankoop van Lapa. Met hierdie stap het dié uitgewershuis ’n dominante voet in die deur van die plaaslike boekebedryf gekry.
Plaaslike boektitels genereer ongeveer 7% van Suid-Afrika se totale inkomste uit boeke, terwyl internasionale titels vir die res sorg. Suid-Afrikaners lees boeke wat die res van die wêreld lees.
Sover dit fiksie- en niefiksietitels in die algemene handel (“trade”) betref, bedra die omset vir papierboeke ongeveer R730,872 miljoen, en vir digitale boeke R6,339 miljoen. Die omset van plaaslike Engelse fiksie is R78,435 miljoen vir gedrukte boeke, en R2,703 miljoen vir e-boeke. Afrikaanse fiksie genereer R41,703 miljoen in gedrukte weergawes, en R4,512 miljoen in digitale formaat.
Plaaslike Engelse niefiksie sorg vir R162,41 miljoen in die mark, en e-boeke vir R4,353 miljoen, terwyl Afrikaanse niefiksie R29,836 miljoen beloop vir papierboeke, en R1,034 miljoen vir hul digitale eweknieë.
Dit is met die hoogste uitsondering dat die res van die wêreld plaaslike skrywers se werk op groot skaal aanskaf. Skrywers soos Deon Meyer en Wilbur Smith, wat saam met geeste soos Paulo Coelho op internasionale topverkoperlyste boer, is die uitsondering.
Met die COVID-19-pandemie se plettervat sal die prentjie vir die 2019/20-boekjaar uiteraard beroerd lyk. Die produksie van papierboeke het tot stilstand geknars, en sover lyk dit nie of lesers tydens die staat van inperking in beduidende getalle na digitale boeke oorgeskakel het nie.
Dit sal misleidend wees om uit die “miljarde” en “miljoene” van die syfers hierbo af te lei dat alle skrywers miljoenêrs is. Verder van die waarheid kan dit kwalik. In Afrikaans alleen word daar jaarliks in die omgewing van 10 000 titels gepubliseer – volgens die aantal ISBN-nommers wat vir publikasies aangevra word.
En hier te lande word boeke waarvan 5 000 eksemplare van die hand gesit word, as topverkopers beskou. Hou ook in gedagte dat die boekemark oor die afgelope aantal jare geweldig gekrimp het. Waar topverkoperskrywers vyf jaar gelede 30 000 plus kopieë verkoop het, draai daardie skrywers nou by verkope van onder die 10 000. Natuurlik is daar uitsonderings.
Wat kos dit om ’n boek te publiseer?
Om ’n boek nie teen ’n verlies te produseer nie, moet uitgewers hul insetkoste uiteraard uit die aanbevole verkoopprys van die boek verhaal. Die lys van uitgawes is lank, en om ’n boek winsgewend die lig te laat sien, kos meet en pas soos min. Buiten BTW, tantième en die gedeelte wat aan boekwinkels betaal word, word die volgende uitgawes aangegaan tydens die produksieproses.
Wanneer ’n manuskrip by die uitgewershuis opdaag, moet daar dikwels ’n keurverslag aangevra word om vas te stel of die werk op standaard is. Dit gebeur nie in elke geval nie, maar ’n keurverslagfooi kan tussen R2 000 en R5 000 beloop, afhangende van die graad van kundigheid wat vereis word. In die ou dae is tot drie keurders genader om insigte oor ’n manuskrip te deel, maar daardie dae is vir alle praktiese doeleindes verby.
Wanneer ’n finale manuskrip deur die skrywer ingedien word, beland dit in die hande van ’n redakteur wat sorg dat die skryfwerk eksie-perfeksie is. Uitstekende redakteurs is skaars, en hulle word per 1 000 woorde betaal. Die lengte van boeke wissel tussen 60 000 en 120 000 woorde. In die geval van baksteendik boeke is die woordtelling natuurlik veel meer, en uitgewers moet spook om sulke boeke winsgewend te produseer. Redakteurs word enigiets tussen R240 en R280 per 1 000 woorde betaal.
Nadat ’n manuskrip geredigeer is, skep ’n setter proewe waarop ’n proefleser werk. Die setter moet uiteraard ook betaal word. Die proefleser word minder as die redakteur betaal – enigiets tussen R120 en R180 per 1 000 woorde. In uitsonderlike gevalle word proewe ’n tweede of selfs derde keer geproeflees.
Intussen het die uitgewer ’n ontwerper in die werk gesteek om met ’n boekomslag vorendag te kom. Die proses kan omslagtig wees. Verskeie ontwerpe word geskep en aan die skrywer en uitgewer voorgelê, en in die meeste gevalle moet ontwerpe verder verfyn word totdat almal tevrede is. Gerekende uitgewers sal tot R6 000 vir ’n goeie ontwerper se dienste betaal.
