Hinterland stel teleur op menige vlakke

  • 0

Hierdie toneelstuk, waarvan die inhoud beslis potensiaal getoon het, was onsuksesvol as gevolg van ’n swak teks en verbeeldinglose regie. Die nalatige kostuum- en rekwisiete-keuses het ook bygedra tot die afbreuk van hierdie toneel.

Hinterland beeld ’n fiktiewe ontmoeting tussen Cecil John Rhodes en Sol Plaatje in 1899 uit. Volgens die meeste geskiedkundiges was Rhodes homoseksueel en alhoewel hy Christen-waardes verkondig het, was hy rassisties. Sol Plaatje, gespeel deur Nhlakanipho Manqele, word deur een van Rhodes (gespeel deur Martin le Maitre) se bevelvoerders as die kolonis se vertaler en sekretaris aangestel. Daar ontwikkel dan ’n onwaarskynlike vriendskap tussen hierdie twee mans wat uit teenoorgestelde spektrums van die samelewing kom. Rhodes ontwikkel romantiese gevoelens vir Plaatje, wat lei tot die einde van sy werksloopbaan onder Rhodes. Plaatje word ’n joernalis en bevraagteken die leë beloftes wat Rhodes gemaak het in verband met werkerstoestande vir swart mense. Wanneer Plaatje Rhodes oor hierdie onreg konfronteer, word die kolonis se planne, wat die uitbuit van inheemse swart mense insluit, ontbloot. Werklike gebeure uit die geskiedenis vervleg met fiktiewe gebeure, met die gevolg dat die storie ’n mengelmoes word en die gehoor tot ’n sekere mate verlore raak in hierdie geloofbare voorstelling.

Hierdie verbeeldingsreis word onderbreek deur rekwisieteflaters, onvanpaste kostuums (soos Rhodes se te groot onderbaadjie en die skinker se oorlogstewels) en swak-nagevorste musiekkeuses tydens toneelwisselings wat geen duidelike relevansie tot die stuk toon nie (een van die musiekstukke is uit die ballet Swan Lake geneem). Manqele en Le Maitre doen hulle bes met die swak teks en regie wat hulle het, maar Frank Graham as die dokter kom onseker in sy rol voor en is dus onoortuigend. Dit lyk asof hý eerder as die siek Rhodes ernstige versorging benodig.

Akteurs is onsensitief teenoor mekaar se in- en uitgange en maak onsekere rondskuiwings tydens toneelwisselings.

Algehele koördinasie kom kort in hierdie produksie van Hinterland. Die woorde van Cecil John Rhodes geld vir hierdie toneelsuk: “So much to do, so little done.”


Hinterland
se laaste opvoering by die Nasionale Kunstefees was Sondag 30 Junie.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top