Sodra die manuskrip finaal in proewe omskep is, word dit na die drukker gestuur. Kostes word bepaal deur die omvang van die drukoplaag – hoe meer boeke in een sarsie gedruk word, hoe kleiner die rekening. Die kleur, gewig en gehalte van die papier waarop gedruk word, beïnvloed die drukkoste. Om een of ander rede is wit papier byvoorbeeld veel duurder as roomkleurige papier. En wanneer ’n boek met ’n hardebandomslag verskyn, skiet drukkostes ten hemele. Daarom word boeke meestal in sagtebandformaat uitgegee.
Nog voordat ’n boek na die drukkery gestuur word, is velerlei utgewerspersoneel aan die werk – teen ’n salaris, natuurlik! – om die mark en boekwinkels op die koms van die publikasie voor te berei. Verteenwoordigers van die uitgewershuis verkwansel komende titels minstens ses maande voor publikasie aan afsetpunte. En om boekverkopers opgewonde te kry oor een van derduisende titels wat die mark tref, sit nie in elke ou se broek nie. Boekverkopers juig gewoonlik oor bekende name wat voorheen sukses behaal het, en dit verg die onderhandelingsvermoë van ’n VN-diplomaat om ’n debuutskrywer aan winkels te verkwansel.
Bemarkers is ook flink aan die werk voordat ’n boek verskyn. Mediablootstelling is van kardinale belang vir verkope, en advertensies en bemarkingsmateriaal kos geld. Wanneer ’n boek verskyn, word daar tussen 30 en 150 eksemplare (gratis, natuurlik) aan media-instansies gestuur in die hoop dat hulle blootstelling aan ’n titel sal gee.
Nadat die boekoplaag gedruk is, word dit in ’n enorme pakhuis gestoor. Uiteraard word huur betaal vir die stoorplek, asook die hantering van die boeke tydens die verspreiding tot by afsetpunte regoor die land. Boeke moet deesdae ten duurste gekoerier word, want as dit in die poskantoor se sisteem beland, is dit by wyse van spreke “koebaai meraai”.
Dikwels word boeke goedkoper in oorsese lande gedruk, veral in die Ooste. Nadat dit gedruk is, moet dit na Suid-Afrika verskeep word. Versekering moet deur die uitgewer op die voorraad uitgeneem word, want skepe het die gewoonte om teen kaaie te bots of vir weke lank buite hawens vertraag te word deur ingrypings van die natuur. Die Kaapse Sedoos is ’n berugte sondebok in dié opsig.
Met die hoogste uitsondering word boeke wat oorsee gedruk is met vragvliegtuie die land ingebring, maar dit gebeur slegs in gevalle waar die mark eenvoudig nie vir ’n publikasie kan wag nie, soos wanneer ’n nuwe boek in die Fifty shades-reeks verskyn.
Soms word internasionale boeke ter plaatse gedruk wanneer die rand-wisselkoers ten gunste van so ’n stap is. Michele Obama se Becoming is byvoorbeeld verlede jaar deur die rolpers van ’n Paarlse drukkery voordat dit van plaaslike winkelrakke afgevlieg het.
Uitgawes wat uitgewers aangaan om skrywers, wat lief is vir uiteet, lojaal en gelukkig te hou, is nog nie in berekening gebring nie.
Buiten die drukkoste, verg e-boeke dieselfde produksie-insetkoste as gedrukte boeke (redakteurs, proeflesers ens). Die geld wat op ink en papier bespaar word, maak dit moontlik om hoër tantième vir die skrywer aan te bied. Maar omdat die e-boekmark veel kleiner as die mark vir papierboeke is, is dit selde ’n winsgewende opsie wanneer die verkoopsprys verlaag word. In die praktyk sal ’n skrywer wat byvoorbeeld 3 000 papierboeke verkoop, dikwels maar iets soos 18 e-boeke verkoop.
Wat kry skrywers uit hul boeke?
Volgens Pasa se opname is die gemiddelde tantième vir fiksie- en niefiksietitels in die algemene handel sowat 13% vir papierboeke en 16% vir e-boeke. Soos genoem, is tantième vir e-boeke hoër omdat daar nie drukkoste ter sprake is nie.
’n Gevestigde uitgewershuis met ’n eerbare naam se tantième-aanbod vir skrywers sal egter by 15% vir gedrukte boeke begin, en pro rata volgens die aantal verkope styg – gewoonlik tot 18%. In uitsonderlike gevalle sal tantième hoër wees, met die hoogste, volgens Pasa, 22%. Dié aanbod sal vir topverkoperskrywers geld. Gerekende uitgewers sal gewoonlik 25% tot 30% tantième vir e-boeke aanbied.
Die prentjie klink met die eerste oogopslag rooskleuriger vir skrywers as wat dinge werklik is. Tantième word bereken op die netto bedrag van die prys waarteen die boek in die winkel van die hand gesit word. Voordat tantième bereken word, word BTW en die boekhandelaar se deel dus van die verkoopprys afgetrek. BTW beloop 15% en die handelaar se sny van die koek is volgens Pasa gemiddeld 33%. Groot kettingboekwinkels soos CNA en Exclusive Books skep egter tussen 45% en 55% van die aanbevole verkoopprys af.
In die dae toe Leserskring nog bestaan het, is 68% van ’n boek se verkoopprys in dié klub se sak gesteek. Leserskring kon wegkom met dié reusehap uit die boekpastei omdat hulle groot afslag aan hul meer as 100 000 lede, aan wie enorme hoeveelhede boeke kwartaalliks verkoop is, kon gee. Die klub kon produkte aan lede in die verste uithoeke van die land besorg.
Met die agteruitgang en verval van die poskantoor, op wie Leserskring vir die verspreiding en aflewering van hul produkte staatgemaak het, het die sakemodel vir dié tipe onderneming egter ’n uitklophou gekry. Leserskring is dus geskiedenis.
Terug by die inkomste van die skrywer: As ’n boek byvoorbeeld in ’n goeie boekwinkel teen R300 van die hand gesit word, moet BTW en die winkel se inkomste afgetrek word (15% plus wat die boekwinkel neem: tot 55%) voordat tantième bereken kan word. Wat dan in die skrywer se sak beland, is enigiets tussen R8 en R22, afhangende van die tantième-ooreenkoms met die uitgewer.
Skrywers moet dan nog vir Jan Taks, wat met ’n breë glimlag en bak hande staan, belasting op dié verdienste betaal – normaalweg vryskutbelasting van 25%. Uiteraard kan navorsingskostes by die Ontvanger teruggeëis word, maar dit is ’n nagmerrie vir die skrywer. Annelie Botes vertel byvoorbeeld dat Jan Taks al haar huis aangedoen het om aftrekkings te verifieer.
Dus, ...
In Suid-Afrika met sy betreklik klein boekemark is skrywers wat voltyds ’n bestaan uit hul ambag kan maak, dus uiters skaars.
Daar is die mooi staaltjie oor die Nobelpryswenner JM Coetzee, wie se boeke altyd heel eerste in Nederlands verskyn voordat dit drie maande later in Engels vir die res van die wêreld beskikbaar is.
Die rede hiervoor is ’n belofte wat Coetzee uit lojaliteit aan sy huidige Nederlandse uitgewer gemaak het. Toe sy oorspronklike uitgewer in Nederland nie meer kans gesien het om sy boeke te publiseer nie, omdat die aantal verkope na hul mening nie genoeg was nie, het Coetzee na Eva Cossee se uitgewery oorgeskuif. Cossee het die belangrikheid van die skrywer gerespekteer.
’n Jaar ná dié skuif het Coetzee die Nobelprys vir letterkunde gewen en sy verkope het die uitspansel binnegeskiet.
Kommentaar
Baie dankie Melt vir hierdie insiggewende artikel. Soos dit is, is daar min skrywers in Suid-Afrika wat ’n lewe uit skryf kan maak. So moet ons maar soos al die ander tale in ons land, Engels lees.
Baie insiggewend, dit bly steeds 'n biiterpil alhoewel om te dink al die kostes gepaard met die uitgee van 'n boek en kan die staat self nog nie iets teenoor dit doen a.g.v die hoë taks op 'n skrywer te verlaag, sal dit nie dalk ook hlep om meer boekfeeste te nader nie met opkomende skrywers se werke tevore te bring nie?
Nee dankie ... ek lees nie in Engels nie .... ek verkies om in my Taal AFRIKAANS te lees!!!!!
Ai toggie, Isabella met die 5 uitroeptekens: die artikel gaan nie oor taaltrots nie - kan mens soo eng wees in 2020? Maw jy ignoreer maar net die skatte uit Afrika en byv die Engelse vertalings uit die Skandinawiese lande?
Waar die artikel wel tekort skiet is dat die rol van biblioteke geen vermelding kry nie. Verder: die feit dat baie lesers GEEN nuwe boeke of tydskrifte aankoop nie, verdien navorsing op M of D vlak.
M.i. behoort die artikel verpligte leesstof vir Biblioteekkunde/Inligtingkunde 101 te wees.
Hierdie artikel lees soos die verklaring vanaf die munisipaliteit oor waarom belasting verhoog moet word. Dit verduidelik mooi al die uitgawes en regverdig dan waarom lesers so baie moet betaal vir boeke en waarom skrywers so min van die verkoopsprys ontvang. Die artikel faal egter om meer te verklaar waarom daardie uitgawes so hoog is. Byvoorbeeld, waarom kry 'n proefleser R7200 om 'n 60K woorde manuskrip te lees, maar daar moet 1000 eksemplare verkoop word teen volprys vir die skrywer om dieselfde bedrag te ontvang? En dan kry die ontwerper slegs R6000, wanneer ons almal weet dat die meeste boeke verkoop op hul buiteblad, veral die van nuwe skrywers. Die redenasie oor e-boeke hou ook nie water nie, want die prysverskil op Amazon tussen die papierboek en die e-boek van "Donkerdrif" is (vandag) slegs R11.83. So is dit regtig wat dit kos om 'n 466-bladsy boek te druk, versend en te stoor: twaalf rand? My ouma het altyd gesê dat 'n prys is wat 'n idioot daarvoor sal betaal. Die hoë koste van boeke het min te doen met die uitgawes van produksie. Dis alles gebaseer op hoeveel ons, die lesers, bereid is om te betaal om in Afrikaans te lees.
Insiggewend .